Kwarteindstryd: Sharks trap toe vroeg al klei teen die Crusaders

Klop die Crusaders en wen vanjaar se Superrugbyreeks.

Ai, hoeveel keer moet ʼn mens dit nog sê?

Dit het die Sharks Saterdagoggend in Christchurch opnuut besef toe die Crusaders hulle met 40-10 in die Superrugby-kwarteindstryd verslaan het nadat die tuisspan met rustyd met 15-7 voor was.

Wanneer jy teen die Crusaders in ʼn uitspeelwedstryd tuis speel en boonop teen ʼn sterk wind, kan jy dit nie bekostig om vroeg foute te begaan nie.

Jy moet hard en vinnig slaan, en dit kon die Sharks nie vermag nie. Hulle het die wedstryd binne die eerste 11 minute verloor toe hulle reeds met 0-15 agter was.

Was dit senuwees, was dit die uitwerking van die lang vlug na Nieu-Seeland, was dit ʼn geykte wedstrydplan wat tekort geskiet het of was die Crusaders maar net soveel beter?

Dit het met die eerste skrum begin toe Sharks ʼn strafskop afgestaan het; die skrumskakel Louis Schreuder het die bal direk uitgeskop; die haker Akker van der Merwe kon nie sy lynstaanspringers vind nie; die Sharks het bottervingers gehad; André Esterhuizen het onder meer ʼn belangrike duikslag gemis; Robert du Preez het ʼn strafskop teen die regoppaal vasgeskop en Philip van der Walt het die bal met ʼn oop doellyn  aangeslaan.

Hoe sê daardie oom nou weer in daardie televisie-advertensie: “Wat kan verkeerd loop?” ‒ en dan loop alles verkeerd.

Die Crusaders het die telbord oorheers, vyf drieë teen een gedruk, maar moes meer duikslae maak (105 teen 88) en hulle het baie meer geskop (27 teenoor die Sharks se 18).

Dis hoe hulle speel. Hulle plaas druk op jou, bederf jou besit en stuur vinnige teenaanvalle van stapel.

Die Sharks het te veel besit afgestaan. Hulle het vier lynstane verloor en ook die stryd in die los teen Matt Todd, Kieran Read en Scott Barrett verloor.

En dan die heel belangrikste. Hoeveel keer het die Sharks werklik ondernemend gespeel? Hoeveel keer het die bal van eerste fase af verby die binnesenter gevorder? Hoeveel keer is Curwin Bosch of die snellers op die teenaanval gebruik?

Maar nou ja, dit was geen verrassing nie, want baie min mense het die Sharks ʼn wenkans gegee, en dit is veral ingevryf toe hulle voorspelers nie kon oorheers nie.

Puntemakers:
Crusaders (15) 40
: Drieë: David Havili, Bryn Hall, Matt Todd, Braydon Ennor, Peter Samu. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafdoele: Mo’unga (3).
Sharks (7) 10: Drie: Kobus van Wyk. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoel: Du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Dit is nie dat die Sharks nie kanse gehad het nie.van Wyk het nog ‘n kans gehad maar pleks
om vir die hoekvlak te gaan,na die binneveld gebreek,waar hy vasgevat is.Daar is net soveel kanse in ‘n wedstryd.
Die Crusaders kan geklop word en het by tye ook heel kwesbaar gelyk.Nou hoop ek die Lions wen,want by lewer van kommentaar is die Highlanders gerieflik voor teen die Tahs,wat beteken dat daar drie NZ-spanne in die semifinaal gaan wees,tensy die Tahs hul spelpeil lig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.