KZN-liga: Hillcrest soos stoomroller oor Mets

Wesley Volek van Hillcrest Villagers druk een van sy twee drieë Saterdag teen Durban Mets. (Foto: Danielle Audibert)

Die onoorwonne voorloper Hillcrest Villagers is Saterdag in versengende hitte soos ʼn stoomroller oor die derde geplaaste Durban Mets in die Suidelike Afdeling van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Eerste Liga.

Hy het die Durbanse besoeker op Durban Shongweni met 82-0 platgeloop. Sy tweede span het met 54-5 getriomfeer.

Mike de Kock, Land Rover Hillcrest Villagers se hoofafrigter, sê die eerste span moes vergoed vir sy toiingrige vertoning in die kragmeting teen Mets in die eerste ronde.

“Hy het met puik hardlooprugby, steunspel van die boonste rak, en uiters fisieke verdediging daarin geslaag.

“Die spelers van die wedstryd was Wesley Volek vir sy tweetal drieë en uitmuntende ondersteunig, en Jason du Bruyn, wat die wedstryd meesterlik beheer het.”

De Kock sê die tweedespanwedstryd, op die hitte van die dag, het die spelers se fiksheid tot die uiterste beproef.

“ʼn Lustelose vertoning in die eerste helfte het Villagers ʼn rustydvoorsprong van 12-5 besorg.

“Ná rustyd was die span egter vuur en vlam en het sy meerdere fiksheid hom gehelp om die wegholoorwinning te behaal.

“Die kaptein, Dwayne Frenzel, het van die voorpunt af gelei en was die beste voorspeler. Wade Windell het puik vertoon met sy terugkeer na die rugbyveld, en was die beste agterspeler.”

De Kock sê die derde span het goeie vaardighede in sy sege van 31-0 oor Westville Old Boys (WOB) III aan die dag gelê.
Saterdag se wedstryde teen Ballito Dolphins op Durban Shongwezi begin 14:00 en 15:30.

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, laat weet die bal wil eenvoudig nie dié seisoen vir sy span reg spring nie.
“Richardsbaai het Saterdag met 41-31 (rustyd 24-7) teen Highlanders gewen, in ʼn pragtige wedstryd wat waarde vir geld vir die toeskouers, en 12 drieë tussen die twee spanne opgelewer het.”
Swanepoel sê die Baai het binne 20 sekondes ná die afskop ʼn drie gekry nadat Jimmy Enslin (heelagter) goed 75 m genael het om onder die pale te gaan druk.
“Nog twee drieë het binne die eerste vyf minute gevolg, en dinge het nie goed vir die Highlanders gelyk nie.

“ʼn Vierde drie voor rustyd deur Richardsbaai, en een deur die tuisspan, het hom (die Baai) met 24-7 laat voorloop, en hy het na ʼn baie goed geoliede span gelyk. Sy goeie samespel het die Highlanders laat skarrel, maar namate die wedstryd gevorder het, het Newcastle beter begin speel en was hy ongelukkig om nie nog twee drieë in die eerste helfte te druk nie.”

Hy sê die tweede helfte het eweneens sleg vir die tuisspan begin, toe die besoekers vroeg-vroeg ʼn drie gaan druk het.

“Toe kom die tuisspan se terugvegpoging. Met Wynand Pelser en Drikus Fourie wat as voorrye opgestuur is, het dinge vir die Highlanders begin regkom.

“Eers het die kaptein Wandile Sibiya (slot) gaan druk ná die Highlanders op Richardsbaai se doellyn geboer het. Shane van Rooyen (heelagter) het die drie verdoel.

“Ná goeie spel en ʼn vinnige bal uit ʼn losgemaal het die alomteenwoordige Mthoko Nyawanyana (haker) gaan druk.

“Ongelukkig het ʼn fout van die afskop af die Highlanders duur te staan gekom, en die Baai se JP Rossouw (losskakel) het onder die pale gaan druk,” berig hy.

“Drikus Fourie en Ferrari Hadebe (regtervleuel) het Newcastle se agterstand tot 31-38 laat krimp, maar ʼn omstrede drie teen die einde het hom ʼn tweede bonuspunt gekos.

“Die Highlanders het in die laaste 15 minute die meeste speelwerk gedoen, en twee wanhopige duikslae deur Rossouw op Hadebe het twee sekere drieë afgeweer.”

By topklub instap

Swanepoel sê Enslin en Rossouw van die Baai sal in enige topklub instap.

“Aan Highlanders se kant het Hadabe, Van Rooyen en die reserwe-skrumskakel, Piglet Zulu, in die agterlyn beïndruk. Van Rooyen het met sy lang lynskoppe baie veld gewen.

“Voorlangs het Shakes Mbatha (flank) sy beste vertoning van die seisoen gelewer, en Ruan Fourie (agsteman) het, in sy sy laaste wedstryd voor hy Maandag by die Sharks-o.19-span aansluit, sy gebruiklike goeie spel gelewer.”

Drikus Fourie, Sibiya, Nyawanyana, Hadebe en Gunza Mtloung (vaskopstut) het Newcastle se drieë gedruk, waarvan Van Rooyen drie verdoel het.

Swanepoel is baie trots op die klub se tweede span, wat ná drie nederlae met meer as 100 punte, die bordjies verhang, en vier opeenvolgende seges behaal het om sewende op die punteleer te staan.

Saterdag het Richardsbaai II met 19-11 gewen.

“Spelers soos Janri Barnard (losskakel), sy broer Junior (flank), Pieter de Beer (buitesenter) en Bryn Buthulezi (regtervleuel) hou die manne bymekaar, en hulle het in elk van die vier wenwedstryde met vyf ligapunte weggeloop.

Die Highlanders speel die naweek weer tuis teen die Zululand Rhinos van Empangeni.

Ander uitslae –

Premierliga (Moorbeker)

College Rovers 45, UKZN Impi 0; Durban Collegians 43, Crusaders 20; Varsity College (VC) 43, Zululand Rhinos 17; Jaguars 41, South Coast Warriors (SCW) 31.

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Rovers 67, Impi 67; Collegians 33, Crusaders 7; VC 62, Rhinos 7; SCW 29, Jaguars 19.

Eerste Liga (Suid)

Ballito Dolphins 27, Harlequins 17.

Eerste Ligareserwe (Suid)

Ballito 34, Quins 12.

Derde Liga (Walkerbeker)

Rovers 37, Kwantu 3; Clermont 41, Collegians 0.

Vyfde Liga (CF Glewbeker)

Scottburgh 24, Burning Spears 3.

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Rovers 49, UKZN 14; Crusaders 25, Jaguars 12.

Onder 20B-liga

Collegians 71, Amanzimtoti 7; Rovers 78, Rhinos 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.