KZN-liga: Beserings, rooi kaart beskaam hoop

Beserings en ʼn rooi kaart het Newcastle se hoop op ʼn sege in sy laaste wedstryd in vanjaar se KwaZulu-Natalse Premierliga beskaam.

Die agteros, South Coast Warriors (SCW), het hom in Uvongo met 42-0 gestoomroller.

André Swanepoel, Boschpick Newcastle Highlanders se hoofafrigter, sê sy span moes die laaste 30 minute oral probeer gate toestop, maar die wal het uiteindelik gebreek.

“Die twee spanne het uit die staanspoor ingeklim, en ná 25 minute was daar nog geen telling op die bord nie. Rustyd was die Warriors met 14-0 voor.

“Die eerste tien minute in die tweede helfte het die telling stilgestaan, maar toe volg die rooi kaart en Warriors het dit deeglik uitgebuit om vier goeie drieë te druk.”

Swanepoel sê beserings was vir die Highlanders aan die orde van die dag.

“Nadat Nico-Jan Chowles (slot) binne die eerste vyf minute af is, het Highlanders geweldig gesukkel in die lynstane – normaalweg een van sy sterkpunte – en toe Jacques van Rooyen (flank) boonop óók die veld met ʼn beenbesering verlaat het, het dit selfs slegter gegaan.

Kakebeen uitgehaak

“Max Mkhezi (buitesenter) het sy kakebeen in ʼn duikslag uitgehaak. Hy is een van Highlanders se sterre dié seisoen, en hoewel hy moedig probeer voortspeel het, moes hy uiteindelik eweneens tou opgooi.”

Swanepoel sê Warriors, met sy afrigter en kaptein, Juan van der Berg (slot), wat van voor af gelei het, het die laaste halfuur puik rugby gespeel, en met sy swaar pak voorspelers ten volle munt uit Highlanders se mannekragtekort geslaan.

“Agterlangs was Jacques Petzer-Moore (binnesenter) die generaal in die Warriors se agterlyn.

“Vir Highlanders het sy kaptein, Wandile Sibiya (slot), en Dian Boshoff (agsteman) hard probeer.”

Uitstekende seisoen

Highlanders se tweedespan het sy ligabepalings met ʼn sege van 8-5 teen SCW afgesluit.

“Die span het ʼn uitstekende seisoen beleef, en nege van sy 14 wedstryde gewen, om boaan die punteleer van die Premierreserweliga (Onderste Vyf) te eindig. In die geheel is hy derde ná College Rovers en Durban Collegians,” sê Swanepoel.

“Highlanders het nou ʼn lang wagtyd tot die Murraybeker se uitklopwedstryde op 29 Julie afskop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.