KZN-klubs: Quins kry groot slae op eie rugbydag

collegians-logoDurban Harlequins het Saterdag op een van die warmste dae van die jaar groot slae op sy eie Ronnie van Rooyen-rugbydag op die Bluff gekry.

Die Zululand Rhinos van Empangeni het hom 68-6 geklop.

In die ander eerstespanwedstryde, het SA Home Loans Durban Collegians vir Crusaders 33-14 en Ballito Dolphins vir Durban Mets 10-6 geklop.

♦ Robin Swanepoel, die hoofafrigter van Collegians, sê sy span het stram teen Crusaders weggespring en daar sal vandeesweek hard gewerk word om die strukture en platforms na wense te kry.

“Ons het onsself bepaalde doelwitte vir die seisoen gestel en dit sal harde werk verg om te bereik.”

Hy sê Crusaders het met mag en mening ingeklim en werklik hard probeer, maar hy meen hulle was baie negatief by die afbreekpunte, en as `n gekwalifiseerde Premierliga-skeidsregter die wedstryd hanteer het, sou hy albei spanne op hul plek gesit het.

“Ek dink nie een van die spanne het by die nuwe reëls aangepas nie en dis iets waarop almal hulle sal moet toespits.

“Ons het Saterdag slegs vier spelers op die veld gehad wat aan die vorige Ronnie van Rooyen-uitstappie deelgeneem het en ek is uiters trots op die wyse waarop die nuwelinge die geleentheid aangegryp het.”

Swanepoel sonder die nuweling Robert Isaacs en die deurwinterde Carl Marks uit vir hul dinamiese spel Saterdag en die wyse waarop hulle mekaar in die lostrio aangevul het.

Justin Newman het twee drieë vir Collegians gedruk en Mondli Nkosi, Isaacs en Marks een elk. Duncan Campbell het `n welkome terugkeer gemaak nadat `n besering hom `n jaar lank van die veld gehou het en vier uit die vyf drieë verdoel.

Swanepoel sê die organisasie van die gewilde rugbydag het afgesteek by vorige jare en party klubs het die die nodige respek vir die dag getoon nie deur derde spanne in die Premierliga-gleuwe in te skryf

Collegians berei vandeesweek vir die komende naweek se Flya-toernooi voor en is gretig om te leer en te verbeter op `n naweek wat eenvoudig nie op peil was nie.

ballito dolphins♦ James Muter, die voorsitter van Ballito Dolphins, sê die grondslag van sy span se sege is gelê deur die handsnelheid waarmee die bal versprei is en die sterk karakter waarmee hulle die oorwinning uitgeswoeg en -geslawe het.

Die Dolphins se uitblinkers was Jack Severs, Zamani Mtembu en Bekhani Dlamini.

Siya Ngcobo het die wenspan se enigste drie gedruk en Severs het dit verdoel en met `n strafdoel geslaag.

♦ Jos Robson, die KwaZulu-Natalse klubskakelman, sonder College Rovers o.20A se oorwinning van 20-17 oor Collegians uit as die beste wedstryd van die dag.

Hy vestig die aandag op die puik spel van `n jongeling uit Venda, Frankie Netshilema, wat slegs in sy tweede rugbywedstryd gespeel het en merk op dat hy met `n bietjie skaafwerk in nóg `n swart pêrel kan verander.

Robson berig dat die vleuel Emanuel Dozva uit Zimbabwe die beste drie van die dag gedruk het en die belangrikheid van klubrugby in die ontginning van nuwe talent opnuut beklemtoon is.

Ander uitslae –

Durban Collegians II 46, Crusaders II 6; Harlequins II 56, Ballito Dolphins II 12; College Rovers III 24, Jaguars II 15; Durban Collegians o.20 39, Crusaders o.20 24.

Newcastle Highlanders - logoVriendskaplik      

♦ Goeie skrum- en lynstaanwerk op hul eie balle en in die teenstanders se skrums en lynstane, en `n skepdoel deur Bradley Swartbooi (losskakel) het Boschpick Newcastle Highlanders Saterdag op die Hoër Tegniese Skool Ligbron se rugbydag op Ermelo in staat gestel om Alumni Ligbron-Oudstudente 15-14 te klop.

André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, sê die Oudstudente het baie goed daarin geslaag om die besoekers se balle op die grond te vertraag of af te neem.

“Highlanders het in dié opsig gesukkel sonder enige van sy erkende losvoorspelers, en om dinge verder te bemoeilik het die slot Dilan De Beer vroeg in die wedstryd die veld met `n besering verlaat en moes `n flank slot toe skuif.

“Die span van Newcastle het Oudstudente in die skrums onder groot druk geplaas. Robert Everson, gewoonlik `n slot, het agsteman gespeel en talle balle in die lynstane by die teenstanders gesteel, en goeie skoon balle vir sy span op hul eie ingooie gewen.”

Swanepoel sê die Highlanders is agter ook vroeg ontwrig toe die binnesenter, Gift Mabaso, die veld met `n ernstige kniebesering verlaat het.

Hy is bekommerd oor die beserings in die agterlyn. Al twee vleules en nou ook albei senters is beseer, hoewel net Mabaso Saterdag gespeel het.

“Die agterlyn het baie geleenhede geskep, maar hul besluitneming het hulle in die steek gelaat en minstens drie drieë het so verlore gegaan.

Siswe Mavundla (stut) en Trevor Musa (plaasvervanger) het die Highlanders se drieë gedruk. Janri Barnard het met `n doelskop geslaag en Swartbooi met `n skepskop.

Die Highlanders speel Saterdag in Richardsbaai teen die tuisspan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.