Krap Ackers waar dit nie jeuk nie?

Johan Ackermann

Johan Ackermann

Is dit `n waagstuk of `n meesterskuif? Die Lions se afrigter, Johan Ackermann, het die Bok-losskakel Elton Jantjies vir Saterdag se Superrugbywedstryd teen die Rebels binnesenter toe geskuif, met Marnitz Boshoff in die nr. 10-trui.

Dis `n redelike algemene verskynsel vir `n afrigter om `n losskakel binnesenter toe te skuif, maar dit gebeur baie selde dat `n binnesenter suksesvol losskakel speel.

Wanneer `n skuif soos dié van Jantjies slaag, word die breier op die skouer geklop en word hy geloof  vir sy waagmoed, maar as dit nie gebeur nie, word daar gesê hy het gekrap waar dit nie gejeuk het nie. Ek kan heeltemal verkeerd wees, maar ek glo Ackers se skuif kan in die laaste kategorie val.

Die Bulls se afrigter, Frans Ludeke, het die Bokke se losskakel Handré Pollard verlede seisoen vir een wedstryd binnesenter toe geskuif, maar nog nie weer nie.  Dit word baie keer gedoen as daar beserings is, maar dit bly `n waagstuk.

Daar is baie voorbeelde waar dit met welslae toegepas is. Kitch Christie het Hennie le Roux met baie groot vrug op binnesenter in die Wêreldbekertoernooi in 1995 gebruik. Le Roux en die losskakel, Joel Stranksy, het baie gou ingeskakel en mekaar aangevul want albei het dieselfde oor rugby gedink en gedoen.

Henry Honiball het veral in sy beginjare rondgewals tussen binnesenter en losskakel. Dalk was dit omdat hy eers met Naas Botha en toe met Stransky en Le Roux om die nr. 10-trui moes meeding. Ná hul uittrede was Honiball die eerste keuse op losskakel.

Engeland het Jonny Wilkinson `n paar keer ook as binnesenter gebruik (hy was in sy beginjare `n binnesenter by die Newcastle School of Rugby, waar hy saam met die oud-All Black Inga Tuigamala en die Skot AlanTait) meegeding het. Mike Catt was ook `n losskakel wat senter toe geskuif het.

Daar is `n hele paar gevalle in Nieu-Seeland. Dink maar aan Aaron Mauger en Luke McAlister, wat albei eers losskakels was en in toetse binnesenter gespeel het. McAlister het later weer teruggeskuif losskakel toe.

Dan Carter is `n hele paar keer deur die Crusaders op binnesenter gebruik en die Australiërs, en nou  ook Toulon, kies Matt Giteau op losskakel en binnesenter. Die Fransman Thierry Lacroix was ewe knap (ook toe hy destyds vir Natal gespeel het) op losskakel en binnesenter.

Die groot vraag is, hoekom word dit gedoen? Word die span daardeur versterk, en word die talente van die tweede losskakel nie op binnesenter vermors nie? Die Lions se spelpatroon laat dit toe, maar sal dit op die veld werk?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Benito Odendal ·

Dis ‘n skuif wat die bulle ernstig op die proef moet stel om ‘n heel ander rede.JJ Engelbrecht kom net nie reg nie en ploeter en huppel week na week die veld vol terwyl Jaques Louis Potgieter op die bank verkluim…..sekerlik het Jaques Louis al bewys dat hy ‘n lyn kan reguit maak en ‘n gaping kan vat…..die Bulle het nie meer flair in die agterlyn nie en die ous is hou vir hou net gemiddeld….hierdie skuif kan net ‘n verandering in die saai agterlyn bring,Jan beter laat lyk as wat hy nou lyk , en dalk die oemf wees waarna die Bulle so naarstigtelik soek .Gee JJ kans om weer op vorm te kom ….Jesse is ‘n blessing en en who knows wat ‘n groter blessing kan JJ word as sy kop weer reg is en hy gedwing word om homself weer te bewys !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.