KZN-liga: Hillcrest oordonder ou-ou staatmaker

Hillcrest se Jono Deighton duik ʼn speler van Pietermaritzburg Collegians. Gerhard Botha is reg om hand by te sit. (Foto: Danielle Audibert)

Hillcrest Villagers het Vrydag een van KwaZulu-Natal se oudste staatmakers geheel en al oordonder in die tweede ronde van die bond se Eerste Liga.

Die verdedigende kampioen het Pietermaritzburg Collegians, ʼn klub wat op sy dag onder meer met die Springboklegende Henry Honiball kon spog, op die Durban Shongweni-veld met 73-0 verniel.

Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, berig dat die span in sy eerste tuiswedstryd vanjaar vroeg-vroeg na snelrat oorgeskakel en ʼn rits drieë ingeryg het.

“Villagers toon dat sy harde voorseisoense fiksheidsoefening en kondisionering hom in staat stel om aanvallende rugby te speel, soos die tellings klinkklaar bewys.

“Collegians verdien egter lof vir die wyse waarop hy, ongeag Villagers se oorheersing, nooit gaan lê het nie.”
Taffy Gutu, die hulpafrigter van Hillcrest se eerste span, was in sy onthaaltoespraak vol lof vir die prysenswaardige manier waarop die span hom van sy taak gekwyt het.

Jono Deighton (voorspeler) en Gerhard Botha (agterspeler) was die spelers van die wedstryd.

Missen sê die tweede span het uit die staanspoor op al sy silinders gevuur en ʼn reeks verbasende drieë gedruk om met 45-0 te wen.

Martin Van Rooyen (voorspeler) en Ruan Taljaard (agterspeler) was die uitblinkers.

Villagers durf Vrydag vir Durban Mets op Korrektiewe Dienste se veld in Westville aan.

Greg Hoskins van WOB toets Queensburg se verdediging. (Foto: Stuart Moores)

Die getal is 87

♦ Westville Old Boys (WOB) het Vrydag voortgestu ná sy sege van 107-0 oor die UKZN Impi by die Wahl Bartman-klubdag, en nog twee groot seges teen Queensburg, die nuweling in die Eerste Liga behaal – albei met 87-0.

Keegan-Allah Paverd het vyf drieë vir die eerste span ingeryg.

Declan Braithwaite, ʼn woordvoerder van die klub, sê WOB se voorspelers het Queensburgh uit die staanspoor op die agtervoet geplaas.

“Vloeiende hardlooprugby en rotsvaste verdediging het die eerste span in staat gestel om die tweede se telling van 87-0 te ewenaar.”

Lawrence Payne, die afrigter, het bygevoeg dat talle kanse om punte aan te teken deur WOB verspeel is, ongeag die vleiende telling.

Paverd is as die agterspeler van die wedstryd aangewys, en die losvoorspeler Tyron Tarpey, ʼn ware werkesel, was die beste voorspeler.

Braithwaite sê die tweede span het eweneens sterk weggespring en was rustyd reeds met 60-0 voor.

“Die punte het stadiger gekom nadat talle veranderings aan die opdrafspan aangebring is. Tog is die afrigter, Ryan Schuit, tevrede met die span se diepte.”

Langa Mbongwa en Braam Mouton was onderskeidelik die beste voor- en agterspeler.

WOB speel Vrydag 18:30 en 20:00 tuis teen Pietermaritzburg Collegians en die voorsitter, Johan Stander, het die klub se ondersteuners genooi om ʼn genotvolle gesinsuitstappie van die geleentheid te maak.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

College Rovers 66, Zululand Rhinos 3; Durban Collegians 101, Newcastle 7; Varsity College 20, Northwood Crusaders 12; South Coast Warriors 37, UKZN Impi 19; Amanzimtoti 27, Richardsbaai 25.

Eerste Liga

Durban Mets 24, Harlequins 17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.