KZN-liga: 40-7 nie goed genoeg vir breier

collegians-logo`n Sege van 40-7 teen `n span wat hom in `n vorige kragmeting geklop het, is nie goed genoeg om die breier van die KwaZulu-Natalse kampioen tevrede te stel nie.

Die Moorbekerhouer en Goue Bekerspan, SA Home Loans Durban Collegians, het wel die bordjies verhang teen Amanzimtoti, wat hom in die afgelope Flyareeks uitgeskakel het, maar vir die hoofafrigter, Robin Swanepoel, is daar geen rede tot selfgenoegsaamheid nie.

In die ander Premierligawedstryde Saterdag het College Rovers vir UKZN Impi 38-3 verslaan; Northwood Crusaders het Newcastle Highlanders 70-19 gelooi; Zululand Rhinos van Empangeni het South Coast Warriors van Uvongo 15-11 geklop; en Varsity College het 34-22 met die Jaguars klaargespeel.

♦ Swanepoel van Collegians het aan Pale Toe! gesê die span was nie klinies genoeg in die eerste helfte nie en was self sy grootste vyand, veral by die afbreekpunte.

“Ons het etlike kere teen Toti gepeel en weet sy krag lê in die agttal. Ons oorywerigheid en basiese vaardighede het ons in die eerste helfte in die steek gelaat, iets wat in die weke vorentoe aandag sal geniet.

“Ná `n streng berisping rustyd, was dit `n ander span wat die tweede helfte aangedurf het. Die boodskap was klinkklaar dat ons ons struktuurspel nougesetter moes handhaaf en balbesit moes behou.”

Swanepoel sê Collegians het met die omdraaislag teen `n sterk wind in gespeel en het geen keuse gehad nie as om die bal vas te maak nie.

“Ons het die eerste keer dié seisoen ons struktuur en wedstrydplan op die veld verwesenlik gesien en dit was skouspelagtig.

“Ons fiksheid het ons bevoordeel en dit was bloot `n kwessie van tyd voor Toti se fut voorlangs uit was. Onder dié omstandighede het hulle ook in die lynstane gesukkel. Ons het die lynstane geteiken as `n faset waar ons brooodnodige oorheersing kan bewerkstellig en dit het geslaag.”

Hy sê Collegians se kaptein Wade Elliott het deur sy voorbeeld gelei en uitmuntend gespeel om as die speler van die wedstryd aangewys te word.

Die senior en erg onderskatte speler Andrew Holland was die beste agterspeler.

Holland, Bradley Ellse, Elliott, Robbie Harris, Greg Bauer en Robert Isaacs het die wenspan se drieë gedruk en Mondli Nkosi het die res van die punte met die skoen bygevoeg deur met vyf uit ses skoppe te slaag.

Swanepoel verwelkom die loslootjie wat die eerste span die komende naweek het. Die volgende bepaling is die naweek daarop teen UKZN Impi en Collegians sal gewis reg voorberei wees.

“Impi het getoon hy kan enige span op `n gegewe dag klop, veral in Pietermaritzburg. Ons sal die wedstryd nie ligtelik opneem nie.”

varsity collegeMalcolm Kennedy, die administrateur van Varsity College, sê albei die klub se spanne het goed gevaar op Jaguars se veld in Sydenham. Naas die eerste span se sege van 34-22 het die tweede 42-13 gewen.

Hy laat weet die eerste span het sommer vroeg-vroeg `n puik drie deur Ray Williams op die telbord geplaas en het deurentyd die botoon gevoer.

“Darryn Nyman se teenwoordigheid op losskakel en Tommy Bezuidenhout op heelagter het die spandinakmika drasties verander. Williams het `n besonder goeie vertoning gelewer, en die voorspelers het oorheers en die agterlyn merendeels van voorvoetballe voorsien.

Williams (twee), Bennie Mashabane (twee) en Hugo Strydom het Varsity College se drieë gedruk. Nyman het twee verdoel, en Stephan Bothma het het `n doelskop en `n strafdoel behaal.

