Kwagga sal nie vir All Blacks terugstaan

Kwagga Smith in aksie teen die All Blacks op die Mbombela-stadion. Foto: Phill Magakoe/AFP.

In 2019 het die Springbokke gelykop teen die All Blacks in Wellington gespeel. En een van die Suid-Afrikaners se groot sterre was ongetwyfeld Kwagga Smith.

In skaars sy tweede toets vir die Springbokke het Smith meer duikslae as hardebaarde soos Duane Vermeulen en Pieter-Steph du Toit uitgevoer. Dan het hy ook twee verdedigers in sy agt lopies geklop en twee keer vir omgekeerde balbesit gesorg.

Nie te sleg vir iemand wat deur baie as te klein vir internasionale rugby beskou was nie, of hoe?

Nou, ’n Wêreldbeker-wennersmedalje en ’n spul toetse later, is Smith ’n gevestigde lid van die Springbokke se Bomb Squad wat die naweek weer teen die einste All Blacks op Ellispark kragte meet.

“Ek het my vyftienman-loopbaan saam met die Lions in Johannesburg begin, maar dit sal Saterdag die eerste keer wees wat ek vir die Springbokke op Ellispark sal uitdraf,” het Smith gesê.

Die vinnige losvoorspeler, wat danksy sy seweservaring ook in die agterlyn kan uithelp, het verlede naweek vir Du Toit in die 47ste minuut van die Suid-Afrikaners se spogsege in die Laeveld vervang.

Maar net soos baie van sy spanmaats is hy ook van mening dat die All Blacks ’n baie gevaarlike span bly.

“Die All Blacks is ’n topspan wat altyd hul bes gee. Dit gaan beslis nie maklik teen hulle wees nie; as hulle ’n kans of twee benut, is ons maar net te bewus van wat kan gebeur.”

Ian Foster, die All Blacks se beleërde hoofafrigter, het ná afloop van die Nelspruit-kragmeting gesê dat hy tevrede was met wyse waarop sy span die Springbokke se rolmaalbewegings gestuit het.

“Daar was inderdaad verlede week nie soveel rolmaalbeweging-strafskoppe aan ons toegeken as wat ons wou hê nie. Tog is dit steeds ’n goeie wapen om in jou arsenaal te hê want dit maak jou teenstanders vinniger moeg,” was die 28-jarige Springbok se reaksie daarop.

Soos reeds genoem, het baie ondersteuners geglo dat Smith se grootte teen hom tel. Hy weeg 95 kilogram, daarteenoor laat Du Toit die skaal op 119 kilogram kreun, terwyl Vermeulen 117 kilogram weeg.

Tog het een van die grootste agterspelers ter wêreld, die Fidjiaan Nemani Nadolo, hom al vantevore op Twitter in Smith se hoek geskaar. Dit is nie altyd die swaarste spelers wat meeste impak het nie.

Die reuse-senter van 130 kg het getwiet dat Smith nie ’n bang haar op sy kop het nie.

“Kwagga Smith is ’n masjien. Hy laat my dink aan daardie kinders wat in o. 7-wedstryde speel. Hy is die kleinste ou op die veld, maar hy mik altyd om die grootste ou plat te trek. Hy het geen vrees nie,” het Nadolo destyds op sosiale media gesê

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

N ·

Kwagga behoort te begin. Ons huidige nommer 6 flank doen maar n treurige werk as ‘fetcher’.

N ·

So ander ou wat sukkel onder druk en sonder manne soos Duane Vermeulen, Etzebeth en Pollard se advies.

Kerneels ·

Dan is dit seker ‘n ander nr 6 wat saterdag gespeel het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.