Kyk: Morné Steyn goed genoeg vir Boktrui

Morné Steyn het al baie stelskoppe vir die Springbokke oor die dwarslat gejaag. Foto: Andres Larrovere/AFP.

Morné Steyn was nog bloedjonk toe hy dáárdie strafskop in 2009 teen die Britse en Ierse Leeus oor die dwarslat gejaag het om die reeks vir die Springbokke te beklink. Nou, op 37-jarige ouderdom, is hy steeds goed genoeg om die nommertientrui vir die Suid-Afrikaners op toetsvlak te dra.

Die Bulls het onlangs ’n video van Steyn se vaardighede gedurende die afgelope reekse in Suid-Afrika op sosiale media gelaai. Toegegee, selfs klein Bussie van Koegelenberg daar van Laerskool Olifantsville-Wes se o.10 E-span sal goed lyk wanneer sy pa ’n video aanmekaarslaan wat slegs sy hoogtepunte bevat, maar dit is ’n onbetwisbare feit dat Steyn nog uitstekende rugby speel.

Wysheid kom inderdaad saam met die grysheid.

Morné Steyn se wenskop teen die Leeus in 2009. Foto: Alexander Joe/AFP.

Toe Maroela Media vroeër vir die Cheetahs se Chris Massyn gevra het of die Bloubulster nog goed genoeg is om vir die Springbokke te speel, het die losvoorspeler gesê dat sy ervaring van onskatbare waarde is.

“Goeiste, as jy my aan die begin van die jaar gevra het, sou ek waarskynlik vir jou ’n ander antwoord gereed gehad het. Maar as ek net kyk hoe hy deesdae speel … ek dink as dit nie vir hom was nie, sou die Bulls dalk meer in ván die wedstryde gesukkel het,” het Massyn destyds gesê.

“Die ervaring wat hy na die stryd bring, is goud werd. Ek dink hy het beslis nog baie om te bied.”

Die voormalige Blou Bul-skrumskakel Conrad Breytenbach meen ook dat iemand met Steyn se getuigskrif die Bokke kan help.

“Elke losskakel het net ’n paar sekondes tyd om ’n goeie besluit te neem. Te danke aan sy ervaring en huidige goeie spelpeil voel daardie sekondes seker vir Morné Steyn soos vyf minute en hy kan sy span op die voorvoet plaas,” het Breytenbach gesê.

En al is Handré Pollard waarskynlik die Bokke se eerste keuse, het Steyn nie sleg in die Wêreldbeker-wenner se afwesigheid vir die SA A-span teen die Leeus gevaar nie.

Hy het alles gedoen wat van hom verwag is en soos wat Maroela-lesers sê: “Morras mis nie (sommer) nie.”

  • Steyn het in 66 toetse vir die Springbokke gespeel en 736 punte aangeteken. Hier is van sy rekords:

* Wêreldrekord vir ʼn speler wat al sy span se punte in ʼn toets aangeteken het (31).

* Meeste punte teen die All Blacks in ʼn toets (31).

* Vinnigste by 100 toetspunte (agt toetse, drie as plaasvervanger).

* Vinnigste by 200 punte (16 toetse).

* Vinnigste by 300 punte (24 toetse).

* Vinnigste by 400 punte (33 toetse).

* Vinnigste by 500 punte (43 toetse).

* Vinnigste by 600 punte (50 toetse).

* Vinnigste by 700 punte (62 toetse)

* Meeste skepdoele in ʼn Superrugbyseisoen (11 in 2009).

* Meeste strafdoele in ʼn Superrugbyseisoen (51 in 2010).

* Meeste punte in ’n Superrugbyseisoen (263), wat Daniel Carter se 221 punte in 2006 verbeter het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

H.A. ·

Nou waar is die sogemaamde ‘liefling’ van die blou bulle dan nou ? .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.