Koue storte … en ʼn bord kos in die lou oond

Kieran Read speel weer klubrugby (Foto desdeabajorugby.com)

In die ou dae het almal nog klubrugby gespeel: Frik du Preez, Naas Botha, Danie Gerber en Morné du Plessis.

Wanneer jy die dag by Tukkies, Polisie of Weermag aangeland het, moes jy jou pad boontoe in die spanne oopwurm – eers in die proewe om hopelik een van die keurders langs die veld se oog te tref en dan in die seisoen jou pad van die o.19 F-span af  boontoe oop te veg.

Jy het op jou eie fiks geword voordat jy saam met die groep in Januarie begin sweet het. Daar was nie eintlik sprake van gimnasiumwerk nie, daar was nie fisioterapeute en biokinetici nie. As jy ʼn skopper was, het jou eie bal gehad en ure op jou eentjie geoefen of dryfingkies gespeel.

Dis waar die talente van menige speler raakgesien is, langs LC de Villiers se magdom velde, by die ou Polisie-kollege in Pretoria, by Yskor, die Uile (Oostelikes), die Lare (Adelaar), Lappietsruie (Harlequins) en die Likkewane ( Gevangeniswese).

Só was dit ook in Johannesburg en omgewing, by die ou Diggers in Springfield waar die skape op die buiteveld gewei het, by Poorte (Roodepoort), Leases (Rand Leases), die Teine (Randfontein), Tonners (Alberton), Pirates en Wanderers.

Dis waar die koue storte ná wedstryde op jou gewag het, waar jy in die klubhuis saam met jou spanmaats en teenstanders die wedstryd oor en oor kon speel totdat die bestuurder “laaste ronde” moes roep en dan heel later die ligte afgeskakel het.

Daar was nie selfone nie, net ʼn tiekieboks wat meestal buite  werking was. Mammie het geweet dat jy Dinsdae- en Donderdagaande eers laat by die huis sou wees; jou bord kos was in die lou oond.

Dis hoekom dit so lekker was om te lees dat die All Black-kaptein Kieran Read en die Walliese legende Shane Williams, weer klubrugby (al is dit net vir ʼn klein rukkie) speel.

Read maak sy terugkeer ná ʼn gewrigsoperasie vir die Universiteit van Christchurch en Williams (40) het sy bande hervat by sou ou klub, Amman United, in die Walliese valleie waar hy sy eerste tree na roem gegee het.

Williams het volgens die BBC gesê hy sal glad nie in sak en as wees as hy nie vir die eindstryd van die Nasionale Bekerreeks teen Caerphilly speel nie, want hy gun sy klub-spanmaats dit, hulle verdien dit meer as hy.

“Ek wil nie gierig wees nie. Ek was al daar, ek het die t-hemp. Ek is eintlik nie nodig nie, ek doen dit vir my broers, “ het een van Wallis se beste vleuels nog gesê.

Dís waar rugby wortel skiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DP ·

Nou is dit net makro skole, Tuks-BBRU Akademie en verder niks. As jou pa iewers iets reg gedoen het, kry jy geleenthede. Vra maar vir Tuks Younguns se een flank. Sy daddy was mos iets iewers gewees by die BBRU en SARU en alhoewel hy nie eens sy skool se 1ste span gereeld kon haal nie, is hy beloon met ‘n BBRU kontrak en speelkans by TUKS.

Nico K ·

En as jy deesdae nie op skool ‘n kontrak kry nie maak jy dit nie sommer nie. Ek weet van ouens wat tot op 20 geen Cravenweek, SA skole of provinsiaal onder 20 gespeel het nie, en eindelik beroemde rugbyspelers geword het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.