KZN-liga: kampioen in naelbytstryd geklop

college rovers-logoDie Kwa Zulu-Natalse Moorbeker-kampioen, Durban Collegians, het Saterdag in `n naelbytstryd sy eerste nederlaag vanjaar in die bond se Premierliga op die lyf geloop.

Sy vernaamste uitdager, College Rovers, het hom 24-22 op Rovers se veld geklop.

In ander wedstryde in die reeks het die UKZN Impi vir Newcastle Highlanders 52-27 geklop; en Varsity College vir South Coast Warriors van Uvongo 15-11. Amanzimtoti het vir Jaguars (Sydenham) 31-5, en Crusaders (Northwood) vir Zululand Rhinos (Empangeni) 48-24 geklop.

Jos Robson, die klubskakelman van die KZN-rugbyunie (KZNRU), berig Rovers was rustyd 21-7 voor, maar Collegians het verbete teruggeveg en op die ou end drie drieë teen die wenspan se twee gedruk.

Met die eerste ronde afgehandel, verdeel die reeks nou in twee. Collegians, Rovers, Toti, Impi en Varsity College vorm die topvyf, en Warriors, Jaguars, Crusaders, Rhinos en Highlanders spook sake onderlangs uit.

Beste van die seisoen

André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê Highlanders het in die laaste 40 minute teen Impi die beste rugby sedert sy bevordering na die Premierliga gespeel, maar dit was 40 minute te laat.

Impi was rustyd 28-5 voor, maar die tweede helfte was `n ander storie toe hy net 24 punte teenoor die Highlanders se 22 kon aanteken om uiteindelik wel 52-27 te wen.

Swanepoel sê die twee spanne het mekaar aanvanklik goed vasgehou en Impi het die eerste punte eers in die 18de minuut aangeteken. Die studente het nog drie drieë in dié helfte behaal.

“Veral die twee Sharks-o.20-spelers Morné Joubert (heelagter) en Tristan Blewett (buitesenter) het die Highlanders hoofbrekens besorg elke keer dat hulle aan die bal gevat en die verdedigers in die lug laat gryp het. Elkeen het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

“Joubert was bepaald verwoestend en het twee keer diep in sy eie kwartgebied begin hardloop om agter die doellyn te gaan kuier.”

Swanepoel loof die Highlanders-span vir sy volharding om in geen wedstryd te gaan lê nie, selfs nie Saterdag toe drie spelers die veld met beserings moes verlaat nie.

“Die haker, Attie Venter, het die veld vroeg met `n skouerbesering verlaat; die flank Dilan Stols is in die eerste helfte met `n lelike oogbesering van die veld af; en die ander flank, Jaco van Staden, se wedstryd is deur `n borsbesering kortgeknip.

“Ons is eenvoudig bitter ongelukkig met die baie beserings hierdie seisoen, maar die Highlanders het in die tweede helfte skouspelagtige rugby gespeel en vier mooi drieë gedruk om met `n bonuspunt van die veld te stap.”

Hy sê die span se 18 drieë in nege wedstryde toon dat hy ondanks teenslae en sterk teenstand deurgaans positiewe rugby gespeel het.

“Die Highlanders het aanvanklik in die lynstane en skrums gesukkel nadat Venter af is, maar het beter gevaar namate die wedstryd gevorder het.

Newcastle Highlanders - logo“Robert Everson (slot) moes noodgedwonge flank toe skuif met Stols se vertrek, en het hom goed van sy taak gekwyt. Die agsteman, Errit Visser, het weer sy waarde as speler en kaptein gewys deur die spelers in moeilike tye bymekaar te hou.

“Mlu Phakati (binnesenter) het flank toe geskuif en insgelyks baie goed vertoon,” berig Swanepoel.

“Agterlangs het Alex Booysen (losskakel), Ferrari Hadebe (linkervleuel) en Bradley Swartbooi (plaasvervanger-senter) het die oog gevang,en die plaasvervanger-heelagter, Langa Shabalala, het met aanvallende rugby van agter af rigting aan die Highlanders se aanvalle gegee.”

Hadebe, Visser, Everson, Van Staden en Booysen het Newcastle se drieë gedruk en Morné Hattingh het met `n doelskop geslaag.

Swanepoel sê die 14 verkwiste punte van vier mislukte strafskoppe en `n doelskop kon `n groot verskil aan die telling maak.

Bitter ongelukkig om nie te wen

South Coast Warriors het puik teen Varsity College (VC) vertoon en was luidens berigte bitter ongelukkig om nie met `n sege te verras nie.

Christo Henderson, die span se hoofafrigter, rapporteer dat die span van Uvongo die voortou geneem het toe Tienie Viljoen met `n strafdoel geslaag het (3-0). VC het met `n drie geantwoord (3-5), waarna Viljoen nog `n strafdoel behaal het om Warriors rustyd 6-5 te laat voorloop.

VC het na rustyd twee onverdoele drieë gedruk om 15-6 voor te loop. Warriors het die druk volgehou en Karel van Rooyen het sewe minute voor die einde die drie gedruk wat die telling op 15-11 te staan gebring het.

Henderson sê Warriors was gou weer op die aanval en Van Rooyen is `n tweede keer oor die doellyn, maar is terruggeroep omdat hy uitgetrap het.

scw“Die videomateriaal toon duidelik dit was nie die geval nie,” sê hy, en merk skertsend op dat daar ongelukkig is daar nog nie TV-skeidsregters op klubvlak is nie.

Brendon Rademeyer was die beste voorspeler vir die Warriors.

“Hy het in die eerste helfte uit posisie haker gespeel, maar het die bal uitmuntend gedra en was uiters doeltreffend by die afbreekpunte. Toe die gereelde haker, Juandré Koekemoer op die veld gekom het, het Rademeyer veral op die verdediging uitgeblink,” sê Henderson.

“Agterlangs het die binnesenter, Donavan Horne, soos gewoonlik voortreflik verdedig, maar was Saterdag selfs blinker op die aanval. Hy het `n paar keer deur VC se verdediging gebreek en ruimte vir sy sentermaat, Theo Nichols, geskep.”

Die Warriors-slot Jeandré Coetzee het `n ernstige kniebesering opgedoen, en sal waarskynlik vir die res van die seisoen buite aksie wees.

Henderson sê die eerste ronde het getoon die span kan in die Premierliga meeding en met `n aanpassing of wat in die klubstruktuur- en steun kan hy vorentoe `n krag in die liga raak.

“Ons sal geen span onderskat nie, het ons verdedigingslinie en hardloopwyse agtermekaar, en speel nie ons spelers kis nie.”

Middelland

In die Midellandse Subunie se reeks om die Crowebeker het Ladysmith vir Greytown 56-7 geklop, maar die wedstryd tussen UKZN III en Drakensberg (Winterton) is uitgestel.

Die opgesomde punteleer sien dusver so daaruit: Ladysmith 25, Drakensberg 19, Voortrekker-oudleerlinge (Pietermaritzburg) 12, UKZN III 7, Greytown 0.

Die eindstryd in die uitklopreeks om die Boet Wesselsbeker (Vierde Liga) word tussen Obhejane en Cedara beslis.

Obhejane het Howick Eagles 38-7 en Cedara vir Nagle Dam Rhinos 34-7 in die halfeindstryd geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.