KZN-liga: Hillcrest klop Ballito op ʼn galop

Hillcrest se Brandon Waugh trek twee Ballito-spelers op hom om Kyle Bester deur die gaping te stuur. (Foto: Danielle Audibert)

Hillcrest Villagers het sy sukses vanjaar in die KwaZulu-Natalse Eerste Liga voortgesit deur Ballito Dolphins in die jongste naweekronde op ʼn galop te klop.

Sy eerste span het oorweldigend met 72-0 gewen en die tweede met ʼn stemmiger 12-0.

Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, sê sy span het die veld vol gespeel en die Dolphins met vinnige, aanvallende rugby verbyster.

“Die hoofafrigter, Mike de Kock, was ooglopend uiters beïndruk met sy span se vertoning en dissipline.”

Kyle Bester was die beste voorspeler en Brandon Waugh die beste agterspeler.

Dit was dié keer moeiliker, maar Hillcrest II is steeds op die wenpad ná sy 12-0-sege oor Ballito II.

Chris Childsmith was die voorspeler van die wedstryd, en Brandon Young die beste agterspeler.

Die klub se derde span het teen Amanzimtoti verloor en Missen sê vandeesweek se loslootjie sal die span kans gee om reg te ruk voor sy volgende kragmeting.

Calvin McClung (voorspeler) en Gareth Morgan (agterspeler) was Hillcrest se grootste uitblinkers.

Hillcrest speel Woensdag op Durban Shongweni teen Harlequins.

Quentin Tarantino-rolprent

♦ In nog ʼn Eersteligawedstryd moes Westville Old Boys (WOB) sy storie ken om Harlequins met 27-26 te klop. Sy tweede span het met 20-9 gewen, en die derde met 34-5.

Declan Braithwaite, die spelersverteenwoordiger in die WOB-bestuur, sê dit was een van die skaars geleenthede in KZN-klubrugby dat al drie spanne in dieselfde week teen dieselfde teenstander gespeel het.

Hy bestempel die eerste span se wedstryd teen Quins as een van die opwindendste in die jongste tyd, en meen dit het “ʼn sterk ooreenkoms met ʼn Quentin Tarantino-rolprent getoon”.

Braithwaite sê geeneen van die spanne het hoegenaamd teruggehou nie, en hulle het mekaar in gelyke munt terugbetaal in ʼn kragmeting wat deurentyd heen en weer oor die veld beweeg het.

“Hulle het by uitstek die hart en durf vertoon wat kenmerkend van dié twee grootse klubs is.

“Dit was as ʼt ware ʼn geval van wat die een kan doen, kan die ander op verbeter, en albei se ondersteuners was deurgaans op die rand van hul sitplekke.

“Toe Quins vier minute voor die einde die doellyn oorsteek, het dit gelyk of die koeël deur die kerk was, maar WOB se bittereinder-ingesteldheid het meer as een geleentheid geskep voor die agterspeler van die wedstryd, Keegan-Allah Paverd, twee minute voor die einde in die hoek gaan druk het.”

Kolossaal en imposant

Braithwaite sê die slot Kyle Mickleburgh het ná ʼn kolossale en imposante vertoning van 80 minute nog die krag vir ʼn lopie van 60 meter gehad, maar is deur Quins geïsoleer, wat ʼn  laaste aanslag van stapel laat loop het. ʼn Plettervat in die middelveld het ʼn einde daaraan en aan die wedstryd gemaak.

Behalwe Paverd (twee) het Gregory Hosken, Mynhardt van Schalkwyk en Gerard Cleland die wenspan se drieë gedruk. Matthew Larkins het een verdoel.

“Die tweede spanne het vroeg-vroeg verwoed ingeklim en ʼn klompie beserings het die horterige gang verder vertraag.

“ʼn Mate van ongedissiplineerdheid het WOB II ʼn geel kaart en ʼn paar haalbare strafskoppe laat afstaan.

“Deur by sy strukture te hou en die bal wyd te speel, het WOB drie keer gedruk voor die bonuspuntdrie op ʼn losskrum gevolg het.”

Tromop geloop

Cameron Chiocchetti en die sterk slot Kyle Mudgeway het vir WOB uitgemunt.

Warrick McIntosh, Chiocchetti, Declan Braithwaite en Matthew Burgess het die wenspan se drieë gedruk.

Braithwaite sê die derdespanwedstryd het ʼn strawwe eerste helfte opgelewer en die groot Quins-agttal het geneig om te oorheers.

“Hy het hom egter trompop geloop teen ʼn moedige WOB-span wat aanslag op aanslag afgeweer het.

“Nadat die tempo afgeneem het, het WOB meer van die bal gesien, en kon hy die hardlooprugby uitstal waarop hy toegespits was.

Mate van glans

“Daar was teen rustyd al ʼn klompie moeg en afgematte lywe, maar WOB was met 13-0 voor.

“Sy groter fiksheid het in die tweede helfte die deurslag gegee, en hy het in ʼn mate glans verleen aan wat in ʼn toiingrige en sukkelende gedoente ontaard het.”

Bradley Pienaar, André Vorster, Travis O’Sullivan, Tinus Kuhrau en Lunga Ninela het WOB III se drieë gedruk. Avain Broskie het twee en Ninela een verdoel, en Vorster het met ʼn strafdoel geslaag.

Durban Mets is eerskomende naweek WOB se volgende uitdager.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

College Rovers 33, Varsity College 19; Durban Collegians 84, Jaguars 6, Zululand Rhinos 24, UKZN Impi 19; Crusaders 22, Richardsbaai 12; Amanzimtoti 105, Newcastle 7.

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Rovers 49, VC 17; Collegians 62, Jaguars 0; Rhinos 12, Impi 13; Crusaders 65, Richardsbaai 10; Toti 38, Newcastle 3.

Eerste Liga

Pietermaritzburg Collegians 45, Queensburgh 17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.