Kyk: Duhan se wonderdrie op Twickenham

Duhan van der Merwe vier Skotland se puik oorwinning op Twickenham. Foto: Glyn Krik/AFP.

Superman het gister op Twickenham nie ’n kleefbroek en ’n mantel gedra nie; hy was eerder getooi in die blou van die Skotse nasionale rugbyspan.

Duhan van der Merwe se ongelooflike individuele poging het nie net toegesien dat Skotland vir Engeland geklop het nie, maar sy stormlopie in die 29ste minuut van die kragmeting is ongetwyfeld ’n aanspraakmaker op die drie van die jaar-toekenning.

Die 27-jarige oudleerling van Hoërskool Outeniqua het die bal in sy eie halfgebied ontvang, sy ore platgetrek en terstond vyf Engelse verdedigers na die lug laat gryp én gestoomroller. Soos wat die kommentators tereg oor die mikrofone gebulder het – dit was inderdaad ’n drie wat ’n mens sommer dronkslaan.

Nog is dit het einde niet en sy tweede drie laat in die wedstryd was die finale spyker in die Engelsmanne se doodskis en die Skotte het die kragmeting welverdiend met 29 – 23 gewen.

Gregor Townsend het Van der Werwe se eerste drie met iets uit ’n videospeletjie vergelyk.

“Dit was pleinweg net ongelooflik. Dit het my aan ‘Jonah Lomu Rugby’ laat dink wanneer een van spelers in die videospeletjie skielik net vinniger as die res kon hardloop,” het die Skotse afrigter ná die afloop van die wedstryd gesê.

“Duhan het die afgelope ruk nie veel rugby gespeel nie. Hy het wel goed saam met ons geoefen, maar om só ’n vertoning te lewer wanneer jy nie baie speeltyd agter die blad het nie, is ’n getuigskrif van sy geestelike en fisieke krag.”

Dit was Skotland se derde oorwinning op ’n streep teen Engeland en slegs hul sesde sege ooit op Twickenham.

Volgens Townsend was Van der Merwe se eerste kraglopie net die doepa wat die Skotte nodig gehad het.

“Ons ondersteuners het toe behoorlik feesgevier, terwyl die Engelsmanne tjoepstil geword het. ’n Mens sien nie gereeld só ’n drie nie.”

Die Suid-Afrikaans gebore speler het in 2021 een van die legendariese Brian O’Driscoll se Sesnasiesrekords verbeter toe hy 31 verdedigers na die lug laat gryp het.

Ja-nee, “Van der Merwe” is gereeld die inleiding tot ’n lekker grappie, maar vandag het Steve Borthwick en Owen Farrell nie veel om oor te glimlag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kragaap ·

Skotse span met 5 SA ‘ners klop Engelse op Twickers ….spul Engelse is bitter – noem skotse span die “United nations” team.

Boer ·

Die Engelse sukel lekker teen die SA gebore vleuls!! Eers is die Kolbie toe Arendse en nou ‘n Van Der Merwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.