Kyk: Duhan met rooi kaart van veld gestuur

Duhan van der Merwe. Foto: Vincenzo Pinto/AFP.

’n Tugkomitee het Duhan van der Merwe vir drie weke geskors nadat hy Saterdag met ’n rooi kaart in ’n Gallagher Premiership-wedstryd tussen Worcester Warriors en London Irish van die veld gestuur is.

Dit beteken dat hy Skotland se oorblywende Sesnasies-wedstryde – teen Italië en Ierland – sal misloop.

Van der Merwe was die afgelope naweek ’n bietjie té aggressief op die aanval en wedstrydbeamptes het beslis dat hy vir Kyle Rowe op ’n gevaarlike wyse van hom weggestamp het.

Volgens Jeremy Summers, voorsitter van die tugkomitee, het die Suid-Afrikaans gebore vleuel genoeg tyd gehad om op ’n meer aanvaarbare wyse van sy teenstander ontslae te raak.

Sy voorarm het egter goed met Rowe se gesig kennis gemaak en dit was genoeg om ’n rooi kaart en ’n skorsing te regverdig.

“Daar was geen versagtende faktore nie en al is daar baie ondersteuners wat meen dat die straf effens onbillik is, het die skeidsregter die reëls korrek toegepas,” het Summers gesê.

Van der Merwe het reeds tien drieë in sy 16 toetse vir Skotland gedruk.

Die George-boorling het verlede jaar onder die beste spelers in die Sesnasies-reeks getel: Nie net is hy in die span van die toernooi opgeneem nie, maar hy het ook die legendariese Brian O’Driscoll se aanvalsrekord verbeter.

O’Driscoll het in 2000 se reeks 30 verdedigers op sy eie geklop, terwyl Van der Merwe in 2021 altesaam 31 verdedigers na lug laat gryp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

MakersMark ·

Hy sou in elk geval nie die bok span gemaak het nie Mapimpi en Kolbe het hom totaal ore aangesit met die onlangse Britse Leeus toer. Skotland kan hom hou.

Emile ·

Dit is pateties dat hy geskors is en n rooikaart gegee is vir hierdie …

Hennie Biebouw ·

Stem 100% saam. Ons het op skool geleer, dis presies wat met jou gebeur as jy “hoog” in ‘n “laagvat” ingaan, jy kry ‘n bek vol…. Rugby is besig om homself te ondergrawe met hierdie absurde rooikaarte.

Chantel ·

Ek is all for rooikaarte AS dit vir die regte redes toegedien word. SO, van nou af moet die ouens asb nie die aanvaller afstamp nie, maar hom mooi vra, MOET MY NIE DUIK NIE!! hoe pateties!!!

LeonS ·

Asseblief rugby word nou pateties, voel jammer vir die spelers

007 ·

Rugby het ‘n regte sussie wedstryd geword. Hoekom kies hulle nie maar ‘n klomp sagte mannetjies om dit te speel nie.

MakersMark ·

Rugbyspelers vandag is baie groter, vinniger en sterker as toe “ek op skool was”. Hoërskool pakke weeg > 850 kg. Frankryk se pak teen Ierland was 931 kg. Dis hoekom die reëls meer ingestel word op speler veiligheid. Die impak is soveel groter met sulke massa en spoed.

Kobus ·

Goed en wel maar wat van die speler wat met sy knie na sy kop gegaan het toe hy reeds op die grond was? Is gevaarlike spel slegs van toepassing as jy op jou voete is want daar gebeur erger dinge tydens losskrums

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.