Kwagga en kie onder die bestes in Japan

Kwagga Smith. Foto: Gianluigi Guercia/AFP

“Kwagga Smith is ’n masjien. Hy laat my dink aan daardie kinders wat in o. 7-wedstryde speel. Hy is die kleinste ou op die veld, maar hy mik altyd om die grootste ou plat te trek. Hy het geen vrees nie,” het Nemani Nadolo destyds op sosiale media gesê.

En dit is duidelik dat die Japanse rugbykenners met die Fidji-senter se mening saamstem want Smith is saam met Malcolm Marx, Ruan Botha, Lappies Labuschagne en Willie le Roux in die Topliga se span van die seisoen ingesluit.

Die span sluit ook All Blacks-sterre soos Beauden Barrett, TJ Perenara en Brodie Retallick in.

Labuschagne, wat onder meer vir die Shimlas en die Cheetahs gespeel het, is ook saam met ander Suid-Afrikaans gebore spelers soos Gerhard van den Heever, Shane Gates en Wimpie van der Walt in Japan se nasionale span opgeneem.

Volgens Smith kan Japanse rugby van krag tot krag gaan.

“Die Japannese spelers is talentvol en hulle is nie bang om hard te werk nie. Ek voorspel dat hulle ’n krag in wêreldrugby sal word,” het hy in ’n destydse onderhoud met Maroela Media gesê.

Die Topliga het die afgelope naweek tot ’n einde gekom met die Wild Knights wat met die louere weggestap het.

Die Topliga-span van die seisoen: Willie le Roux (heelagter), Tevita Li (regtervleuel), Dylan Riley (buitesenter), Michael Little (binnesenter), Kenki Fukuoka (linkervleuel), Beauden Barrett (losskakel), TJ Perenara (skrumskakel), Kwagga Smith (agtsteman), Lappies Labuschagne (flank), Ben Gunter (flank), Ruan Botha (slot), Brodie Retallick (slot), Shinnosuke Kakinaga (stut), Malcolm Marx (haker) en Keita Inagaki (stut).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.