Kyk: Kolbe sorg wéér vir topoomblik

Cheslin Kolbe is besig om sy sterstempel in Japan af te druk. (Foto: X/Cheslin Kolbe)

Nadat ʼn besering hom vir ʼn paar wedstryde langs die veld gehou het, was Cheslin Kolbe weer op sy opportunistiese beste vir Tokyo Sungoliath in Japan.

Hoewel sy span die kragmeting met 37–35 teen Canon Eagles verloor het, het die Suid-Afrikaner beslis vir ʼn merkwaardige hoogtepunt gesorg.

Die Wêreldbeker-wenner het een van die Eagles se voorspelers – wat hard op pad doellyn toe was – getêkkel, op een of ander geheime manier die bal in die hande gekry, sy ore platgetrek en laat spaander.

Ongeveer 60 m verder het hy die bal uitgegee en Ryoto Nakamura kon ʼn kort rukkie later die beweging afrond.

As jy ooit gewonder het hoe ʼn teenaanval moet lyk, vra maar gerus vir Kolbe.

Die 30-jarige speler is ook ʼn week of so gelede by SA Rugby se toekenningsgeleentheid in Johannesburg beloon toe sy stelskopfnuikpoging in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi tussen Suid-Afrika en Frankryk as plaaslike rugbyliefhebbers se gunstelingoomblik op die speelveld in 2023 aangewys is.

Kolbe, wat sy Springbok-buiging in 2018 teen Australië gemaak het, het reeds 14 drieë in sy 31 toetse gedruk.

Benewens sy aanvallende vaardighede kan hy ook op skrumskakel uithelp wanneer een van die nommernegespelers nie op die veld kan wees nie, terwyl hy ook sy man op verdediging staan.

“Cheslin is briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers; dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Lukhanyo Am, Springbok-senter, al vantevore gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.