Kriel: terugslag vir Bokke en die Lions

Jaco Kriel (Foto GB Jordaan).

Die Springbokke sal op die jaareindtoer in November sonder hulle Lions-flank Jaco Kriel moet klaarkom – en die Lions sal in aanstaande jaar se nuwe Super15-reeks ook die eerste paar wedstryde sonder hom moet speel.

Die Lions Company het bekend gemaak dat Kriel se skouer Dinsdag geopereer sou word.

Kriel, wat die Lions in die eindstryd van die Superreeks teen die Crusaders aangevoer het, het sy skouer tien dae gelede in die toets teen die Wallabies in Perth beskadig. Hy is toe teruggestuur Suid-Afrika toe.

Kriel sal sowat ses maande van die veld af wees, dus moontlik tot middel na einde Maart aanstaande jaar.

Die Superreeks sal heelwaarskynlik weer soos vanjaar oor die voorlaaste naweek van Februarie begin.

♦  Kriel is nie die enigste Lions-speler wat onder die mes deurloop nie.

Die Lions-slot Lourens Erasmus het teruggekeer van Japan af waar hy ná vanjaar se eindstryd in die Superreeks gaan klubrugby speel het. Hy het sy knie beseer en moet ook ʼn operasie ondergaan.

Erasmus sal sowat drie maande buite aksie wees. Hy sal dus die Lions se voorseisoense voorbereiding misloop, maar behoort slaggereed vir die Superreeks te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.