KZN-liga: Impi wen nuwe Natalse intervarsity

UKZN-Impi-logoUKZN Impi het Saterdag die opwindende eerste kragmeting in die nuut ingestelde KwaZulu-Natalse intervarsity teen Varsity College gewen.

Die wedstryd vorm deel van die KZN-rugbyunie se Premierliga, en luidens die bond se klubnuusbrief ding die twee studentespanne voortaan onderling om die Fidelity Security-beker mee.

Impi was rustyd 16-6 voor, Varsity College het kwaai teruggeveg en Impi het uiteinelik net 19-17 gewen.

In die ander Premierliga wedstryde het `n onverbiddelike Durban Collegians vir Jaguars (Durban) 88-0 gestoomroller; Amanzimtoti het sterk teenstand van Crusaders (Northwood) ervaar en net 25-23 gewen; en Newcastle Highlanders het sy eerste wedstryd in die liga gewen deur South Coast Warriors (Uvongo) 27-22 te klop.

Die beplande wedstryd tussen College Rovers en die Zululand Rhinos (Empangeni) is uitgestel.

Newcastle Highlanders - logo♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê swaar weer en reën het veroorsaak dat die skeidsregter die wedstryd teen South Coast Warriors (SCW) tien minute ná die afskop moes staak. Warriors was op daardie tydstip 5-3 voor.

Na `n onderbreking het die twee spanne weer op die veld verskyn en Swanepoel sê dit wil voorkom of die verposing die Highlanders nuwe moed gegee het, want hulle het vinnig twee goeie drieë gedruk.

“Dit het in die moeilike omstandighede met goeie hantering gepaard gegaan en Ferrari Hadebe (linkervleuel) is weggestuur om te gaan druk. Alex Booysen (heelagter) het baie goed geskop en het met vyf van sy ses skoppe geslaag.

“SCW het baie goed teruggeveg nadat hy rustyd 5-17 en `n `n stadium 5-20 agter was.

“Die keerpunt in die wedstryd was gewis toe die telling 20-15 in Newcastle se guns was, en SCW se skopper om watter rede ookal `n strafskop voor die pale met `n skepskop aangedurf en mis geskop het.

“`n Ruk later het Robert Everson (slot) die finale spyker in SCW se doodkis geslaan toe hy ná goeie lopies deur Lindani Mnyeni (flank) en Wandile Nkosi (slot) sake met `n drie afgerond het.

“Met drie minute oor het Highlanders 27-15 voorgeloop, maar SCW het die laaste sê gehad deur tydens die blaas van die toeter `n drie te druk.”

Swanepoel sê die oorwinning was broodnodig en om dit in baie moeilike omstandighede te behaal, het soveel meer vir die spelers beteken.

“Reën bly maar `n gelykmaker van alle vaardighede.”

Agter langs het Booysen sy beste wedstryd gehad sedert hy vir die klub speel, terwyl Almero Roux (losskakel) baie bestendig vertoon het.

“Dit was op die koop toe lekker om Hadebe terug te hê, wat met sy vaart beindruk het,” sê Swanepoel.”

Errit Visser, Highlanders se agsteman en kaptein, het oudergewonte van voor gelei, Everson was uitmuntend in die lynstane en is met `n goeie drie vir sy harde werk beloon. Adriaan Koorts (loskopstut) het saam met Siswe Mavundla (vaskop) goed gespeel.  Attie Venter (haker), `n nuwe toevoeging tot die klub al die pad uit die Kalahari, het gewys hy is `n groot fonds vir die klub.

Highlanders II het SCW II 69-0 opgedreun; Highlanders III het Utrecht I 24-5 geklop; en Highlanders o.20 het 0-22 teen Zululand Rhinos verloor.

south coast warriors - logo♦ Christo Henderson, die hoofafrigter van SCW, sê dit was `n nagmerrie vir sy span met sewe eerstespanspelers wat Saterdag moes werk, en een wat die oggend eers onttrek het. Tog het die klub twee spanne bymekaar gekry om die 500 km na Newcastle aan te durf.

Hy sê die 45 minute in die kleedkamer nadat spel opgeskort is, het die span nie goed gedoen nie en die spelers het die eerste 25 minute in die harde reën met die gladde bal gesukkel.

“Ons het vier drieë teen Newcastle se drie gedruk, maar ons skopwerk het ons in die steek gelaat.”

Hendersen sê Donovan Horn, die klub se uitblinker-senter in 2014, het `n  welkome terugkeer gemaak ná 18 maande aan die Polisiekollege. Hy het boonop puik met Theo Nichols in die middeveld gekombineer.

