KZN-liga: Newcastle wen eerste; groentjie wéér

Newcastle Highlanders het Saterdag sy eerste oorwinning vanjaar in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga behaal; en die nuweling in die liga, Richardsbaai, het nóg ʼn slag een van die ouer ingesetenes laat tuimel.

Highlanders het South Coast Warriors (SCW) van Uvongo in ʼn naelbytstryd met 31-29 getroef; en Richardsbaai het ʼn wegholoorwinning van 50-7 oor Jaguars van Sydenham behaal, nadat hy vroeër ook met Varsity College (VC) afgereken het.

In die ander Premierligawedstryde om die Moorbeker het die Murraybekerhouer, Durban Collegians, vir UKZN Impi met 77-21 oorrompel; Crusaders van Northwood het Empangeni se Zululand Rhinos oortuigend met 50-25 ondergesit; en Amanzimtoti het met 6-0 teen VC gewen.

In die Eerste Liga storm die onoorwonne Westville Old Boys (WOB) steeds voort, en was Ballito Dolphins dié keer aan die ontvangkant van ʼn 43-0-WOB-sege.

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, laat weet sy span moes ʼn rustydagterstand van 14-17 omkeer om uiteindelik ʼn bonuspuntsege van 31-29 teen SCW aan te teken.

“Nader as wat Saterdag gebeur het, kan ʼn mens nie kry nie,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Oorwinnaars

“In die 80ste minuut het Warriors ʼn strafskop op Highlanders se kwartlyn gekry, só 10 m van die kantlyn af, en die betroubare Jacques Petzer-Moore (losskakel) het die bal teen die linkerkantse regoppaal vasgeskop.

“Highlanders het die bal uitgeskop, en as oorwinnaars van die veld gestap.”

Swanepoel sê Highlanders het vyf drieë teen vier gedruk, maar swak skopwerk pale toe het die span amper die wedstryd gekos. Tussen drie skoppers is 16 punte in die water gegooi.

“Die wedstryd het regdeur baie gelykop verloop, met die spanne wat gereeld die voortou verwissel het.

Teruggeslaan

“Highlanders het ná ʼn goeie agterlynbeweging die eerste drie gedruk, en Kyle Greeves (binnesenter) het die telling 7-0 gemaak.

“Warriors het vining teruggeslaan (7-7), voordat Newcastle se Lwazi Mthembu (skrumskakel) pragtig van ʼn losskrum af gebreek en goed 40 m genael het om te druk (14-7).”

Hy sê Warriors het weereens vining teruggeslaan om dit 14-14 te maak. Net voor rustyd het Petzer-Moore met ʼn strafdoel geslaag, en die manne het gaan water drink met die telling 17-14 in SCW se guns

“Ná rustyd het Highlanders ʼn bietjie van taktiek verander, en die opskietverdediging van Warriors met skoppe in die kassie laat omdraai.

Ferrari-vaart

“Ferrari Hadebe (regtervleuel) het ʼn pragdrie gedruk, nadat Piglet Zulu (plaasvervanger) ʼn goeie skop aan die steelkant oor die koppe gelos het, en Hadebe se vaart eenvoudig te veel vir die verdedigers was. Hy het die bal in die doelgebied toegeval (21-22).

Swanepoel sê Musa Shabalala (buitesenter) het seker die mooiste drie van die dag gedruk.

“Wandile Nkosi, wat van heelagter af losskakel toe geskuif het, het ʼn halwe gaping geslaan, en Shabalala het ʼn baie goeie lyn gehardloop om te gaan druk (26-22).

“Warriors het weereens teruggeslaan, en ʼn verdoelde drie gedruk om met 29-26 voor te loop.”

Voortgebeur

Swanepoel sê Newcastle het in die volgende 10 min drie strafskoppe verbrou, en met sewe minute oor het Frikkie Hendricks (plaasvervanger-stut) ʼn goeie 10 m ver voortgebeur om die wendrie te gaan druk.

“Highlanders het met Nico-Jan Chowles (slot) baie goed op hul eie balle in die lynstane gevaar, en SCW op húl bal onder druk geplaas. Bigbox Nxumalo (agsteman) het voor in die lynstaan ʼn paar balle by Warriors afgeneem.

“Laasgenoemde het Highlanders nou en dan met hul swaar agttal in die skrums onder druk geplaas.

“Tussen Newcastle se voorsplers het Mthoko Nkwanyana (haker) opnuut die oog gevang, maar die kaptein, Wandile Sibiya (slot), was die speler van die wedstryd.”

