Kwagga skitter teen die All Blacks op Twickenham

Kwagga Smith ontvang sy toekenning as speler van die wedstryd. (Foto: Facebook sarugbymagazine)

Kwagga Smith is al die hele jaar een van net twee Blitsbokke wat werklik in die vyftienmankode oortuig het – en Saterdagmiddag was hy op sy allerbeste in die wedstryd tussen die Britse Barbarians en die All Blacks op Twickenham.

Te klein, sal mense dalk van hom sê. Maar daar word nie sommer oor hom gehardloop nie, en sy vaart en balvaardigheid is sonder weerga. Hy is tussen al die groot name aangewys as speler van die wedstryd.

Maar nou ja, Allister Coetzee en kie soek ʼn ander soort speler … selfs al word daar gedurig van “volkome” rugby gepraat

In die wedstryd wat met 31-22 deur die All Blacks gewen is nadat hulle met 5-17 agter was en teen rustyd nog met 10-17 agtergeloop het, was daar maar die gewone los oomblikke en hanteerfoute. Dit was te wagte in ʼn wedstryd waar albei spanne met elke bal wou hardloop.

Die Britse Barbariansklub se gestelde doelwit om met hul spel te vermaak, is egter gestand gedoen in ʼn wedstryd wat alles wat mooi is van rugby ingesluit het.

Daar is goed gehardloop, goed geskakel, goeie beslissings en ook swakkes, en ʼn onderskepping of drie. Wat daar nie was nie, was eentonige oomblikke.

Harold Vorster was een van die Baabaas se groot uitblinklers (Foto: Twitter @Barbarian_FC)

Die groot skare van sowat 60 000 was duidelik aan die Baabaas se kant omdat dit immers die Britse Barbarians is – maar in die opdrafspan was daar nie ʼn enkele Brit nie, hoewel ʼn paar Nieu-Seelanders van die Baabaas tans vir Britse klubs speel.

♦  Maar om terug te keer na die Suid-Afrikaners: Kwagga Smit was ʼn absolute kolos.

Hy het gehardloop, geskop en gejaag, drieë help keer, aansluiting gesoek en gekry, en male sonder tal balle omgekeer.

Nie ver agter hom nie was sy twee spanmaats van die Leeus, die senter Harold Vorster en Jacques van Rooyen op loskop – en Adriaan Strauss het self ʼn goeie wedstryd gehad.

Hy lyk meer ontspanne as verlede seisoen, het goed geskrum en by die lynstane ingegooi en naatloos ingepas by die spelpatroon van die Baabaas.

Akker van der Merwe het ook van die bank af die oog gevang; so ook Willie Britz, maar Ruan Ackermann en Robert du Preez het te min speelkans gehad om die aandag te trek.

Puntemakers –

Barbarians (17) 22: Drieë: Richie Mo’unga, George Bridge 2, Sam Carter. Doelskop: Mo’unga
Nieu-Seeland (10) 31: Drieë: TJ Perenara, Vaea Fifita, Ngani Laumape, Sam Cane, Nathan Harris. Doelskoppe: Beauden Barrett 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Callie ·

Soos vroeer genoem. Barbarians kies geen SA kwota speler. In SA speel Oupa Mahoje, Uzzair Cassiem, haai en Kwagga speel so goed. Waar is Chilliboy en Mbonambi, ekskuus ou Akker is daar. SA is verby alle regdenkende aksies. Kwotas is koning. Lekker, kom ons sien waar eindig dit

pbotha ·

weereens die verstommende redenasie “te klein?” …maar jy wen man of the match teen reuse.. (AB’s) ? Toetie en kie sit op hul oge. Ons kort juis n fetcher vir die Bok. Week na week blink Kwagga uit. Gee hom geleentheid…sy hart is groter as enige van die loosies in die span s’n.

JP Kempton Park ·

Vra daardie vraag! Om nie eers te praat van ‘n Rohan Janse van Rensburg nie…

Dirkie ·

Manne, rugby is n besigheid, Allister vergoed sy manne/vertrouelinge. Dink bietjie hoeveel verdien spelers per toets. Ongelukkig vir Allister is daar werklik genoeg goeie spelers van elke kleur en geur in S.A. Rudi Paige, Rhule,Ralaphele, Mohoje, Ruan Dreyer, Coetzee op heelagter, en selfs Kriel op senter speel nie goed genoeg nie. Wat van Kwagga op flank selfs as inpakspeler, Notshe en Carr, Mapimpi, Thomas du Toit, en selfs Ashley Johnson as haker in Ralaphele se plek. Geen spelers van kwotas net verdienste. Allister het beloftes gemaak tydens onderhoud, nou byt dit hom.

LHS ·

ONGELUKKIG IS DAAR NIE N BETER AANVALLENDE HEELAGTER AS COETZEE NIE.

Johan ·

Kan Wim net aub aandui wie sy ander blitsbok is wat kwansuis in 15 man werklik oortuig het?

Braam ·

Ontspan kerels, kom ons gaan eet ‘n burger by die Spur, met Heinz Winkler wat lekker oor Jakaranda agtergrond musiek maak, dan praat ons daaroor.

LHS ·

ALTWEE SENTERS VAN DIE LEEUS IS OP HULLE SWAKSTE BETER AS DIE HUIDIGE SPRINGBOK KEUSES EN NET TOE DIT LYK OF JAN SERFONTEIN WEER BEGIN VORM HERWIN WORD OOK HY UITGELAAT. OOR KWAGGA IS DAAR GEEN BESPREKINGSPUNT NIE, HY HOORT IN DIE GROEP. WENS NET DIE MEDIA WIL OPHOU OM SEKERE SPELERS SO OP TE HEMEL DAT HULLE GEKIES MOET WORD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.