KZN-liga: lelike drag slae het tog sy ligpunte

Ondanks die lelike drag slae wat Boschpick Newcastle Highlanders Saterdag teen Durban Collegians in die KwaZulu-Natalse Premierliga op die lyf geloop het, was daar vir die hoofafrigter tog ligpunte in die dag se spel.

Collegians het die kragmeting met 100-7 gewen, nadat hy rustyd reeds 57-0 voor was.

André Swanepoel sê Highlanders kan darem daarmee spog dat hulle baie goed in die skrums en lynstane gevaar het.

“Mthoko Nkwanyane (haker) het twee vaskoppe gehaak, en niks afgestaan nie. Hy het in die eerste twee wedstryde gewys dat hy sy man in die Premierliga kan staan.

“Nico-Jan Chowles (slot) het insgelyks baie goed op sy eie bal in die lynstane gevaar.”

Swanepoel sê hoewel Collegians ʼn superfikse span is, en uitmuntende gehalte toon, is daar geen verskoning om so ver te verloor nie.

“Ek het vooraf reeds gesê die spelers sal drasties moet verbeter.

“Highlanders het wel ʼn moeilike trekking getref om in die begin van die reeks teen al die topklubs te moet speel, maar dis hoe sake werk. ʼn Span moet daarby aanpas.”

Hy sê op die dag se spel was Collegians eenvoudig te vining, te sterk en te fiks vir Highlanders om al die gate te kon toestop.

“Die kere wat Highlanders met die bal probeer hardloop het, moes Collegians sy keer ken. Ná ʼn goeie agterlynbeweging wat tot Riekert Botha (linkervleuel) se drie gelei het, het die Highlanders tien minute lank goeie rugby gespeel, en gewys hulle kan.

“Die groot problem bly maar diepte. Sonder manne soos Ferrari Hadebe (linkervleuel), Corné Vermaak (binnesenter), Alex Booysen (losskakel), Wynand Pelser (stut), Sizwe Mavundla (stut) en Ruan Fourie (agsteman), wat nie gespeel het nie, gaan dit moeilik.

“Boonop is Shaun Smith (regtervleuel) pas voor die wedstryd deur sy werk ontbied, en Wandile Nkosi (heelagter) het ook kort voor die wedstryd onttrek.”

Swanepoel sê dis nie verskoning soek nie, maar diepte is veral in die Premierliga ʼn wesenlike probleem.

“Highlanders sal planne moet bedink om dié probleem uit die weg te ruim.”

Die span speel Saterdag op Kingspark in die hoofvoorwedstryd teen Crusaders.

Highlanders het nou ook ʼn hokkieklub wat saamreis, en dié speel teen Crusaders se mans- en vrouespanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.