KZN-liga: Highlanders hardloop Rhinos kis

Dit was skouspelagtige hardlooprugby wat die Highlanders van Newcastle Saterdag in staat gestel het om ʼn goeie oorwinning oor Empangeni se Zululand Rhinos te behaal.

Só berig André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, oor sy span se sege van 44-38 in die KwaZulu-Natalse Premierliga, sy eerste van die seisoen.

“Die Highlanders het uit die staanspoor gelyk na ʼn span wat wil wen, by elke moontlike met die bal gehardloop, en voor rustyd reeds vier drieë gedruk om met 27-10 voor te loop.

“Al vier was langafstanddrieë. Selfs die strafdrie het ʼn lang aanloop gehad voor ʼn Rhino-speler die bal afgeklap het.”
Swanepoel sê in ʼn wedstryd wat 13 drieë opgelewer het, moet albei spanne geloof word vir die wyse waarop hulle bereid was om van enige plek op die veld af aan te val.

“Senzo Mbali (regtervleuel) van die Highlanders se drie, die beste van die dag, het gevolg nadat hy in sy eie kwartgebied ʼn mooi kortskoppie gegee, die bal opgepik, en 50 m genael het voor hy kon gaan druk.

“Die speler van die wedstryd, Max Mkhezi (regtervleuel) het seker sy heel beste wedstryd vir die Highlanders gespeel, en is met drie drieë beloon.

“Ferrari Hadebe (linkervleuel) het weereens met sy vaart beëndruk, en twee puik drieë gedruk.”

Swanepoel sê die feit dat al Newcastle se drieë deur sy buiteagterspelers gedruk is, gee ʼn goeie aanduiding van hoe oop die wedstryd was.

“Aan die Rhinos se kant het Jors Danhuaser (heelagter) en Dean Moolman (binnesenter) die Highlanders laat skarrel, en Shaun Booth (slot) het meer as een keer soos ʼn wafferse senter gehardloop.

“Die Zoeloelanders het sterk teruggeveg van ʼn agterstand van Rhinos 19-44 af, en het met ʼn minuut se spel oor ʼn drie gedruk om binne trefafstand te kom.

“Dit was egter te laat, en die Highlanders het as verdiende oorwinnaars van die veld gestap.”

Swanepoel sê Highlanders se tweede span het met 20-17 gewen om sy vyfde agtereenvolgende sege te behaal.

“Janri Barnard (losskakel) en die nuweling Ricky du Toit (skrumskakel) het agterlangs goed vertoon; en tussen die voorspelers het Rossouw Pistorius (haker) en Geran van Zyl (vaskopstut) die oog gevang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.