KZN-liga: albei kampioene steeds onoorwonne

Albei KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se senior kampioene en Goue Bekerspanne is steeds onoorwonne met die eerste ronde van die Premierliga wat einde se kant toe staan.

College Rovers, die Moorbekerhouer (Premierliga), het Saterdag ʼn wegholoorwinning van 57-0 oor South Coast Warriors (SCW) van Uvongo behaal; en Durban Collegians, die Murraybekerhouer (uitklopreeks), het meer beskeie met 33-15 teen Varsity College (VC) gewen.

In die ander Premierligawedstryde het Amanzimtoti oortuigend met 47-12 teen Zululand Rhinos van Empangeni gewen; UKZN Impi moes uithaal om Richardsbaai met 37-31 te klop; en Jaguars van Sydenham het die Newcastle Highlanders met 33-10 verslaan.

In die Eerste Liga het Hillcrest Vrydag sy onoorwonne rekord gestand gedoen deur Queensburgh met 69-8 te oorrompel.

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê die span kom dié seisoen eenvoudig nie aan die gang nie.

“Die wedstryd [teen Jaguars] is die eerste tien minute van doellyn tot doellyn gespeel soos die spanne beurtelings verwoed aangeval het.

“Die Highlanders het in dié rukkie drie skoppe pale toe verbrou, en dis duidelik dat Johan Esterhuizen in dié opsig gemis word. Nóg vier skoppe pale toe het in die loop van die wedstryd misluk.”

Swanepoel sê die Jaguars het foute deur die Highlanders uitgebuit en drie vinnige drieë gedruk om binne 20 min met 21-0 voor te loop.

“Albei spanne het probeer aanvallende rugby speel en met elke geleenheid met die bal gehardloop, maar die afronding was nie op peil nie, hoewel die Jaguars sʼn op die duur ʼn bietjie beter as die Highlanders sʼn was.”

Hy sê die Highlanders het met Nico-Jan Chowles (slot) goeie lynstaanwerk gelewer, en tussen hom en Ruan Fourie (agsteman) goeie, skoon balle gewen.

“Highlanders het in die laaste 20 min na die fikser span gelyk, maar nadat hulle ente veld gewen het, het hulle om die een of ander rede die bal stadig laat uitkom deur te na aan die losskrum te speel.

“As die pas versnel is, sou die Jaguars in die moeilikheid gewees het, soos gebeur het die keer toe Ferrari Hadebe (linkervleuel) mooi afgerond het.”

Swanepoel sê die Highlanders het die teenstanders in die skrums onder druk gehad, maar ʼn mens kan nie los teen die Jaguars wil speel nie.

“Dan is hulle gevaarlik, en sal hulle die meeste spanne straf, soos hulle in vier gevalle met die Highlanders gedoen het.”

Hy sê Hadebe en Max Mkhezi (buitesenter) het agterlangs goed vertoon, en voor het die jong Fourie soos elke naweek sy hart uitgespeel.

“Mthoko Nkwanyana (haker) en Vee Mbonane moet ʼn klop op die skouer kry. Laasgenoemde is eintlik ʼn flank, maar was bereid om Saterdag slot te speel, en al is hy nie die langste slot wat rondloop nie, het hy hom deeglik laat geld.”

Highlanders II het ʼn welverdiende oorwinning van 17-12 teen die Jaguars behaal.

Swanepoel sê dit was moeilik om etlike naweke agtereenvolgens in Durban te gaan speel, en hy hoop die drie naweke wat die span nou op Newcastle speel, sal die spelers nuwe moed laat skep.

Eerskomende Saterdag speel hy teen die UKZN Impi van Pietermaritzburg.

Ander uitslae –

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Collegians 31, VC 15; Rovers 98, SCW 3; Toti 64, Rhinos 8; UKZN 12, Richardsbaai 8.

Eerste Liga (Suid)

Harlequins 34, Pietermaritzburg Collegians 3; Durban Mets 19, Ballito Dolphins 14.

Eerste Liga-reserwes (Suid)

Quins 52, Collegians 10; Ballito 55, Mets 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.