KZN-liga: hele paar vyftigtalle in topreekse

Die afgelope naweekronde het ʼn hele paar vyftigtalle in die topreekse van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) opgelewer.

Westville Old Boys (WOB) het onder meer met 55-5 en 50-0 teen Pietermaritzburg Collegians gewen; en Northwood Crusaders het Newcastle Highlanders met 50-12 en 50-0 geklop.

Declan Braithwaite, die spelersverteenwoordiger in die WOB-klubkomitee, sê die klub se eerste span het vol selfvertroue teen Collegians opgedraf, maar hom in ʼn sterk en aangespoorde teenstander vasgeloop.

“Die eerste skermutselings was verwoed, en dit het die pas vir die res van die kragmeting aangegee.
“WOB het die teenstanders se doellyn met aanslae bestook, en uiteindelik daarin geslaag om dit oor te steek en die drie te verdoel,” het Braithwaite aan Pale Toe! gesê.

“Dit het blykbaar die wind uit Collegians se seile gehaal, en die tuisspan s’n gespan.”

Hy het die Pietermaritzburgse span lof toegeswaai omdat hy nooit tou opgegooi het nie, en teen die einde van die wedstryd ʼn troosdrie gedruk het.

Braithwaite sê ʼn allemintige skrumvertoning het verseker dat WOB se stutte, Jay Koen and Jonny DeBroize, die toekenning as voorspeler van die wedstryd gedeel het.

ʼn Driekuns het die benoeming as agterspeler van die wedstryd aan die immergroen senter Luke Charter besorg.
Braithwaite sê die tweede spanne het ook nie op hulle laat wag toe hulle aanmekaar gespring het nie.

Vlaag op vlaag

Collegians het vlaag op vlaag van Westville se aanvalle afgeslaan, maar die bres is geslaan toe die senter Chase Draper deur die verdediging geklief en die agsteman Matthew Burgess wegstuur het om onder die pale te gaan druk.

“WOB het hom by sy wedstrydplan en -struktuur bepaal en kort voor lank die teenstanders se doellyn in reëlmaat begin oorsteek.

“Beserings aan albei kante het die speltempo verslap, en die wedstryd het begin uitrafel.”

Warren Pather, wat in die voorhoede ʼn reusestryd op die verdediging gevoer het, is die eerste keer in sy loopbaan as die speler van die wedstryd aangewys. Braampie Mouton was die tweede keer in twee weke die beste agterspeler.

“WOB hoop om die stukrag te behou vir sy volgende wedstryde op 21 April teen Harlequins op die Bluff,” het Braithwaite gesê.

♦ Boschpick Newcastle Highlanders het sy derde agtereenvolgende ligawedstryd verloor, dié keer teen Crusaders in ʼn voorwedstryd vir die Sharks teen die Jaguares op Kingspark.

André Swanepoel, Highlanders se hoofafrigter, sê skoppe wat nie uitgeskop word nie, het weereens sy span se ondergang bewerkstellig

Crusaders het 50-12 gewen het nadat hy rustyd reeds 33-12 voor was.

Swanepoel sê Highlanders moet besef – en sal dit vining moet doen – dat foute in die Premierliga ʼn span duur te staan kom.

“Dit moes in die eerste drie wedstryde reeds tot hulle deurgedring het, want sake raak al hoe moeiliker. Die volgende twee wedstryde is weg teen Amanzimtoti en College Rovers [laasgenoemde die KZNRU-kampioen].”

Swanepoel sê hoewel Saterdag se Highlanders-span gemiddeld slegs 22 jaar oud was, is dit geen verskoning vir die foute wat begaan is nie.

“Crusaders het binne die eerste tien minute met 14-0 voorgeloop. Highlanders het teruggeveg en met ʼn onderskepdrie die agterstand tot 7-14 laat krimp.

“Die spel het ʼn goeie kwartier lank wipplank gery sonder dat punte aangeteken is, toe het Crusaders nóg ʼn blitsoorlog gevoer om rustyd met 33-12 voor te loop,” het hy berig.

“Binne twee minute ná rustyd het het Crusaders weer gaan druk om die voorsprong tot 40-12 te rek. “Highlanders het getoon dat hul fiksheid nie te versmaai is nie, en met puik verdediging gesorg dat daar 30 minute lank geen punte aangeteken is nie.

Bemoeilik

“Eers in die laaste tien minute het Crusaders nog twee drieë gedruk.”

Swanepoel sê sake is vir Highlanders bemoeilik deurdat hul kranige skrumskakel Simpiwe Zulu met ʼn enkelbesering en Riekert Botha (linkervleuel) net ná rustyd met ʼn skouerbesering van die veld af is.

“Highlanders het hul man goed in die skrums gestaan, en in die lynstane ʼn paar balle by Crusaders afgeneem, maar eweneens een of twee afgestaan.

“Agterlangs kon Highlanders glad nie aan die gang kom nie, maar Gift Mabaso (binnesenter) en Kyle Greeves (plaasvervanger) het uitmuntend verdedig.”

Drasties

Hy sê Crusaders was eenvoudig te sterk in die bolyf en het ʼn hele paar keer die bal bloot uit Highlanders-spelers se hande geruk.

“Drie drieë is só gedruk deurdat hulle naby Highlanders se doellyn die bal eenvoudig uitgeruk het, en vir ʼn drie deurgenael het.

“As afrigter sal ek drasties moet kyk hoe ons kan en móét verbeter, veral ons lynskoppe.”

Highlanders se drieë is deur Botha en Telly Ngobese (regtervleuel) gedruk. Shane van Rooyen (losskakel) het een verdoel.

Highlanders III het sy wedstryd teen Flying Eagles in die Noord-KZN-subunie se liga met 70-10 gewen.

Die klub se o.20-span speel eers weer op 27 April as hy op Newcastle teen Crusaders kragte meet.

Hillcrest Villagers en Durban Mets sak vir ʼn skrum. (Foto: Danielle Audibert)

♦ Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, laat weet die klub se drie spanne het die naweek skoonskip in hul ligawedstryde gemaak.

Die eerste span het oortuigend met 33-9 teen Durban Mets gewen; die tweede het Mets met 46-10 geklop; en die derde het met 21-0 teen Ogwini Bafana van Lamontville gewen.

Missen sê ongeag die eerste span se groot sege oor Mets het hy talle strafskoppe afgestaan en by geleentheid net 13 spelers op die veld gehad.

Patrick Mclaughlin (voor) en Tommy Bezuidenhout (agter) was die spelers van die wedstryd.

Mike de Kock, Villagers se hoofafrigter, en Wally Fobian, Mets se voorsitter, was wedersyds vleiend oor mekaar se spanvertonings, en die gees waarin die wedstryd gespeel is.

Roben Anderson was die beste voorspeler, en Mitch Piper die beste agterspeler.

Hillcrest se derde span moes swoeg vir sy sege teen Ogwini, wat verwoestend gelak het, en ʼn paar keer die bal lekker wyd gespeel het.

“Op die ou end was dit brute krag, grootte en vasbeslotenheid wat Villagers se telling daargestel het,” het Missen laat weet.
“Big Richard” Hawkesworth was voorlangs die uitblinker, en Charl de Klerk agterlangs.

Die eerste twee spanne speel Saterdag 22 April weg teen Ballito Dolphins, en die derde speel die vorige aand teen Amanzimtoti op Toti.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.