KZN-liga: Hillcrest storm onstuitbaar voort

Mark Hodgkiss, die voorspeler van die wedstryd, val aan teen Queensburgh. (Foto: Danielle Audibert)

Hillcrest Villagers storm onstuitbaar voort in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Eerste Liga (Suid).

Hy het Vrydag met 69-8 teen Queensburgh gewen; nadat hy die vorige week die enigste ander onoorwonne span, Westville Old Boys (WOB), se wenlopie met ʼn sege van 35-12 gestuit het.

Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, sê die span het aanvanklik teen Queensburgh gesukkel om sy ritme te vind, en ʼn dapper besoekende span het met harde duikslae sterk teenstand gebied.

“Villagers het egter kort voor lank die pas versnel, en sy kragtige hardlooprugby begin speel. Die voorspelers se sterk, reguit lopies is afgewissel deur die bal wyd te speel, en die gapings en oorvleuelings te benut.”

Mark Hodgkiss was Hilcrest se beste voorspeler (hy was die vorige week die tweede span sʼn), en Thinus Schoeman die beste agterspeler.

Queensburgh se tweede span het aan die liga onttrek nadat beserings sy nooiensjaar in die Eerste Liga erg ontwrig het.

Hillcrest se derde span het Ogwini Bafana Saterdag op die SJ Smith-hostelterrein in Lamontville in ʼn kwaai mededingende wedstryd met 11-7 geklop.

Heel eerste drie

Die spelers van die wedstryd was James Nzimande (voor) en Gareth Morgan (agter).

♦ Betreffende Hillcrest se sege oor WOB op die Jimmy Bellows-sportterrein, Westville, sê Missen hanteerfoute was algemeen vanweë die nat en koue toestand wat geheers het.

WOB was eerste op die telbord met die heel eerste drie wat vanjaar teen Villagers gedruk is.

“Hillcrest het gesukkel om op dreef te kom, maar laat in die eerste helfte het sy goed ingeoefende bewegings gestalte begin aanneem.

Hillcrest Villagers se span wat ʼn einde aan Westville Old Boys se wenlopie gemaak het. (Foto: Danielle Audibert)

“Ondanks ʼn besering aan die ervare spelskepper Tommy Bezuidenhout, het die tweede helfte die uiters gedissiplineerde span se temperament vir ʼn groot wedstryd na vore laat tree.”

Missen sê WOB het sy man met mag en mening gestaan, maar teen die tyd dat die 80 min om was, het Villagers in elke opsig die botoon gevoer.

Stefan van der Westhuizen is as die beste voorspeler aangewys, en André Fourie as die beste agterspeler.

Hillcrest se tweede span moes hard swoeg vir ʼn sege van 5-3, maar dit plaas hom boaan die punteleer in Eerste Liga-reserwe.

“Hanteerfoute was legio, en die talle strafskoppe wat aan die besoekers toegeken is, het geweldige verdedigingsdruk op die wenspan geplaas.”

Hodgkiss was die beste voorspeler en Ruan Taljaard die beste agterspeler.

Harlequins III het die derde span met 19-0 geklop.

Laasgenoemde speel Woensdag 19:00 by die Durban Shongweni-klub teen Amanzimtoti III.

Die eerste twee spanne speel Saterdag teen Pietermaritzburg Collegians in die Woodburnstadion, Pietermaritzburg.

Die wedstryde skop 13:30 en 15:00 af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.