Vir die tweede span het Syngen Jackman ondanks die winderige toestand met vyf uit vyf doelskoppe pale toe geslaag om sy slaagsyfer van 100% in die reeks te handhaaf.

TG Okafor, Edwin Dinnematin, Dillon Faber, Robert Pearson, Tarzan Khanyile en Ivan Beetge het die span se ses drieë gedruk en Dinnematin het die sesde een verdoel.

south coast warriors - logo South Coast Warriors het sy eerste sege in die Premierliga met vier punte misgeloop toe die Rhinos hom 15-11 geklop het.

Christo Henderson, die hoofafrigter van die Warriors, wys daarop dat die Zoeloelanders al 15 hul punte in die laaste 20 minute van die eerste helfte behaal het en niks in die tweede helfte kon aanteken nie.

Hy sê Warriors het eintlik teen homself verloor omdat hy nie sy geleenthede benut het nie. `n Strafskop reg voor die pale is verbrou en so ook `n doelskop.

“In Premierligarugby moet `n mens die kanse benut en die punte aanteken as dit daar is,”

Henderson sonder Karel van Rooyen as die beste voorspeler en Tienie Viljoen as die beste agterspeler uit.

Van Rooyen het 40 m ver genael om Warriors se enigste drie te druk en Viljoen het twee strafdoele behaal.

Die afrigter is tevrede met sy span se vertoning in die skrums en lynstane, maar is bekommerd oor die fiksheid van die spelers en veral oor balbesit by die afbreekpunte, terwyl hy glo die die verdediging kan verbeter. Te veel besit na sy sin word weggeskop.

Newcastle Highlanders - logo♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê sy span se probleme kry maar net nie einde nie.

Saterdag teen Crusaders het Riekert Botha (linkervleuel) met die eerste bal wat hy gekry het eenvoudig van die middellyn af deur die teenstanders gehardloop vir `n drie onder die pale – maar in die proses `n dyspier geskeur.

Die Highlanders het ook die dienste van die slot Wandile Sibiya vanweë `n skouerbesering verloor, en met reeds 13 eerstespanspelers op die krukkerlys wil sake maar nie vlot vir die Highlanders nie.

Swanepoel sê Highlanders was rustyd nog in die wedstryd en het moedig aanvallende rugby probeer speel en drie goeie drieë gedruk.

Hy reken egter die spelers maak heeltemal te veel foute en as hulle nie gaan leer om dit te beperk nie, gaan dit `n lang seisoen raak.

Met net drie gereelde eerstespanspelers in die agttal – die kaptein en agsteman, Errit Visser, Sibiya en die loskopstut, Wynand Pelser, het dit nie goed in die vaste fasette gegaan nie.

“Dit was moeilik om voorvoetballe te bewerkstellig en aanvalsgeleenthede te skep, en toe die wal breek kon hulle nie die stroom keer nie,” sê Swanepoel.

“Vissser en Sibiya, tot hy af is, het moedig probeer, en agter het Simphwe Zulu (skrumskakel) hard gewerk tot hy ook die veld met `n beenbesering verlaat het.”

Jandré Small, wat op Vryheid grootgeword het, het goed vir Crusaders op buitesenter vertoon en Swanepoel sê elke keer wat hy die bal gehad het, moes die Highlanders bontstaan.

Behalwe Botha, het Almero Roux (losskakel) en Musa Shabalala (regtervleuel) die Highlanders se drieë gedruk. Alex Booysen (heelagter) het twee verdoel.

Crusaders II het Highlanders II 45-12 geklop; Highlanders III het die Bergville Zebras 77-0 oorrompel; en Harlequins o.20 het Highlanders se splinternuwe o.20-span net-net 18-17 getroef.

Hillcrest-spelers Stefan Van der Westhuizen en Henkie Groenewald in aksie teen Harlequins. (Foto: Kerrith Howes)

Hillcrest-spelers Stefan Van der Westhuizen en Henkie Groenewald in aksie teen Harlequins. (Foto: Kerrith Howes)

Eerste Liga (Suid)

♦ Op die Bluff in Durban het Land Rover Durban-Hillcrest Villagers en die tuisspan, Harlequins, in die Eerste Liga (Suid) 13-13 gelykop gespeel. Villagers se tweede span het 19-14 gewen.

