Kwagga kan ʼn Bok word

Kwagga Smith( (youtube)

Kwagga Smith (youtube)

Kwagga Smith … Jean-Pierre Rives

Rives, wat net 1,78 m lank was en 85 kg geweeg het, was een van die beste baljagters van sy tyd. Hy het in 59 toetse vir Frankryk gespeel, 34 keer as kaptein tussen 1975 en 1984. Hy het die Franse bynaam Casque d’Or gekry, wat goue helm beteken.

Rives, wat lang blonde hare gehad het, is aan die begin van sy loopbaan as te klein vir ʼn internasionale flank beskou, maar hy het nie sy gelyke gehad nie.

Hy het nie ʼn bang haar op sy kop gehad nie. Hy het ʼn hart soos ʼn leeu gehad, balle uitgegrawe daar waar ander spelers nie hulle hande wou insteek nie, en hy was ʼn verskrikking op die verdediging.

Daar het byna nie ʼn toets verbygegaan dat hy nie gebloei het nie … letterlik vir sy spanmaats

Smith (1,80 m en 90 kg) is ʼn ewebeeld van Rives. Hy het ook die hart van ʼn leeu, is vinnig en balvaardig, krap balle uit en plaas sy lyf vir sy spanmaats op die spel.

Die Bokafrigter, Allister Coetzee, sal binne die volgende paar dae ʼn plaasvervanger vir die baljagter Francois Louw moet soek, wat in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks in Durban ʼn dyspierbesering opgedoen het. Louw sal volgens sy Engelse klub Bath tien weke langs die kantlyn wees.

Louw was een van nege oorsese spelers wat Coetzee die afgelope ruk ingespan het. Hy is deur die Iere in die reeks van drie toetse in die skadu gestel en afgesien van die toets teen die Wallabies op Loftus Versfeld  (watter Bok het nie dié dag uitgeblink nie) het hy nie heeltemal sy peil van die verlede herwin nie.

Moontlike opvolgers? Coetzee hoef nie verder as Smith en sy Lions-spanmaat Jaco Kriel te soek nie. Kriel, wat maar stief behandel is, is reeds ʼn Springbok en van die min spelers wat sy kop die afgelope paar weke kon lig.

Die gewese Bokafrigter Peter de Villiers sê dat Heinrich Brüssow weer ingespan moet word.

Ek het nog altyd hoë agting vir Brüssow gehad, maar dit sal ʼn terugwaartse stap wees om hom weer te kies nadat hy reeds in 2009 amok teen die Britse en Ierse Leeus gemaak het.

Dis nou die kans om spelers wat in Suid-Afrika speel en bly, te beloon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Kwagga het allermins Saterdag soos ‘n Bok gelyk. Inteendeel….

Nico K ·

Ek moet sê dat dinge het darem verander van 30 jaar terug af. Vandag weeg agterspelers nie eers meer 85kg nie. Kwagga is ‘n baie goeie speler maar sy gewig gaan teen hom tel. Ons soek egter ‘n baljagter en ek dink nie dit is Jaco Kriel se sterk punt nie. Ek hou van Brussouw, maar ja hy is nie ‘n lang termyn belegging nie. Waar is Deon Stegman deesdae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.