KZN-liga: Collegians en Rovers onstuitbaar

Newcastle Highlanders - logoDurban Collegians en College Rovers storm steeds onstuitbaar voort en het Saterdag weer groot oorwinnings weg van die huis af in die KwaZulu-Natalse reeks om die Moorbeker behaal.

Collegians het UKZN Impi 60-0 in die Peter Booysenstadion in Pietermaritzburg geklop, en Rovers het South Coast Warriors 66-7 op die Douglas Mitchell-sportterrein op Uvongo getroef.

♦ Boschpick Newcastle Highlanders se beseringsnagmerrie kom eenvoudig nie tot `n einde nie en Saterdag se nederlaag van 3-85 teen Amanzimtoti het opnuut sy tol geëis. Toti was rustyd reeds 43-0 voor.

André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, sê die eerste skrum in die eerste minuut van die wedstryd het geval en die span se loskopstut Wynand Pelser het sy borsspier morsaf geskeur. Die tweedespanstut moes uit die kleedkamer kom om nóg `n wedstryd te speel.

Ook die buitesenter Arries Mbuli is met `n dyspierbesering van die veld af.

“Die beseringslys groei eenvoudig, en wat kommer wek, is dat die spelers regtig hard aan hul fiksheid gewerk het, en dieselfde en méér in die voorseisoen gedoen het.”

Swanepoel sê Toti is `n goed gedrilde span, baie fiks en in `n puik kondisie. Alles word met oorgawe en presisie gedoen.

“Dit blyk logies uit die telling dat hulle alle fasette oorheers het, maar die Highlanders verdien lof dat daar van moed opgee nooit sprake was nie.

“Ná elke drie wat gedruk is, het die manne teruggedraf halflyn toe en weer probeer. Hulle het geduik vir die vale, maar Toti se ondersteunende spel was eenvoudig te goed en al die gate kon nie toegestop word nie.

“Toti is maar drie jaar in die Premierliga en is reeds een van die topdrie klubs in die bond.”

Swanepoel loof die spelers dat hulle nie in sak en as gaan sit het nie, maar daar en dan besluit het om voortaan Maandae ook te oefen en bykomende moeite te doen – en hulle het sommer die afgelope Maandag al ingeval.

hillcrestnewEerste Liga (Suid)

♦ In die Eerste Liga (Suid) het Land Rover Durban-Hillcrest Villagers vir UKZN Durban Donderdag 31-5 op die Durban Shongweniklub se veld geklop.

Danielle Audibert, die woordvoerder van Hillcrest, sê dit het `n rukkie geduur voor die span sy voete gevind het, maar het op die ou end die spel teen die studente oorheers.

Kyle Spowart en Waugh was die topspelers en Luthuli se reuseduikslag op `n UKZN-voorspeler in die tweede helfte was die beste van die wedstryd.

Alex Klewinghaus, Brandon Waugh, Bokke Luthuli, Stefan Uys en Tyrone Bakker het die wenspan se drieë gedruk, en Klewinghaus en Henkie Groenewald het die res met die skopvoet bygedra.

Audibert berig die tweede spanne het 5-5 gelykop gespeel in `n klipharde en deur beserings ontwrigte wedstryd.

“Hillcrest het die grootste deel van die wedstryd danksy `n onverdoelde drie deur die skrumskakel, Wade Windell, voorgeloop.

“UKZN het eers reg teen die einde – teen die verloop van die spel in – sake gelykop gemaak.”

Jarred Ground en Nathi Gono was die spelers van die wedstryd.

Vrydag het Envirosan-Hillcrest Villagers III vir Ogwini Bafana van Lamontville 56-0 op Shongweni geklop.

Audibert sê die wedstryd het straf begin met albei spanne wat hul spiere gebult het, maar namate Hillcrest die tempo verhoog en sy talent uitgestal het, het die telbord daarmee tred gehou.

“Die span van Lamontville het tot met die eindfluitjie nooit tou opgegooi nie, en dit was `n skoon, genotvolle wedstryd.”

Cliffy Bridge het drie drieë gedruk en sewe verdoel om 29 van sy span se punte aan te teken.

Devon van Sky, Wandile Shelembe, Mike de Kock, Hein Grobler en Karl Ludick het die ander drieë gedruk en Grobler het een verdoel.

mtubatubaZoeloeland

♦ Riaan Hedder, die spanbestuurder van Mtubatuba, laat weet die span het Pongola Vrydag in `n harde fisieke wedstryd 11-8 geklop om ná vyf rondes die enigste onoorwonne span in die Zoeloelandse liga te wees.

“Mtuba het die telbord met `n strafdoel deur Reinhardt Hedder (slot) aan die rol gesit. Die agsteman Karli Schulze het na `n sterk rolmaalbeweging vir `n drie oorgegaan.

“Die tweede helfde het `n drie en `n strafdoel vir Pongola opgelewer en met vyf minute speeltyd oor het Hedder Mtuba se oorwinning met `n langafstand-strafdoel verseker.”

Hedder (die bestuurder) sê Pongola het deurgaans sterk aangeval, maar Mtuba se rotsvaste verdediging, sterk agttal en agterlynvaart was een te veel vir hom.

Middelland

♦ Ladysmith is op sý beurt die eniste onoorwonne span in die Middellandse liga nadat hy Vrydag Voortrekker-oudleerlinge van Pietermaritzburg 24-0 in die reeks om die Crowebeker geklop het.

Die huidige kampioen, Drakensberg van Winterton, het 52-5 teen die agteros, Greytown, gewen.

♦ Cedara, die voorloper in die reeks om die Rawbeker, is deur die Howick Eagles – laaste in die reeks – verras en het 11-10 deurgeskraap.

Obhejane het 19-10 teen die Nagle Dam Rhinos gewen.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

Varsity College 20, UKZN Impi 0; Crusaders 26, Jaguars 16.

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

Durban Collegians 61, UKZN Impi 3; Varsity College 35, Zululand Rhinos 15; Crusaders 27, Jaguars 17; College Rovers 61, South Coast Warriors 0.

wobEerste Liga (Suid)

Westville Old Boys (WOB) 26, Ballito Dolphins 17; Pietermaritzburg Collegians 38, Harlequins 32.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

WOB 52, Ballito Dolphins 0; Pietermaritzburg Collegians 17, Harlequins 14.

Derde Liga (Walkerbeker)

Durban Collegians 26, Pinetown 0; Crusaders 9, Kwantu Spears 6; College Rovers 48, Amabhubesi 7.

O.20A-liga (Frank Norrisbeker)

South Coast Warriors gee punte teen Durban Collegians; College Rovers 53, UKZN Durban 0.

O.20B-liga (Kingspark-uitdaagbeker)

Durban Collegians 72, Zululand Rhinos 0; UKZN Durban 12, College Rovers 5.

Opgesomde punteleer –

Middellandse Subunie

Crowebeker

Ladysmith 20, Drakensberg 10, Voortrekker-oudleerlinge 7, UKZN III 2, Greytown 0.

Rawbeker

Cedara 15, Obhejane 13, Nagle Dam Rhinos 5, Howick Eagles 5.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.