KZN-liga: kampioene se kollig dalk gesteel

kzn club rugbyTwee groentjies in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga kan Saterdag die bond se Moor- en Murraybekerkampioene se kollig op die Wahl Bartmann-klubrugbydag op Kingspark steel.

Jaguars het Newcastle Highlanders verlede jaar 17-3 in die eindstryd om die Dewarskild (Eerste Liga) geklop, maar die wedstryd is oor die 20 minute vroeg gestaak vanweë swaar weer en gietende reën. Die skeidsregter het gemeen dis te gevaarlik om verder te speel.

Dit sal wensdenkery wees om te wil glo dat dié wedstryd nie steeds in albei spanne se agterkop sit en hul tot die uiterste sal aanspoor nie – die Jaguars om hul oorheersing te bevestig, die Highlanders om die teendeel te bewys.

Nadat Amanzimtoti albei senior provinsiale kampioene, Durban Collegians en College Rovers, in die Flyatoernooi by Crusaders uitgeskakel het, sal daar insgelyks meer as die gewone belangstelling in sy wedstryd teen die derde nuweling in die liga, South Coast Warriors, wees.

Fidelity Security Jaguars teen Boschpick Newcastle Highlanders (11:00)

♦ Donald Ngwenya, die hoofafrigter van Jaguars, is tevrede met die verloop van sy span se voorbereiding vir die seisoen

“Ons het in vier littelosmakers teen Durban Collegians, College Rovers, en teen Varsity College en Harlequins in die Flyatoernooi gespeel.

jaguars-logo“Al het ons teen Collegians en Rovers verloor, was ons deurgaans mededingend en het ons goed gevaar om Varsity en Quins te klop.”

Ngwenya sê die span het teen dié tydstip in die seisoen bereik wat hy hom voorgeneem het om te doen en is gretig om Highlander te pak.

“Ons is terdeë daarvan bewus dat ons ons spelpeil in hierdie liga sal moet lig en elke wedstryd taai sal wees, maar ons is gereed vir die uitdaging wat die bereiking meebring van ons doelwit om in die Premierliga te speel.”

♦ André Swanepoel, Highlanders se hoofafrigter, is eweneens baie opgewonde oor die klub se insluiting in die Premierliga, maar wys daarop dat die span se diepte sommer met die intrapslag getoets word.

“In die agterlyn is al ons eerstekeuse-driekwarte én die skrumskakel beseer. Die agttal lyk goed, maar die vaskopstut is op die krukkerlys en die haker het werkverpligtinge.

“Ons is egter goed voorberei en aanvaar beserings as deel van die spel. Dis jammer dat van die manne die kans misloop om op Kingspark te speel.”

Swanepoel sê sake werk nou wel so uit dat die Jaguars die Highlanders se eerste teenstander sedert die kortgeknipte Dewareindstryd tussen die twee spanne is, maar hy beskou dit allermins as `n wraakwedstryd.

“Die Jaguars is `n goed afgerigte span en sal baie fiks wees. Hulle is daarvoor bekend dat hulle van enige plek op die veld kan aanval.

“Ons het die afgelope week baie aandag gegee aan ons strategie om hulle onder druk te plaas en hoop dit slaag Saterdag,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Die Highlanders hou self daarvan om aan te val waar en wanneer die geleentheid hom ookal voordoen en sal elkeen aangryp, want in dié liga kry jy nie `n tweede kans nie.”

Amanzintoti teen South Coast Warriors (12:30)

♦ Cliff Uppink, Amanzimtoti se voorsitter, sê die klub se spelers lyk goed op dreef ná die voorbereiding suksesvol afgeloop het.

“Ons glo ons sal goed wegspring teen die Warriors, wat ons weet sterk gemotiveer sal wees.”

Uppink sê die klub se oorwinning in die Flyatoernooi, met seges oor Collegians en Rovers op die koop toe, het gewis sy selfvertroue `n hupstoot gegee, “maar dis ietwat voortydig om van `n moontlike verrassing in die Premierliga te praat”.

“Dit sal egter `n uiters mededingende liga wees, met vier spanne wat die beker kan wen, teenoor die afgelope paar seisoene toe daar net twee perde in die wedloop was.”

SA Home Loans Durban Collegians teen Zululand Rhinos (14:00)

wahl baartmandag♦ Die verdedigende Premierligakampioen en houer van die Moorbeker, Durban Collegians, wat die KZNRU later vanjaar in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker sal verteenwoordig, se seisoen begin teen die Zululand Rhinos van Empangeni.

Robin Swanepoel, Collegians se hoofafrigter, sê die span het hard gewerk om sy sake agtermekaar te kry ná `n paar haakplekke in die vriendskaplike wedstryde.

“Ons het ons toegespits op hoe ons werklik die seisoen wil speel, baie hard aan ons geestelike benadering gewerk, en sterk op ons dissipline gekonsentreer, wat ek glo ons ondergang teen Amanzimtoti help bewerkstellig het.

“Ons plan vir die seisoen is uitgewerk en ons doelwitte gestel, en dit tree Saterdag in werking,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Collegians is vasbeslote om nie sake vooruit te loop nie en elke wedstryd en span te benader met die respek wat dit verdien.

“Dit gesê, is ons vol afwagting op die afskop Saterdag 14:00.”

Your Communications College Rovers teen Varsity College (15:30)

♦ Die naaswenner van die Premierliga en wenner van die uitklopreeks om die Murraybeker, College Rovers, speel teen Varsity College.

Die klub se hoofafrigter, Derek Heiberg, sê Rovers het voorseisoens groot klem op die uitvoering van vaardighede gelê en om `n rugbypatroon eie aan die klub te skep.

“Hoewel ons vriendskaplike wedstryde gemenge resultate opgelewer het, is ons tevrede met ons voorbereiding. Die nuwelinge by die klub het almal speelkans gekry, en gou by die span ingeskakel.

“Ons kan nie wag dat die reeks om die Moorbeker begin nie en wil voortbou op die pad waar ons die 2015-seisoen afgesluit het.”

Heiberg sê Rovers besef die liga gaan vanjaar uiters straf wees, maar glo hy het `n groep saamgestel wat baie mededingend sal wees.

varsity college♦ Malcolm Kennedy, die sekretaris van Varsity College, sê die klub het eweneens hard gewerk met die oog op die seisoen wat voor lê.

Daar was `n bestuurswysiging met Doug Lambert wat by Graham Thompson as voorsitter oorgeneem het, en die afrigters het ook verander.

Varsity het `n lekker groot vis gevang met die aanstelling van die hoogaangeskrewe Neil Kalify as hoofafrigter. Hy kry grootliks die eer vir Wanderers (Johannesburg) se vordering uit die Goue Leeus se tweede liga tot in die kwarteindronde (en uiteindelike derde plek) van die nasionale reeks om die Gemeenskapsbeker.

Kalify sal bygestaan word deur die belowende Jeremy McLaren, `n gewese hoofafrigter van Hillcrest (agterspelers), Keith Young, `n gewese afrigter van Brasilië se nasionale span (voorspelers) en Jarrod Powell (kondisionering).

Kennedy sê die klub het heelwat nuwe spelers en sien na die seisoen uit.

“Ons het drie littelosmakers gehad wat benut is om kombinasies op die proef te stel, en hoop om Saterdag baie mededingend te wees.

“Meer kon ons nie juis ter voorbereiding doen nie, dis nou vir die spelers om te presteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.