KZN-klubs: is Toti die verrassingspakkie?

amanzimtoti`n Tweede skoksege in die Durbanse Flyatoernooi laat die vraag ontstaan of Amanzimtoti vanjaar die verrassingspakkie in KwaZulu-Natalse klubrugby kan wees?

Die Suidkus-Terriërs het eers met die Moorbekerkampioen (Premierliga), Durban Collegians, afgereken en toe die Murraybekerkampioen (uitklopreeks), College Rovers, in die eindstryd getroef.

Jos Robson, die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se klubskakelman, sê Toti het die moordende kragmeting teen Rovers Donderdag op Ranleighsingel, Crusaders se veld in Durban-Noord, 2-0 gewen danksy `n skepdoel deur sy losskakel, José Rodriques, in die doodsnikke.

Durban Collegians het die derde plek ingeneem met `n wegholsege van 60-22 oor die erg verswakte gasheer, Crusaders.

Jaguars het die B-afdeling gewen deur Harlequins 43-10 te klop.

eshowe♦ Veral twee spelers het die vorige Saterdag die oog gevang op Eshowe se 70ste Bozasbeker-rugbydag op die dorp.

Robson berig Sentraal (Dundee) se vleuel Charlie Dube het hope natuurlike talent getoon, die meeste drieë gedruk en is as die agterspeler van die toernooi aangewys.

Gradwell Maduma, die gasheerklub se heelagter, het op sy beurt `n puik vertoning afgerond deur die drie van die dag te druk.

Johnny Pinto, die voorsitter van Eshowe, sê 14 spanne het aan die toernooi deelgeneem: Empangeni (twee spanne), Green Bottle Ballies, Hluhluwe, Mandini, Pongola, Richardsbaai, Sentraal, Varsity College en ontwikkelingspanne van Eshowe, Melmoth, Esikhawini, die Universiteit van Zoeloeland (Unizul) en Ushaka Warriors.

Sentraal het die Bozasbeker die eerste keer gewen deur Hluhluwe 13-8 in die eindstryd te klop; Esikhawini het die Johan Bezuidenhoutskild teen Unizul gewen; en die Green Bottle Ballies het Ushaka Warriors 56-0 om die Paul Nunanbeker geklop.

Pinto sê dis `n goeie teken dat twee van die ontwikkelingspanne die eindstryde gehaal het.

Hy is ook verheug dat Flya aangedui het dat hy die toernooi nog twee jaar sal borg.

Die voorsitter berig dat die toernooi saamgeval het met `n besonder goeie junior ontwikkelingsdag waaraan o.11-, o.13-, o.16- en o.18-spanne van Empangeni, Esikhawini en Eshowe deelgeneem het.

Die gewese Springbokbreier Ian McIntosh en sy span van SA Rugby Legends het `n afrigtingskliniek vir die junior spelers aangebied, en Pinto sê die kinders het dit baie geniet en veel geleer.

Hy is ook baie trots daarop dat Eshowe `n o.18-uitnodigingspan kon saamstel uit spelers wat die klub se ontwikkelingsprogram deurloop het en wat die toeskouers op rugby van `n hoë gehalte getrakteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.