KZN-liga: Moorbeker verwissel van hande

South Coast Warriors wen `n bal teen Crusaders. (Foto: MG Röscher)

South Coast Warriors wen `n bal teen Crusaders. (Foto: MG Röscher)

Die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Moorbeker het Saterdag van hande verwissel.

College Rovers het seker gemaak dat hy die bond se Premierliga wen deur verlede jaar se kampioen Durban Collegians 29-21 te klop. Rovers het die beker ook in 2014 gewen.

In die ander wedstryd in die Premierliga-Top6 het UKZN Impi 39-24 teen Varsity College gewen.

South Coast Warriors het vir `n eersteklas verrassing in die Onderste 5 gesorg deur die voorloper, Crusaders, 33-17 te verslaan. Die Jaguars het 41-26 teen Newcastle Highlanders gewen.

Die kollig verskuif nou na die uitklopreeks om die Murraybeker, waar die houer, Rovers, Saterdag teen Zululand Rhinos op Empangeni speel.

Die houer van die Junior Murraybeker, Hillcrest, begin sy veldtog op Durban Shongweni teen Durban Collegians, die naaswenner van die Premierliga.

In die ander bepalings speel Highlanders teen Varsity College (Newcastle); Sentraal teen Warriors (Dundee), Vryheid teen Impi (Vryheid); Ballito teen Jaguars (Ballito); Richardsbaai teen Amanzimtoti (Richardsbaai); en Westville Old Boys teen Crusaders (WOB).

scwChristo Henderson, die hoofafrigter van South Coast Warriors, sê die sege teen Crusaders was die perfekte manier om die Premierliga af te sluit.

“Dit bied ons volop stukrag vir die reeks om die Murraybeker. Ons het vanjaar gebou en geleer, en die laaste deel van die seisoen mooi aan die gang gekom. Dis `n positiewe teken met die oog op 2017.”

Hendersen sê die Warriors se jong losskakel, Graham Hendriks, was uitmuntend en het die druk puik verwerk.

“Sy verdediging was rotsvas, sy aanval vernietigend en sy taktiese skopwerk was van die boonste rak. Kortom, hy het skitterend vertoon.”

Voor sonder hy die vaskopstut, Ben Oosthuizen, uit wat “soos altyd” puik geskrum het.

“Sy krag het Crusaders onder groot druk geplaas, as baldraer was hy van topgehalte en in dié rol het hy elke keer die voordeellyn oorgesteek. Hy is `n groot bate vir die span.”

Arnold Kruger, SCW se linkervleuel, het 23 punte met `n drie en ses strafdoele behaal. Gregory Claasen (heelagter) en Theo Nicholls (buitesenter) het elk `n drie gedruk.

Henderson sê die span moes vanjaar op en van die veld verskeie uitdagings die hoof bied, en daar was `n paar baie gelykop wedstryde, wat as sake anders verloop het, SCW tussen die Top5 kon geëindig het.

“Ons weet nou ons kan in die topliga meeding, maar harde werk wag voor aanstaande seisoen aanbreek. Ons moet week ná week konstant vertoon.

“Daar is baie talent aan die Suidkus en as ons dit in een klub kan saamsnoer, kan daardie klub ver vorder.”

Newcastle Highlanders - logoAs daar `n wedstryd was wat Boschpick Highlanders deur sy vingers laat glip het, was dit Saterdag teen die Jaguars in Newcastle, sê André Swanepoel, die klub se hoofafrigter.

“Jaguars het die wedstryd begin asof hulle Highlanders van die veld af gaan speel, en sommer vroeg 19-0 voorgeloop.

“Highlanders was in dié helfte vir sy eie ondergang verantwoorlik deurdat die een of ander speler nie minder nie as drie keer met `n oop doellyn voor die bal verloor of aangeslaan het.”

Die Durbanse span was rustyd 19-5 voor.

Swanepoel sê Highlanders het tydens die blaaskans as `n span besluit om die wedstryd te wen en die daad by die woord gevoeg deur binne tien minute drie goeie drieë te druk om 26-19 voor te loop. Ferrari Hadebe (linkervleuel) het nog `n drie misgeloop deur agter die hoekvlag uit te trap.

Die besoekers het die voortou met `n strafdoel en `n onverdoelde drie terruggeneem (27-26) en in die laaste vyf minute nog twee doele behaal om 41-26 te wen.

Hadebe het twee drieë vir Newcastle gedruk en Musa Shabalala (regtervleuel) een. `n Strafdrie is aan die span toegeken, en Alex Booyse (losskakel) het drie van die drieë verdoel.

Swanepoel sê Hadebe het opnuut bewys hy is opgewasse vir die liga, is `n sterk verdediger, en het haas ongelooflike vaart.

“Max Mkhezi het sy hart uitgespeel en was die agterspeler van die wedstryd.

“Voorlangs het Nico Jan Chowles (slot) die skoene van Robert Everson baie goed volgestaan en was hy die beste voorspeler.”

Swanepoel sê al was Newcastle laaste in die liga het die span steeds 32 drieë in 13 wedstryde gedruk.

“Ondanks beserings wat die span heeljaar geteister het, was daar nogtans Donderdag 55 spelers by die oefening.

“Die tweede span het al sy wedstryde in die tweede ronde gewen en was sewende; die derde span het sy liga gewen en speel in die uitklopreeks om die Findleybeker teen Queensburgh; en die o.20-span het nog drie wedstryde oor.”

Westville Old Boys teen Vryheid.

Westville Old Boys teen Vryheid.

Op Richardsbaai het Westville Old Boys II sy grootste prestasie dusver behaal deur Vryheid 49-10 om die Brian Irvinebeker te klop.

Johan Stander, WOB se voorsitter, sê `n byna stormsterk wind het gewaai en die wedstryd het gesukkel om vlam te vat.

“Selfs om saam met die wind te speel, was erger as wat WOB verwag het sodat `n klompie skoppe te ver getrek en regstreeks uit was.

“Uitgee was moeilik en spelers moes nader aan mekaar staan as met die wye spel wat WOB geniet om te speel.”

Stander sê `n strafdoel het Vryheid 3-0 laat voorloop en die vonk veskaf wat WOB aan die gang gekry het. `n Vinnige paar drieë het hom rustyd welverdiend 15-3 laat voorloop.

“Die span besef hy kan wen, het hy die tweede helfte met oorgawe aangepak. Puik hardlooprugby gepaard met briljante aangeewerk het WOB na willekeur deur Vryheid se verdediging laat sny.

wob“Die nuwe buitesenter Cornel Havemann was die katalisator, en die WOB-bank het nuwe energie verskaf en die skroewe stywer aangedraai.”

Stander sê die teruggekeerde losvoorspeler Ty Jackson het die bal op die voorvoet aan die skrumskakel, Shane Savage, besorg wat die magtige agterlyn meesterlik weggestuur het.

Andrew Hunt was die beste voorspeler en Pieter Mouton die beste agterspeler.

Stander sê dit was sy trotsste oomblik by die klub en hy kan nie wag nie om te sien wat WOB vorentoe kan vermag.

Havemann (twee), Mouton, Savage, Kyle Mudgway, Hunt, Jackson en Avian Broskie het WOB se agt drieë gedruk. Mouton het twee doelskoppe en `n strafdoel bygevoeg en Troy Meaker `n doelskop.

Ander uitslae –

Premierliga-Top5 Reserwes

Durban Collegians 24, College Rovers 6; Varsity College 38, UKZN Impi 19.

O.20A-liga

Durban Collegians 47, College Rovers 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.