KZN-liga: Hillcrest stu onoorwonne voort

Die onoorwonne Hillcrest Villagers se stukrag in die KwaZulu-Natalse Eerste Liga is steeds aan die toeneem.

Die klub het in die jongste weekronde nog twee oortuigende oorwinnings by die Durban Shongweni-klub behaal toe sy eerste span Harlequins van die Bluff af met 73-0 verrinneweer het, en sy tweede span aansienlik harder moes werk om met 22-15 te wen.

Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, sê die eerste span het soos wafferse straalmotor uit die staanspoor die nabrander aangeskakel en Quins met ʼn vlaag drieë oorbluf.

“Villagers het besonderse dissipline aan die dag gelê, en die groot skare op skouspelagtige hardlooprugby getrakteer.”

Michael Moxley (voor) en Tinus Schoeman (agter) was die spelers van die wedstryd.

Missen sê die tweede span het sy vorm van vroeër die seisoen herwin om die taai kragmeting teen Quins II te wen.

Roben Anderson (voor) en Tristan Irvine (agter) was die uitblinkers.

Die hoofafrigter, Mike de Kock, en die tweede span s’n, Jarred Chiochetti, het hulle ewe vleiend oor die spanne se vertoning uitgelaat.

André Hendriks, Quins se ondervoorsitter, het Villagers se buitengewoon goeie vertoning geloof, maar gewaarsku dat Quins in die weeromwedstryd veel mededingender sal wees.

Villagers III speel Woensdag 20:00 op Durban Shongweni teen Crusaders van Norwood.

Die eerste twee spanne het ʼn loslootjie in afwagting van 13 Mei se “snelwegderby” teen Westville Old Boys (WOB), die ander onoorwonne span in die Eerste Liga.

Die kragmeting is op WOB se Jimmy Bellowsterrein in Westville. Die tweede spanne speel 14:00, en die eerste 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.