Kwarteindstryd: Word die Sharks na die slagpale gelei?

Dit sê darem baie min van die Sharks se vermoë as hulle byna geen kans gegun word om die Crusaders Saterdagoggend in Christchurch in die kwarteindronde van die Superrugbyreeks te klop nie.

Het die Sharks, wat 11 Springbokke in die opdrafspan het, werklik geen kans nie?

Is die kloof tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika werklik só groot? Is die Nieu-Seelanders arrogant as hulle voorspel dat die Crusaders die Sharks met 20 punte sal klop?

Ongelukkig moet ʼn mens hiermee saamstem, veral as jy na die spanne se vertonings vanjaar kyk en ook die rekordboeke naslaan.

Die Crusaders het 17 van hul laaste 21 wedstryde teen die Sharks gewen. Hulle speel tuis, het ʼn dag ekstra rustyd gehad, is byna op volle sterkte en hul plaasvervangers behoort ʼn baie groter impak te maak wanneer die voete begin lood word.

Wanneer die spanne se vertonings in uitspeelwedstryde teen mekaar vergelyk word, is die prentjie nog donkerder, want die Crusaders het die Sharks in 2014 met 38-6 in die halfeindronde verslaan en in 2011 met 36-8 in ʼn uitspeelwedstryd getroef.

Hoekom is daar op die oog af só ʼn groot verskil tussen die spanne? Dit gaan, onder meer, oor bestendigheid of (in die Sharks se geval) die afwesigheid daarvan. Dan speel die Crusaders baie vinniger en is hul ondersteuning veel beter.

Die Crusaders het vanjaar 14 van hul 16 wedstryde gewen, 77 drieë gedruk en net 39 afgestaan.

Die Sharks het agt keer verloor (teen die Brumbies, Rebels, Lions, Stormers, Jaguares, Hurricanes en twee keer teen die Bulls).

Hulle kon, ondanks ʼn magdom talent en vaardighede, net 49 drieë druk en het 57 deurgelaat.

Waar lê die fout? By die afrigters? Is daar ʼn gebrek aan selfvertroue, is die spelpatroon te voorspelbaar?

Besluit maar self.

Kan dit Saterdag reggestel word? Ja, niks is onmoontlik in rugby nie, maar dan sal dit een van Superrugby se grootste skokke wees.

Dan het die Springbokke ook ʼn kans om die All Blacks vanjaar in die Rugbykampioenskap te klop.

Verloor die Sharks, sal dit geen verrassing wees nie, maar van die kwelvrae van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sal dalk beantwoord kan word.

Spanne ‒

Crusaders
15 David Havili, 14 Seta Tamanivalu, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty, 11 George Bridge, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd, 6 Jordan Taufua, 5 Samuel Whitelock (kaptein), 4 Scott Barrett, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Tim Perry. Bank: 16 Andrew Makalio, 17 Wyatt Crockett, 18 Michael Alaalatoa, 19 Luke Romano, 20 Pete Samu, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 Manasa Mataele.
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 Kobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Dan du Preez, 7 Jacques Vermeulen, 6 Philip van der Walt, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Hyron Andrews, 20 Wian Vosloo, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Makazole Mapimpi.

Skeidsregter: Mike Fraser (Nieu-Seeland).
Assistentskeidsregters: Ben O’Keeffe en Brendon Pickerill (albei NS).
TV-skeidsregter: Shane McDermott (NS).
Afskop: 09:35 (SA tyd).
Verwagte weer: Mooiweer, maar koud (tussen 6°C  en 15°C).
Voorspelling: Crusaders met 15 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre ·

Hallo ouens, Pieter, help my reg. Ek het ‘n idee diere word na slagpale toe geneem, die Sharks dink ek is op pad na ‘n verwerkingsaanleg toe. Hehehe ….

Henk ·

Om in vandag se tye te spog met 11 Springbokke in die opdraf span beteken nie noodwendig dat jy die beste spelers in jou span het nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.