Kwagga gaan saam toer

Kwagga Smith wil deel wees van Rassie Erasmus se Wêreldbeker-planne en hy behoort sy terugkeer vir die Lions op hul oorsese toer te maak. (Foto: GB Jordaan)

Die Brumbies, Chiefs en dan die Crusaders. Dít is die moeilike toer wat op die Lions wag.

Swys de Bruin se span het verlede week op ’n skouspelagtige wyse teen die Sharks op Emirates Airline Park in duie gestort, net toe dit gelyk het asof daar ’n effense herlewing in Johannesburg kan wees.

Die Lions het 5–42 op hul tuisveld teen die Durbaniete verloor en hoewel hulle in hul vorige kragmeting met die Sunwolves in Singapoer afgereken het, lyk hulle vanjaar hoegenaamd nie soos die trop wat in drie agtereenvolgende Superrugby-eindstryde gespeel het nie.

Of die oorsaak nou voor die deur van die massa-uittog van spelers, ontydige beserings of net die gedurige getorring aan die beginspan lê, is debatteerbaar. Waarskynlik kan die skuld op al drie deure gepak word.

Goeie nuus is dat Kwagga Smith genoeg van sy besering herstel het om saam met die Lions op hul toer na Australië en Nieu-Seeland te gaan.

Smith was voor sy besering sy gewone woelwaterself en het met ’n paar speler-van-die-wedstryd-vertonings vorendag gekom.

Een swaeltjie maak egter nie die somer nie. Net so maak een Kwagga nie sommer die Lions-trop nie, maar sy teenwoordigheid en kanniedoodhouding kan baie tot die span se espirit de corps bydra.

Die Lions se ringkoppe het ook ’n paar spelers op bystand geplaas vir hul toer, onder wie Warren Whiteley.

Die oud-Springbokkaptein het ’n borsspierbesering in die Egon Seconds-fiasko op Nuweland beseer en is sedertdien op die krukkelys.

’n Lions-span met Whiteley in die beginspan lyk net meer soos ’n eenheid, terwyl ’n mens jou ook wil verstout deur te sê hulle sou waarskynlik ook nie so maklik kop verloor het teen die Sharks as hy aan die stuur van sake was nie.

Maar om Whiteley te gou terug op die veld te kry, is ook nie wys nie.

  • Lions se toerbepalings:

13 April teen die Brumbies om 11:45

19 April teen die Chiefs om 09:35

26 April teen die Crusaders om 09:35

  • Die toerspan:

Voorspelers: Carlu Sadie, Cyle Brink Wilhelm van der Sluys, Sti Sithole, Frans van Wyk, Hacjivah Dayimani, Kwagga Smith, Johannes Jonker, Malcolm Marx, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Nathan McBeth, Rhyno Herbtst, Robbie Coetzee, Stephan Lewies.

Agterspelers: Boeboes Coetzee, Ruan Combrinck, Ross Cronje, Elton Jantjies, Aphiwe Diyantyi, Courtnall Skosan, Franco Naude, Sylvian Mahuza, Nic Groom, Lionel Mapoe, Gianni Lombard, Franco Naude.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Dit is verstommend vir my altans dat skrywer nog twyfel wat die oorsaak is van die Leeus se swak vertonings en dan wonder of dit (a) massa uittog van spelers is (b) ontydige beserings of (c) gedurige veranderinge aan begin span of aldrie.

(a) massa uittog van spelers lei tot (b) en (c). Wanneer jy ou strydrosse soos bv Marx aanhoudend moet speel raak die kans op beserings al hoe groter en lei verloor tot groter
eksperimente om kombinasies te vind.

Selfs op die ramspoedige toer na NZ in 1956 was mense maar al te bly dat die woelige
Daan Retief tog gekies vir ‘n toets nadat hy aanvanklik weggelaat is.Die Crusaders se
sukses lê daarin dat hul jaar na jaar ‘n ken ervare spelers in sleutelposisie behou en dan nuwelinge stelselmatig kan inbloei in die span,totdat hul kan oorneem.

Jy kan nie 13 spelers verloor en hoop op sukses nie.Daarom is dit jammer dat die Sharks
nou al sleutelspelers gaan verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.