Rene Missen, die voorsitter van Hillcrest, berig Quins het eerste punte in die hoofwedstryd aangeteken en teen rustyd kon enige span nog wen.

“Met die aanvang van die tweede helfte het Villagers `n sterk voorsprong opgebou en na die wenner gelyk. Quins het egter laat in die wedstryd sake gelyk gemaak.”

Wesley Volek en Dolfie Brits het elk `n drie vir Villagers gedruk en Henkie Groenewald het `n strafdoel behaal.

Britz en Kyle Spowart was die beste spelers op die veld en Groenewald het die beste duikslag uitgevoer.

Villagers is dusver onoorwonne, maar die komende naweek se kragmeting teen Richardsbaai sal `n perd van `n ander kleur wees.

Villagers II het vroeg sy seggenskap in die wedstryd gevestig en was rustyd veilig voor. `n Gebrek aan konsentrasie het Quins toegelaat om in te haal, en Villagers moes sy speltempo verhoog om uiteindelik 19-14 te wen.

Chase Dekker en Cohen Kok was die uitblinkers.

Dekker, Carl Stow en Justyn Ebben het elk `n drie gedruk en Ebben het met twee doelskoppe geslaag.

mtubatubaZoeloeland-subunie

♦ Riaan Hedder, die spanbestuurder van Mtubatuba, laat weet sy span het Eshowe Saterdag 20-0 op Eshowe geklop.

“Dit het `n rukkie geduur voor die wedstryd aan die gang kon kom en dit was vol foute.”

Mtuba was rustyd 7-0 voor ná `n drie deur die vleuel Eddie Mbirimer, wat deur Reinhardt Hedder verdoel is.

Hedder sê sake het in die tweede helfte verbeter met veranderinge in sleutelposisies wat beter besit aan die agterlyn gelewer het sodat dié meer hardloopkans gekry het.

Karli Schulze (agsteman) en Sizwe Sibiya (vleuel) het in die tweede helfte gedruk en Hedder het met `n strafdoel geslaag.

Die spelers van die wedstryd was Schulze (skrum) en die senter Msizi Buthelezi (agterlyn).

Middelland-subunie

♦ Die onoorwonne Ladysmith het sy voorsprong in die reeks om die Crowebeker met nog `n stewige oorwinning van 56-5 oor UKZN III vergroot.

Voortrekker-oudleerlinge van Pietermaritzburg het Greytown 57-0 oorskadu.

Cedara - logo♦ In die reeks om die Rawbeker het Cedara die voortou by Obhejane oorgeneem deur hom 29-19 te klop.

Die Nagle Dan Rhinos het sy eerste oorwinning behaal deur Howick Eagles 43-10 te klop.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

Durban Collegians 24, Amanzimtoti 7; College Rovers 91, UKZN Impi 5; Zululand Rhinos, South Coast Warriors 20.

Eerste Liga (Suid)

Ballito Dolphins 22, Durban Mets 0.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Ballito Dolphins 26, Durban Mets 25.

Derde Liga (Walkerbeker)

College Rovers 22, Kwantu 12; Queensburgh 15, Crusaders 7; Durban Collegians 72, Amabubesi 0.

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Durban Collegians 38, Varsity College 17; College Rovers 43, South Coast Warriors 14.

Onder 20B-liga (Kingspark-uitdaagbeker)

College Rovers 23, Zululand Rhinos 3; Durban Collegians 36, Varsity College 14.

Opgesomde punteleer –

Middelland-subunie

Derde Liga (Crowebeker)

Ladysmith 15, Voortrekker-oudleerlinge 7, Drakensberg (Winterton) 5, UKZN III 2, Greytown 0.

Vierde Liga (Rawbeker)

Cedara 11, Obhejane 9, Nagle Dam Rhinos 5, Howick Eagles 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.