Vier nuwelinge, wat deel van die klub se diepte- en ontwikkelingsprogram vorm, het hul buiging vir die klub gemaak. Hulle is die slot Jonty Fortuin (Roses United, Paarl), die vleuel Emileo Siebritz (Violets, Paarl), die heelagter Bradley Pulsen en die losskakel Moegamed Polker (albei van Raiders, Johannesburg).

Nichols (buitesenter en die agterspeler van die wedstryd) het SCW se eerste drie gedruk. Hy het nog een misgeloop toe hy nie die lyn kon sien nie en agter die doellyn uitgetrap het.

Juan van den Berg (twee) en Pieter Smith het SCW se ander drieë gedruk en die span het twee bonuspunte daarmee en met die nederlaag van minder as sewe punte verdien.

Van der Berg was die voorspeler van die wedstryd.

Stefan van der Westhuizen, Hillcrest se voorspeler van die wedstryd, in aksie teen Ballito Dolphins. (Foto: Kerrith Howes Photography)

Stefan van der Westhuizen, Hillcrest se voorspeler van die wedstryd, in aksie teen Ballito Dolphins. (Foto: Kerrith Howes Photography)

Eerste Liga (Suid)

♦ Rene Missen, die voorsitter van Land Rover Durban-Hillcrest Villagers, laat weet hulle het Ballito Dolphins 13-10 in `n wegwedstryd in die Eerste Liga (Suid) geklop. Villagers se tweede span het 52-0 gewen.

Hy sê dit was `n vaste en slordige wedstryd waarin Villagers nie die vloeiende spel kon skep waarin hy floreer nie en hy kon gevolglik nie sy oorvloed talent uitstal en die Dolphins oorheers nie.

“As gevolg van Villagers se foute en die verbete uitbuiting daarvan deur `n honger teenstander, het Ballito deurgaans goed by die besoekers kers vasgehou.

“Op die duur kon Hillcrest darem die wedstryd 13-10 beklink.”

Stefan van der Westhuizen and Brian (Cappy) Lewis met Villagers se drieë gedruk. Henkie Groenewald het `n strafdoel behaal.

Van der Westhuizen is as die beste voorspeler aangewys en Groenewald as die beste agterspeler.

Missen sê Villagers se tweede span het sy teenstander deurgaans geheel en al oorheers.

Jacques Gey van Pittuis en Clifton Bridge was die beste spelers.

Die derde span speel 19:00 Vrydag by die Durban Shongweni-klub in `n hoofweg-derby teen Pinetown in die KZN- Vierde Liga (Fowdenbeker).

Middelland

t Ladysmith is steeds voor in die Middellandse Subunie se reeks om die Crowebeker al het hy nie die naweek gespeel nie.

Drakensberg (Winterton) het sy tweede plek verstewig deur Voortrekker-oudleerlinge 45-7 te klop.

Greytown het sy vierde opeenvolgende neerlaag gelei toe UKZN III (Pietermaritzburg) hom 45-5 geklop het.

In die reeks om die Rawbeker het Obhejane en Cedara weer plekke omgeruil nadat eersgenoemde Vrydag 55-10 teen Howick Eagles gewen het. Die wenspan het 11 drieë gedruk.

Cedara het verrassend teen die swakker Nagle Dam Rhinos vasgeval. Die telling was 24-19.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes (Wyliebeker)

Durban Collegians 90, Jaguars 0; Amanzimtoti 30, Crusaders 3; Varsity College 34, UKZN Impi 8.

Eerste Liga (Suid)

Richardsbaai 43, Harlequins 18; Pietermaritzburg Collegians 37, UKZN Durban 17; Westville Old Boys 44, Durban Mets 7.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Richardsbaai 26, Harlequins 5; UKZN Durban 22, Pietermaritzburg Collegians 20; WOB 50, Durban Mets 7.

Derde Liga (Walkerbeker)

Durban Collegians 33, Crusaders 3.

O.20A-liga (Frank Norrisbeker)

Durban Collegians 45, College Rovers 14; Crusaders 83, South Coast Warriors 3; Varsity College 60, UKZN Durban 0.

O.20B-liga (Kingsparkuitdaagbeker)

Varsity College B 50, Harlequins 0; Durban Collegians 32, College Rovers 3.

Opgesomde punteleer –

Middellandse Subunie

Crowebeker

Ladysmith 20, Drakensberg 15, Voortrekker-oudleerlinge 7, UKZN III 7, Greytown 0.

Rawbeker

Obhejane 18, Cedara 16, Nagle Dam Rhinos 10, Howick Eagles 5.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.