Korter Britse Leeus-toer oor swak SA rugbygehalte

Dis nog vier jaar voor die 2021-toer van die Britse en Ierse Leeus deur Suid-Afrika, maar reeds blyk dit dat onder meer die swak plaaslike rugbygehalte ondersteuners van die geleentheid sal ontneem om ʼn volle Leeutoer te ervaar.

Die vier Britse unies en Ierland sal slegs vyf toerwedstryde plus die drie toetse speel, berig die media in Brittanje. Hulle is glo bekommerd dat daar nie sewe wedstryde benewens die toetse is waar Suid-Afrikaanse spanne hulle behoorlik sal kan toets nie.

Dit is noodsaaklik dat hulle voor die toetse stewige teenstand kry, is berig. Net vyf wedstryde teen gehaltespanne plus die drie toetse sal dus op die 2021-toer gespeel word.

♦  Die rol van die Premierliga se klubs in die verkorting van die toer – en ook die voorafgaande toere die afgelope jare – moet natuurlik nie onderskat word nie.

Hulle is ongeneë om hulle laaste ligaverpligtinge, insluitende die uitspeelwedstryde, met verswakte spanne te speel omdat van hulle beste spelers op toer is.

♦  Die Leeus het op hulle onlangse toer na Nieu-Seeland tien wedstryde, insluitende drie toetse, gespeel. In 2005 was dit elf wedstryde met nog een in Argentinië op pad na Nieu-Seeland.

Daarna is die 2009-toer na Suid-Afrika na tien wedstryde gesny. In 1997 is 13 wedstryde en in 1980 18 wedstryde insluitende vier toetse in Suid-Afrika gespeel.

♦  Met die uitsondering van die Goue Leeus, wat 10-74 verloor het, het al die ander spanne in 2009 redelike teenstand gegee.

Die Royal XV, wat uit Hoëvelde spelers bestaan het, is gekies uit spelers van die Luiperds, Griekwas, Pumas, Griffons en Valke. Hulle het in die eerste toerwedstryd met 25-37 verloor.

Die Vrystaat Cheetahs het naelskraap, met 24-26, verloor; die Sharks het met 3-39 slae gekry, die WP het met 23-26 verloor en die Southern Kings, wat uit spelers van die kusstreke gekies is, het 8-20 pak gekry.

Willem de Waal van die Opkomende Bokke het op ʼn baie nat Nuweland waar die wind stormsterk gewaai het, in die doodsnikke die drie van Danwel Demas van naby die kantlyn verdoel om die wedstryd met 13-elk gelykop te laat eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mielie ·

Miskien moet n span samgestel word met al die SA wat oorsee speel om ook teen die Leeus te speel. Dit behoort n baie kompeterende span te wees.

Callie ·

Dan sit SA bod in vir wereldbeker. Lagwekkend. Rugby se afwaartse tendens agv kwotas in SA veroorsaak sulke vernederings. Het iemand al regtig gedink waar bokke in 2023 gaan wees. Waarborg dit sal die ewebeeld van ons trotse swart SA sokkerspan wees. Wow.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.