Kwagga nie onder Rassie se 22 Lions en Stormers vir kamp

Kwagga Smith – is dit ʼn knou vir sy Bokdroom? (Foto: YouTube)

Sal dit vir Kwagga Smith ʼn geval word van die pap wat tussen die hand en die mond op die grond val?

Smith, ʼn groot gunsteling van veral die Lionsondersteuners, het die Blitsbokke midde-in hulle veldtog in die Wêreldsewesreeks die rug gekeer in ʼn poging om die Springbokspan te probeer haal.

Maar dit lyk of dit tevergeefs sal wees. Hy is die week oor die hoof gesien toe die Springbokafrigter Rassie Erasmus 22 spelers van die Lions en die Stormers na aanstaande week se kamp in Vanderbijlpark genooi het.

Die 22-tal trek van 8-11 April saam, ironies genoeg ʼn dag nadat hulle Saterdag in die Superreeks op Ellispark slaags was.

Te veel moet seker nog nie gelees word in wie genooi is en wie nie, maar dit is insiggewend dat daar drie vaskopstutte – Ruan Dreyer, Wilco Louw en Frans Malherbe –  en net een loskop, Steven Kitshoff, in die groep is.

Vaskop bly oënskynlik ʼn probleem.

Dit lyk of Ross Cronjé, verlede jaar se man in die Springboksaal, ook nie goed genoeg geag word nie, hoewel daar tot dusver net een skrumskakel, die opwindende dog onervare Embrose Papier, na die twee kampe genooi is,

Cronjé en die vleuel Courtnall Skosan is nie saam met ander beseerde aanspraakmakers genooi nie.

Albei die huidig beseerde Springbokkapteins, Warren Whiteley, en Eben Etzebeth, wat die leisels by Whiteley oorgeneem het, is in die 22-tal.

Van die Lions se drie senters wat die span die afgelope twee-en-ʼn-bietjie-jaar so goed gedien het, Lionel Mapoe, Rohan Janse van Rensburg en Harold Vorster, is net die buitesenter Mapoe genooi.

Dit wil ál lyk of Damian de Allende die binnebaan vir die Bokspan se binnesenterposisie het.

Ruan Combrinck, wat verlede jaar weinig gespeel het en deur Allister Coetzee ná sy eerste besering geïgnoreer is, is ná sy tweede operasie waarvan hy pas herstel het, wél deur Erasmus nadergetrek.

Daar was geen fisieke aktiwiteite op die veld tydens die afgelope kamp nie. Erasmus sê wel die kamp was intensief. “Ons het tydens die heelwat binnenshuise sessies ons strategiese denke, en ook die stelsels wat ons vir die toetse teen Wallis en Engeland gereed moet kry, met die spelers bespreek.”

Hy was beïndruk deur die spelers se insette en hul entoesiasme en sê die bestuurspan sien  uit na die oorblywende twee kampe.

Die 22-tal wat Sondag in Vanderbijlpark saamtrek:

Voorspelers

Kyle Brink (flank, Lions), Nizaam Carr (losvoorspeler, Stormers), Ruan Dreyer (vaskop, Lions), Pieter-Steph du Toit (slot, Stormers), Eben Etzebeth (slot, Stormers), Steven Kitshoff (loskop, Stormers), Siya Kolisi (flank, Stormers), Wilco Louw (vaskop, Stormers), Malcolm Marx (haker, Lions), Frans Malherbe (vaskop, Stormers), Bongi Mbonambi (haker, Stormers), Franco Mostert (slot, Lions), Sikumbuzo Notshe (losvoorspeler, Stormers), Cobus Wiese (flank, Stormers), Warren Whiteley (No 8, Lions).

Agterspelers

Andries Coetzee (heelagter, Lions), Ruan Combrinck (vleuel, Lions), Damian de Allende (senter, Stormers), Aphiwe Dyantyi (vleuel, Lions), Elton Jantjies (losskakel, Lions), Lionel Mapoe (senter, Lions), Damian Willemse (losskakel, Stormers).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

docpietza ·

Ai ook maar net weer n afrigter wat sake probeer red, of dans hy ook maar na politiek se pype?
Groot fout Rassie en kie, Groot fout!

bloues ·

Dankie Rassie. Ons weet nou jou kennis oor spelers en hul vermoeë is erg beperk.
Ek hoop jou span kry sommer van die begin af slae en dat dit sal aanhou totdat jy wyser word.

Liza ·

Kwagga moet maak ook oorsee gaan speel, en hulle dan wys waar Dawid die wortels begrawe het! Go Kwagga!!!

Walter ·

Geagte Mnr Rassie… jy gaan ook net 1jaar afrig jy kies klaar die mense wat nie naby ñ springbok trui hoord nie kies net net weer name en has beans.. kom ek word jou hulp afrigter want ek sien dat julle nie fokus nie kies asb mense wat nou goeie rugby speel… Diallende rerig ou maat komaan word wakker asb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.