KZN-liga: knieë en enkels spook by Highlanders

Newcastle Highlanders - logoKnie- en enkelbeserings spook al hoe kwaaier by Newcastle Highlanders wat op die koop toe pas twee van sy uitblinkers aan ander weivelde moes afstaan.

André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê hy weet beserings is deel van rugby, maar die span se beseringslys raak eenvoudig elke naweek langer.

“Ek het al laat ondersoek instel oor die soort besering – 90% daarvan is knieë en enkels met min spierverwante beserings.

“Daar is tans sewe spelers met langtermyn-kniebeserings buite aksie.”

♦ Die voorste sportgeneeskundige en mediese konsultant van die SA Rugbyunie (Saru), Jon Patricios, het op navraag aan Pale Toe! gesê dis baie moeilik om kommentaar oor die kwessie te lewer sonder kennis van die groep en elke individuele besering se omstandighede.

Hy sê `n oplossing hang daarvan af of die beserings aan oormatige gebruik (grootliks te wyte aan te veel oefening) of trauma toegeskryf kan word. In laasgenoemde geval kan dit in `n mate voorkom word deur goeie kondisionering, die behoorlike rehabilitasie van vorige beserings, en beheerde blootstelling veral met oefening.

“Daar is altyd faktore wat met die speler verband hou (minder beheerbaar) asook faktore van buite (meer beheerbaar) wat `n rol by besering speel,” sê Patricios.

♦ Swanepoel sê naas die beseringspook het `n verdere terugslag die klub getref, met die vertrek van sy sterre Riekert Botha (linkervleuel) Griffons o.19-span toe, en Wandile Nkosi (heelagter) Kaap toe.

“Die Highlanders speel Saterdag in Amanzimtoti teen die tuisspan wat vanjaar goeie opgang gemaak het, en as `n betreklike jong span in die Premierliga reeds tussen die vier topspanne in KwaZulu-Natal tel.

“Daarenteen sukkel die Highlanders, wat die Eerste Liga (Noord) die afgelope drie jaar gewen en ook die Dewarskild `n slag ingepalm het, om sy voete te vind.”

Swanepoel sê die Highlanders sal op hul heel beste moet wees om Toti Saterdag te stuit.

“Ondanks die terugslae het Highlanders steeds gewys hulle is bereid om rugby te speel en gebruik nie negatiewe taktiek om tellings laag te probeer hou nie.

“Hulle het in vier wedstryde dusver darem ook 11 drieë gedruk,” sê hy.

“Dit gaan `n groot uitdaging wees om Toti sonder ervare manne soos Robert Everson (slot) en die kaptein en agsteman, Errit Visser, aan te durf, en `n mens sal graag wil sien hoe die agttal sonder hulle vaar.

“Agterlangs is die verlies van Nkosi en Botha se vaart gewis `n gevoelige slag vir die Highlanders.”

Die o.20s speel in Durban-Noord teen Varsity College terwyl die derde span Ladysmith te ry om teen United te speel. Laasgenoemde is tans tweede in sy liga.

Swanepoel sê die o.20s het mooi vlam gevat, die jongklomp is geesdriftig om te speel, en daar is gereeld nuwe gesigte wat hulle by die groep aansluit.

Nie punte gegee

♦ Hy wys daarop dat Newcastle se o.20s nie soos berig is verlede Saterdag punte teen College Rovers gegee het nie, maar dat Rovers ingestem het om die wedstryd later te speel.

Swanepoel sê 95% van die klub (Newcastle) se o.20s is studente aan die plaaslike kollege en was weg vir die langnaweek nadat die kollege reeds die Dinsdag gesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.