Aan die raai

Swanepoel sê agterlangs het Hadebe ʼn welkome terugkeer gemaak; die nuwe senterpaar Greeves en Shabalala het goed gespeel; en Nkosi het, toe hy losskakel toe geskuif het, sy agterlyn seepglad weggekry en die verdediging aan die raai gehou.

“Die spelers was verstaanbaar baie verheug oor die oorwinning. Ons het Dinsdag ʼn vergadering gehou en oor die pad vorentoe besluit. Gelukkig het ons die sege behaal, wat die spelers se positiewe ingesteldheid ʼn hupstoot sal gee.”

Highlanders II het ʼn goeie oorwinning van 38-3 oor SCW II behaal.

Swanepoel sê die span moet die eerskomende twee naweke Durban toe om teen Rovers en Jaguars kragte te meet, daarna volg drie tuiswedstryde teen UKZN Impi, Rhinos en Richardsbaai.

♦ Declan Braithwaite, die spelersverteenwoordiger van WOB, sê die tweede geplaasde span op die Eersteligapunteleer het op sy tuisveld fase op fase foutlose spel aaneengeflans om Ballito se verdediging skots en skeef te laat lê.

“Die tempo waarteen die wedstryd gespeel is, was haas ongelooflik, en die trefkrag by die inslaanpunte was ontsaglik.

“Gepaardgaande met onwankelbare verdediging het dit die tuisspan gehelp om Ballito met 43-0 te verpletter.”

Braithwaite berig die onstuitbare skrumskakel Gerard Cleland is as die agterspeler van die wedstryd aangewys, en die tweekuns-haker Oliver Cash as die beste voorspeler.

“Die afrigters het laat val dat harde werk dié week wag om ʼn klompie geringer probleme glad te stryk en ʼn volgehoue 80 minute te speel, nadat daar weer ʼn paar slaptes teen Ballito ingetree het.”

Cash (twee), Mike van Rensburg, Tyron Tarpey, Cleland, Keegan Paverd en Braam Mouton het WOB se drieë gedruk, en Matthew Larkins het vier verdoel.

Mooiste denkbaar

Braithwaite sê die eerste kwart van die tweedespanbotsing het van die mooiste hardlooprugby denkbaar opgelewer, maar daarna het Ballito daarin geslaag om die pas te vertraag.

“Dit het saamgeval met die verlies van die dienswillige agsteman JJ van de Burgh, wat sy kakebeen met ʼn duikslag gebreek het.

“Nog ʼn paar beserings aan albei kante het die aanvanklike vloei van die wedstryd gesmoor.”

WOB het uiteindelik met 36-5 gewen.

Eerste in vyf

Hy swaai Ballito lof toe dat hy die eerste span in vyf kragmetings was wat WOB II se doellyn kon oorsteek.

Mikey Ellion (haker), het soos sy eweknie in die eerste span twee drieë gedruk, en is as die beste voorspeler bekroon. Die nuweling Tylan Cohan was die agterspeler van die wedstryd.

Ellion (twee), Barrett Chiocchetti, Cameron Chiocchetti en Warrick McIntosh het die tweede span se drieë gedruk. Shane Savage (twee) en Cameron Chiochetti het met doelskoppe geslaag.

Onoorwonne

WOB III het sy onoorwonne lopie Donderdag voortgesit deur met 45-5 teen Ogwini Bafana te wen.

Wandz Gqamane en Shauny Schuit was onderskeidelik die beste voor- en agterspeler.

Gqamane (drie), Lunga Ninela, Karl Albers, Jordache Kirsten en Brandon Hart het WOB III se drieë gedruk, en Schuit het vyf daarvan verdoel.

WOB speel Saterdag op sy tuisveld in die sogenaamde “snelwegderby” teen die ligavoorloper, Hillcrest Villagers. Die wedstryde begin 14:00 en 15:30.

WOB III is 19:00 Vrydag die gasheer vir Crusaders III.

Ander uitslae –

Premierreserweliga (Wyliebeker)

Collegians 67, Impi 7; Toto 20, VC 10; Crusaders 73, Rhinos 0.

Eerste Liga

Durban Mets 38, Pietermaritzburg Collegians 20.

(Die Eersteligawedstryde tussen Harlequins en Queensburgh op die Bluff is uitgestel.)

Eerste Liga Reserwes

PMB Collegians 15, Mets 14.

Derde Liga (Walkerbeker)

College Rovers 55, DBN Collegians 6.

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

UKZN 23, Crusaders 5; Jaguars 24, SCW 17; VC 15, DBN Collegians 12.

Onder 20B-liga (Kingsparkbeker)

DBN Collegians 8, VC 5; Crusaders 40, Rhinos 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.