Kwagga gee ʼn tree nader aan die Springbokspan

Kwagga Smith – is grootte dan al wat tel? (Foto: GB Jordaan)

Jare gelede, toe Kitch Christie nog Transvaal se rugbyspan afgerig het, het hy op ʼn dag by ʼn oefening gesê hy sou wat wou gee om die Engelse flank van Leicester Neil Back af te rig en in sy span te hê.

Dit was in die dae toe joernaliste nog toegelaat is om oefeninge by te woon, waar ʼn afrigter sy kennis en insig met jou gedeel het, en toe jy eerstehands kon ervaar hoe spelers se vaardighede (en ook jou eie) verbeter het.

Back het toe nog nie vir Engeland gespeel nie, want die destydse Engelse afrigter Dick Best het hom as te klein (1.78 m en  93 kg) beskou. Hy het wel onder Jack Rowell sy buiging in 1994 vir Engeland gemaak en voortgegaan om 66 toetse te speel, en ook vyf toetse vir die Britse en Ierse Leeus op drie toere in 1997, 2001 en 2005.

Hy het in drie Wêreldbekertoernooie in 1995, 1999 en 2003 (altesaam in 13 wedstryde) gespeel en was ʼn lid van die Engelse span wat in 2003 in Sydney die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

Back, ʼn uiters lojale, fikse, fisieke en vaardige speler, het in 18 seisoene 339 keer vir Leicester Tigers gespeel. Aan die toetsfront het hy in een van mees vaardige oopkantflanke ontwikkel en saam met Richard Hill en Lawrence Dallaglio in een van die beste losvoorspelerkombinasies ontwikkel.

In sy toetsloopbaan het hy 17 drieë gedruk en is hy steeds die enigste Engelse voorspeler wat ʼn skepdoel deur die pale kon jaag.

Steeds te klein?

Dit bring my by Kwagga Smith (1.80 m en 95 kg), wat in postuur die amperse ewebeeld van Back is.

In sekere kringe word Smith ook as te klein beskou.

Te klein vir wat? Om sy teenstanders plat te loop, of om drieë te druk of losballe uit te grawe?

Met die Lions- en Bokflank Jaco Kriel nog langer langs die kantlyn as verwag vanweë ʼn skoueroperasie, kan die deur oplaas vir Smith oopgaan.

Hy sou aanvanklik aanstaande maand vir die Blitsbokke op die Statebondspele aan die Goudkus in Australië gespeel het, maar hy bly nou op eie versoek by die Lions se Superspan aan, want sy Springbokdrome (hy is reeds ʼn Blitsbok) het opnuut opgevlam.

Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sal geen fout begaan as hy Smith sou betrek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fire's ·

Nee Rassie sal verseker nie ‘n fout maak om vir Kwagga in te sluit nie. Kwagga is tans ons beste flank.

Nico K ·

Ek glo nog altyd by losvoorspelers moet jy ‘n kombinasie kies. Die lang man vir agter in die lynstane, die sterk man vir dryf om die skrum en die beweeglike een om die losbal te jaag. En dit is hoekom ek ook vir Kwagga sal kies. Ons het nie ‘n ander baljagter in SA op die oomblik nie.

Cjan ·

Kwagga is huidiglik ons beste baljagter flank. Daar is nie nog een soos hy nie behalwe Jaco Kriel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.