Kyk: Bokke deel video van drieë teen All Blacks

Een van Francois Hougaard se drieë word as een van die bestes teen die All Blacks beskou. Foto: Marco Longari/AFP.

Hoewel die Springbokke deesdae meer bekend vir hul skop-en-storm-wedstrydbenadering is, het die span ’n video van ’n paar bobaas-drieë teen die All Blacks op sosiale media gedeel.

Van Richard Bands en Breyton Paulse tot Francois Hougaard en Cheslin Kolbe is deel van die driedruk-aksie op die kort insetsel.

Tog het die Springbokke vanjaar net tien drieë – teenoor die All Blacks se 25 – in vanjaar se Rugbykampioenskap gedruk, terwyl hul spelpatroon gereeld onder kritiek deurgeloop het.

Handré Pollard meen egter dat die Bokke steeds vertroue in hul wedstrydbenadering het.

“Ons glo dat ons die beste span ter wêreld is wat lugaanvalle betref en dit is iets waaraan ons sal bly werk,” het die losskakel gesê.

Intussen het Dan Biggar, die Walliese losskakel van die Britse en Ierse Leeus tydens hul toer na Suid-Afrika, gesê dat seges die suksesmaatstaf vir internasionale rugbyspanne behoort te wees; nie vermaak nie.

“Kom ek stel dit so: Ek sal enige tyd plekke met iemand in die Springbok-span ruil ná hul sukses van die afgelope paar jaar,” het Biggar gesê.

“As iemand vir my gesê het dat jy die Webb Ellis-trofee met vervelige rugby kan omhoog hou, sou ek ook ingestem het om só te speel. Ja, dit is lekker wanneer rugby mense vermaak, maar wanneer ons nie wedstryde wen nie, is die kanse groot dat ons kontrakte nie hernieu sal word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokkie ·

Seker maar Rassie wat deur die nag na die drieë gaan soek het om ‘n video van 63 minute te maak. Die beste wat hy kon doen, was maar ‘n kort video’tjie van enkele minute……en dit toe gelek het.

Steyn ·

Tipies, uit al daai driee is dit net Richard Bands wat bal dra van gebroke spel af, Kolbe het n onderskep, en die res almal van skoppe waar bal net regspring elke keer! Is dit die beste wat ons het? Indien wel, sak ek my kop in skaamte!

Levinson ·

Die skoppe wat hier gewys word is inderdaad nie die 50/50 lugskoppe wat die vaal bokke(uitdruklik klein letters) van vandag uitvoer nie. Hierdie is aanvallende kortskoppies met ‘n doel om die bal terug te wen en nie net te hoop op die beste nie. Mens kan maar net kopskud met sulke redenasies van “professionele” afrigters/bestuurders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.