Kwotakwessie: Valke vind geen oortredings

Alle klubs in die Valke-rugbyunie (VRU) se Peregrineliga het vanjaar aan die ligareëls voldoen en kom dus in aanmerking vir deelname aan die SA Rugbyunie (Saru) se reeks om die Goue Beker, het die bond bevind.

Op grond hiervan volstaan die VRU daarby dat Vereeniging, as wenner van die liga, hom in die Saru-reeks verteenwoordig.

Dit volg nadat die naaswenner, East Rand United (ERU) van Reigerpark, daarteen kapsie gemaak het, en beweer het dat Vereeniging nie aan die gestelde kwotavereistes voldoen het nie.

Die Valke-reël het in ooreenstemming met die GB-vereiste wat tot onlangs gegeld het, minstens vier bruin of swart spelers per span bepaal.

Ná ʼn ontleding van die spanlyste is bevind dat alle deelnemende spanne dié voorskrif nagekom het.

Die GB-reëls is intussen gewysig om voorsiening te maak vir agt bruin of swart spelers per spangroep van 30.

In die lig hiervan het die VRU besluit dat Vereeniging slegs vier spelers by ander klubs in die bond mag leen.

Koos Bosman, ʼn woordvoerder van Vereeniging, sê die klub is baie opgewonde oor die vooruitsig om teen die land se beste klubs te kan meeding, en berei nou voluit met die oog hierop voor.

“Ons is in ʼn strawwe groep ingedeel, en besef dat ons deurentyd gefokus moet wees indien ons in die reeks wil presteer,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Dit het vanjaar besonder goed met Vereeniging gegaan. Die tweede en o.21-span het ook hul afdelings gewen.

“Die klub is kerngesond, en geniet sterk steun uit die gemeenskap.”

Vereeniging speel sy eerste GB-wedstryd 16 September weg teen Bloemfontein Polisie; 23 September speel hy tuis teen Sasol Secunda; 30 September in Welkom teen Welkom; en 7 Oktober tuis teen die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.