KZN-liga: geel kaart kan kwalik duurder wees

Newcastle Highlanders - logoKan die eer om in `n voorwedstryd vir `n provinsiale kragmeting te speel `n span “onbekendes” tot groter hoogte aanvuur?

Dis die vraag wat Boschpick Newcastle Highlanders Saterdag sal moet beantwoord wanneer hy Crusaders van Northwood op Newcastle in `n voorwedstryd vir die botsing tussen die Sharks-vyftiental en die Pumas aandurf.

Die provinsiale wedstryd is in die opstelronde vir die reeks om die Curriebeker, die klubwedstryd in die KZN Premierliga Onderste Ses.

Die Highlanders is vanjaar dermate deur beserings gery dat die span haas onherkenbaar is van die een wat verlede jaar die Eerste Liga (Noord) gewen het.

André Swanepoel, Newcastle se hoofafrigter, sê die klub sal die 2016 seisoen so gou moontlik wil vergeet omrede die nimmereindigende reeks beserings waarmee hy te kampe het.

Die jongste slag is die flank Jaco van Staden se skouerbesering die afgelope Saterdag teen die Zululand Rhinos, `n stryd wat die span van Empangeni 65-27 gewen het.

“Die Highlanders het met `n onbekende span sonder `n paar staatmakers Empangeni toe gery, maar die spelers moet weereens krediet kry vir hul vertoning.

“Dit het aanvanklik gelyk of die span die wa deur die drif kan trek toe twee baie goeie drieë en `n strafdoel Highlanders 15-5 laat voorloop het.”

Sake het dramaties verkeerd vir die Highlanders geloop toe Van Staden agt minute voor rustyd `n geel kaart op die lyf loop – en Rhinos tydens sy afwesigheid vier drieë druk, drie voor rustyd om 26-15 voor te loop, en nog een terwyl Van Staden ná rustyd nog in die koelkas was, wat die Zoeloelanders 33-15 laat voorloop het.

`n Geel kaart kan kwalik duurder wees as die 28 punte wat dit die Highlanders Saterdag gekos het.

Swanepoel sê Newcastle het die eerste 20 minute ná rustyd gesukkel om weer vaste grond onder sy voete te kry, maar die Rhinos in die laaste 20 minute laat bontstaan.

“Langa Shabalala (heelagter) het met sy vaart beïndruk en drie pragtige drieë gedruk. Pieter de Beer het die vierde gedruk, wat Highlanders `n bonuspunt besorg het.

“Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat die spelers hul harte uit speel nie, maar foute, veral op die verdediging, kom `n span duur te staan in die Premierliga.”

Swanepoel sê Tyler Fisher (haker) en Lindani Nyembe (flank) het voorlangs die oog gevang. Shabalala (15) was baie lus om te hardloop en Ferrari Hadebe (regtervleuel) se puik spel het opgeval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.