KZN-liga: Newcastle-vonds blink in nederlaag

Newcastle Highlanders - logoSaam-saam met die beseringspook wat Newcastle Highlanders ry, was daar Saterdag ook die vreugde van `n nuwe vonds op die linkervleuel.

André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, sê Riekus Botha het die oog gevang met sy ongelooflike vaart en vaardighede in die wedstryd teen die Zululand Rhinos.

Hy het `n skitterende drie gedruk ná hy goed 50 m ver genael het, en is Dinsdag na die Sharks se o.19-oefening genooi.

Die Highlanders se seisoen wil maar eenvoudig nie aan die gang kom nie en die span het Saterdag sy derde opeenvolgende nederlaag in die KwaZulu-Natalse Premierliga op die lyf geloop toe Zululand Rhinos van Empangeni hom 38-10 geklop het.

Newcastle word buitengewoon erg deur beserings gepla en Swanepoel sê van verlede jaar se glansagterlyn is nog net die skrumskakel, Simphewe Zulu, by die klub oor.

Voor het die span Innus Visser (flank) Alister Keet (flank), Drikus Fourie (stut), Jaco Botha (haker) en Pieter Keeve (haker) vir die duur van die seisoen as gevolg van beserings of werkverpligtinge verloor.

Op die koop toe is die veteraanslot Robert Everson en die instaanlosskakel Bradley Swartbooi nie beskikbaar vir die naweek se wedstryd teen Northwood Crusaders nie. Nes die Highlanders het Crusaders ook nog nie vanjaar `n wedstryd gewen nie.

“Ons delf nou diep en ons reserwekrag word kwaai getoets,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Swanepoel sê die span se afronding en skopwerk het steeds teen die Rhinos gelol en die Highlanders punte gekos.

“Ons vaar baie goed in die vaste fasette, maar ons sterkpunt van die verlede, ons agterlyn, laat ons in die steek. Hulle het nog glad nie gespeel soos ons wil en kan nie.”

Die o.20-span speel ook in Durban teen Harlequins, en die derde span tuis teen die Bergville Zebras.

Highlanders het darem ook die goeie nuus gekry dat die Springbok Willie le Roux deur die Sharks aan die klub toegewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.