KZN-liga: groter fiksheid laat Mtubatuba wen

mtubatubaGroter fiksheid het Mtubatuba Vrydag in staat gestel om Empangeni in die eerste ronde van die Zoeloelandse Subunie se reeks om die Stewartskild te klop.

Mtuba het die kragmeting 21-12 gewen.

Sy losskakel, Christo Pelser, het 11 van Mtuba se punte met `n doelskop en drie strafdoele aangeteken.

Riaan Hedder, Mtuba se spanbestuurder, sê puik voorspelerspel het bygedra tot die goeie drie wat die loskopstut, Wonderboy Zikhali, in die eerste helfte gedruk het.

“Empangeni het al twee sy drieë in die eerste helfte gedruk deur die bal vinnig met die agterlyn langs te versprei.

“Mtuba se tweede drie was `n wonderlike spandrie wat deur die buitesenter, Msizi Buthelezi, gedruk is ná die span uit sy eie 22-m-gebied gehardloop het.”

Hedder sê die wenner het goed as `n span saamgespeel en gesonde dissipline regdeur die harde wedstryd aan die dag gelê.

“Die span se fiksheid só vroeg in die seisoen het teen die einde van die wedstryd `n wesenlike bydrae gelewer om Empangeni tot oorgawe te dwing.

“`n Paar paar veranderings in die Mtuba-span met rustyd het `n groot verandering teweeggebring en die vervanging in die voorry het sy sterk skrum verder verbeter en menige vaskopbal gelewer.”

Hedder sê daar was `n paar geleenthede in die wedstryd dat Mtuba `n bietjie gaan lê het, maar goeie verdediging het Empangeni van die doellyn weggehou.

Die nuwelinge Manaba Myeni (skrumskakel) en Karl Romer (flank) het met die toekennings as spelers van die wedstryd weggestap.

Middelland

♦ In die subunie Middelland het Ladysmith Saterdag vir `n groot verrassing gesorg deur die Crowebekerkampioen, Drakensberg van Winterton, oortuigend 36-10 te klop.

Die wenspan het ses drieë teen twee gedruk.

In die ander wedstryd in dié reeks het Voortrekker-oudleerlinge (VOB) van Pietermaritzburg 15-15 teen sy buurman, die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), se derde span gelykop gespeel.

Obhejane het die Nagle Dam Rhinos 27-14 in die reeks om die Rawbeker geklop, en Howick Eagles het Cedara 3-0 getroef.

Opgesomde punteleer –

Crowebeker (KZNRU Derde Liga)

Ladysmith 5, KZNU III 2, VOB 2, Drakensberg 0. (Greytown het nog nie gespeel nie.)

Rawbeker (KZNRU Vierde Liga)

Obhejane 5, Howick Eagles 4, Cedara 1, Nagle Dam Rhinos 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.