Kriteria vasgestel vir Superrugby-besluit

Daar is Dinsdag besluit op die kriteria wat sal bepaal watter vier Suid-Afrikaanse  franchise’e bly en watter twee aanstaande jaar nie meer deel van die Superreeks sal uitmaak nie.

SA Rugby het in ʼn mediaverklaring bekend gemaak dat die ses uitvoerende hoofde van die Suid-Afrikaanse franchise’e en vier lede van SA Rugby besluit het op die volgende hoofkriteria: die finansiële en ekonomiese volhoubaarheid van ʼn franchise; die volhoubaarheid van ʼn franchise se ondersteunersbasis; die span se vertonings; die stadion; en ook die stadiongeriewe.

Hierdie kriteria is daarna verder verfyn en in sub-kriteria onderverdeel wat egter nie in die verklaring bekend gemaak is nie. Daar is glo ook riglyne vir die meting van die kriteria vasgestel.

SA Rugby sal nou na aanleiding van die kriteria toepaslike inligting versamel en saamvoeg om tot ʼn gevolgtrekking te kom wat in die eerste plek aan die franchisekomitee voorgelê sal word.

Daarna sal dit aan die uitvoerende bestuur van SA Rugby en dan aan die hoofraad van SA Rugby vir goedkeuring voorgelê word.

Die president Mark Alexander, sy adjunk Francois Davids, die visepresident James Stoffberg en die uitvoerende hoof Jurie Roux was die vier verteenwoordigers van SA Rugby.

Die franchisekomitee sal oor die volgende twee tot drie weke weer bymekaarkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Daar is slegs een kriteria en dit is ‘n wenspan.Wenspanne sal altyd goed ondersteun word,borge lok en finansieël sterk wees en hul geriewe instand kan hou en verbeter.

Verloorders ,verloor ondersteuners en borge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.