Kraai oor veggees, maar stadig oor die klippe

Die Springbokke se vertoning teen die All Blacks in Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap was soos manna uit die hemel, maar ons moenie perspektief verloor nie.

Ja, die Bokke kon ewegoed gewen het, want daar was weer passie en veggees.

Ja, die voorspelers het getoon dat hulle kan saamgesels, dat hulle kan meeding in die vaste fasette waar die grondslag gelê word en dat hulle nie vir die All Blacks hoef terug te staan nie.

Ja, Malcolm Marx het ʼn vertoning van wêreldgehalte gelewer. Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit was prima en Steven Kitshoff en Lood de Jager het ook meer as hul man gestaan.

Agterlangs was alles nog nie seepglad nie. Ross Cronjé was besluiteloos, Elton Jantjies is nog nie die antwoord op losskakel nie en daar is steeds kwelvrae oor die agterste driehoek.

Sonder om enigsins negatief oor die Bokke te wees, kom ons ontleed die All Blacks, soos wat die afrigters, konsultante en die bestuurspanne weekliks hul salarisse verdien.

Heelagter: Ben Smith was nie beskikbaar nie, want dis sy sabbatsjaar. Die jong Jordie Barrett is steeds langs die kantlyn en Israel Dagg (heelagter/vleuel) is ook beseer.

Regtervleuel: Nehe Milner-Skudder, wat een van hul gevaarlikste spelers op die aanval was, ontwrig sy skouer en loop ʼn groot deel van die wedstryd mis. Hy word deur die plaasvervanger-heelagter David Havili vervang met Damian McKenzie wat uit posisie vleuel toe moet skuif.

Losskakel: Beauden Barrett, ongetwyfeld die beste losskakel in wêreldrugby en die spil waarom die aanvalle draai, kan weens harsingskudding nie voortspeel nie en word deur Lima Sopoaga vervang.

Stutte: Owen Franks en Joe Moody, hul voorkeurkeuses, is albei beseer.

Slot: Brodie Retallick word nie oorweeg nie, aangesien sy vrou, Niki, ʼn miskraam gehad het en hy in Nieu-Seeland agtergebly het.

Flank: Jerome Kaino is steeds nie vergewe nie (hy was wel in die groep), nadat hy ʼn paar weke gelede die kat in die donker geknyp het.

Dan het die All Blacks Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Buenos Aires teen die Poemas gespeel en het hulle ná ʼn lang reis van byna 19 uur oor Sao Paolo eers Maandagmiddag in die Kaap aangekom. Die span het ook reeds die Rugbykampioenskap gewen en daar was dus minder op die spel.

Die idee is glad nie om die Bokke se vertoning in twyfel te trek nie, want hulle verdien ʼn klop op die skouer.

Verskeie staatmakers soos Warren Whiteley, Jaco Kriel, Frans Malherbe en Coenie Oosthuizen is ook beseer, en Pat Lambie het soos ’n hele paar ander Bokke die pad Frankryk toe gevat.

Dis net ʼn wekroep om nie op ons louere te rus nie; dat die harde werk nóú eers wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Robert ·

Pieter, kom ek gee jou raad. Moenie die All Blacks ophemel met watter spelers buite aksie is en nie kon speel nie en dan sê jy wil nou nie eintlik die Bokke se vertoning in twyfel trek nie. McKensie is ‘n beter speler as wat Ben Smith is en jy gaan hom moeilik uit die span hou. Beauden Barrett is nie die speler wat hy was nie. Sy skoppe pale toe is oor die algemeen swak en hy het nie meer die impak soos vroeer nie.

Waghond ·

En Bismark, Combrink en Ruan Janse van Rensburg, Pollard, e.d.m.

Jaco Weber ·

Die skrywer stel dit baie mooi in perspektief. Oor Marx, Etzebeth en Du Toit se spel kan ons juig, maar daar agterlangs (en voor by Dreyer) ….

Callie ·

Skrywer is reg. Logika, dan sal jy verstaan dat n span so swak soos bokke nie in een week so goed kan wees sonder faktore soos ongemotiveerde AB span en alles wat skrywer noem nie

Nico ·

Stem saam met skrywer. Toetie en Brendon nie want hille het mos duidelik gesê hulle stel nie in wen belang nie.

Alwyn Burger ·

Brendan Venter kon homself net nie goed verwoord nie. Hy het probeer sê wat Dr. Craven gesê het : ” Niks is groter as die spel nie”. Ons filosofie is verkeerd “Wen ten alle koste”. Wen is net deel van die spel….dit is nie groter nie. As ons die spel bemeester sal die wen vanself kom. Om net te wil wen is maar net ñ simptoom van ñ minderwaardigheidskompleks

Sjo! ·

Ek skat die all blacks het dan n helse minderwaardigheids kompleks ne, maar weet jy wat dit lyk of dit werk vir hulle om minderwaardig te voel want hul wen meeste van hul wedstryde met jou redenasie….
Wat n klomp tjol praat jy nie??? Jammer maar regtig jy klink amper soos Ac wat goeie aspekte vat uit n wereld rekord nederlaag….
Jy moet speel met trots !Jy moet streef om die beste te wees in jou posisie! Beide die faktore val kort in die Springbok span oor Geld en politiek …Tweede beste het maar die normale geword in Suid Afrika….ek dink persoonlik dis eintlik waar die minderwaardigheids kompleks le….

Nugter ·

Alwyn, ek is jammer om jou te ontnugter maar ou Craven se filosofie van “niks is groter as die spel nie” het al lankal geswig voor Mammon… Om nie te wil wen is maar net ‘n simptoom van geen trots.

Veritas ·

Moet nie dat die telling julle flous nie. Die All Blacks het swakker as gewoonlik gespeel en nie die Bokke beter nie. Hoekom sal jy jou beste gee wanneer jy reeds die titel gewen het ? Die All Blacks was reeds met die een voet op die vliegtuig maar het net genoeg gedoen om seker te maak dat hulle ‘n seisoen afsluit met ‘n 100% wenrekord. Die Europese toer later vanjaar, sal vir ons ‘n beter maatstaf wees van waar Springbokrugby tans staan.

bloues ·

Pieter Kruger, dankie tog daar is mense wat oopkop na die wedstryd gekyk het.
Ek stem met jou saam. Waar kry jy n All Black span wat soveel hanteer foute ens maak.
Hierdie was n kans vir die Bokke om die ongemotiveerde span van die AB te klop.
Die Bokke sal lank wag om weer so n kans te kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.