Kopbeserings eis tweede toetsspeler in twee dae

Illustrasie: Wêreldrugby

ʼn Tweede toetsspeler binne twee dae het sy uittrede uit rugby op grond van mediese advies rakende kopbeserings aangekondig.

Uit Skotland word berig dat die Skotse heelagter Peter Murchie (31) Vrydag gesê het ʼn reeks kopbeserings die afgelope paar jaar het hom genoop om die spel te laat vaar.

Hy het sy buiging in 2013 teen die Springbokke op Nelspruit gemaak, en nog een van sy drie toetse was in 2014 teen die Bokke.

Murchie se uittrede volg ʼn dag nadat die gewese Kanadese kaptein Aaron Carpenter (34) sy uittrede om dieselfde rede aangekondig het.

Laasgenoemde het ʼn rekordgetal van 80 toetse as losvoorpeler en haker vir Kanada gespeel, en aan drie toernooie om die Wêreldbeker deelgeneem.

Dié twee is die jongste hoëprofielslagoffers van ʼn neiging in rugby wat toenemend kommer wek, en aan die spel se beheptheid met grootte en krag gewyt word.

Ondanks klaarblyklike sterk stappe deur die rugbybase om kopbeserings en harsingskudding teen te werk, oortuig die eerlike toepassing van die voorskrifte nie deurentyd nie.

Ierland is die afgelope twee jaar of wat die kwaaiste getref met spelers soos Declan Fitzpatrick (stut, sewe toetse), Kevin McLaughlin (slot en losvoorspeler, agt toetse), Nathan White (stut, 13 toetse) en Dave McSharry (ʼn senter in die nasionale oefengroep) wat die spel weens herhaalde hoofbeserings laat vaar het.

Ander bekende slagoffers in dié tyd sluit die Bokslot Alistair Hargreaves (vier toetse) en die Walliese losvoorspeler Jonathan Thomas (67 toetse) in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Hulle tree uit na ‘n REEKS kop beseeings? Tog wag hulle dat hulle nog eers ‘n fortuin dollars en ‘n bewese uitree ouderdon bereik vior hul die besluit neem. Beserings kon dan nie so erg gewees het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.