KZN-liga: Newcastle verspeel beste wenkans

Die Newcastle Highlanders het Saterdag sy beste kans tot dusver op ʼn oorwinning in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga met duur foute verspeel.

Goeie nuus vir die span is egter dat sy kookwater-agsteman, Ruan Fourie, ingesluit is in die Sharks se o.19-groep vir die komende provinsiale reeks.

André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê sy span was bitter ongelukkig om nie minstens teen die UKZN Impi van Pietermaritzburg gelykop te speel nie.

“As Shane van Rooyen (heelagter) met die laaste doelskop geslaag het, kon dit darem gelykop geëindig het, maar die geluk was aan die Impi se kant en hy het met 24-22 gewen.

“Hulle kon selfs gewen het as die slot Nico-Jan Chowles nie die bal agter die doellyn verloor het nie,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Die Highlanders het ná 20 min reeds met 17-0 voorgeloop, en as Chowles sy “drie” gedruk het, sou dit binne die eerste 25 min 24-0 gewees het, maar in die Pemierliga moet alle kanse gebruik word as dit na ʼn mens se kant toe kom.

“Die studente het die Highlanders se foute begin uitbuit, en het gaan water gaan drink met die agterstand wat tot 12-17 gekrimp het.”

Swanepoel sê die Impi het pas ná rustyd nog ʼn fout van Newcastle uitgebuit om die telling gelykop te maak.

“Die telling het tot vier minute voor die einde onveranderd gebly, toe die Impi die wendrie gedruk en dit verdoel het.

Ongelukkig

“Met ʼn minuut oor het Highlanders self in die hoek gaan druk, maar ongelukkig was die skop mis.”

Hy sê albei spanne was bereid om die bal lug te gee, maar albei se afronding het hulle in die steek gelaat.

“Die Highlanders het die lynstane oorheers, waar die Impi aanvanklik goed geskrum het, maar die Highlanders ook hier die oorhand gekry het toe Zemmelle Ngobo vaskop gaan speel het.

“Mthoko Nkwayana (haker) was weereens woelig met Fourie wat in elke wedstryd goed vertoon.

“Wandile Sibiya (slot en kaptein) is vir sy leiding deur ʼn skitterende voorbeeld as die speler van die wedstryd aangewys.

Puik oorwinning

“Agterlangs het Bradley Swartbooi (losskakel), wat in die beseerde Wandile Nkosi se plek gespeel het, goed vertoon, met bestendige spel deur Ferrari Hadebe (linkervleuel).

Fourie (twee) en Swartbooi het die Highlanders se drieë gedruk. Van Rooyen het met ʼn strafdoel en twee doelskoppe geslaag.

Swanepoel sê Highlanders II het ʼn puik oorwinning van 36-7 oor Impi II behaal.

“Tussen die voorspelers het Taxi Ndlele (agsteman) goed gespeel, en agter het die losskakel Janri Barnard die oog gevang.”

Die Highlanders speel Saterdag tuis teen Empangeni se Zululand Rhinos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.