KZN-liga: oorsese rugby fnuik Impi in Moorbeker

zululand rhinosUitgebreide rugbyverpligtinge oorsee het UKZN Impi Saterdag verplig om punte in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Premierliga (Moorbeker) te gee.

Elf van die Impi-spelers was betrokke by die kwalifiserende ronde vir die Olimpiese Spele se sewesrugby in Monte Carlo, Monaco, en by die Wêreldklub se tienmantoernooi in Mauritius. Om sout in die wonde te vryf, was ses van die klub se stutte nie beskikbaar nie.

Hy is gevolglik genoodsaak om punte teen SA Home Loans Durban Collegians te gee.

In die enigste Moorbeker-wedstryd wat Saterdag beslis is, het Amanzimtoti 22-14 teen Varsity College gewen.

In die Onderste 5 van die Premierliga, waar die Dewarskild vanjaar op die spel is, het albei besoekende spanne gewen.

Northwood Crusaders het Boschpick Newcastle Highlanders 38-26 op Arborpark, Newcastle, geklop; en Mancosa Zululand Rhinos het 52-36 teen South Coast Warriors op die Douglas Mitchell-sportterrein, Uvongo, gewen.

Simon Harvey, die president van die Rhinos, sê die voorspelers het die grondslag vir `n grootse veelsydige vertoning deur die span gelê.

Michael Neysschens (skrumskakel), Diederik Venter (vleuel), Carel Swart (senter, twee), Thulani Mdluli (vleuel), Blessing Ndlozi (flank), Nigel Nel (stut) en Wouter Vermaak (haker) het die Zoeloelanders se drieë gedruk. Die senter en kaptein, Dean Moolman, het ses daarvan verdoel.

Die Warriors se tweede span het 40-21 gewen.

Die span van Empangeni speel komende Saterdag in Northwood teen Crusaders.

scwChristo Henderson, South Coast Warriors se hoofafrigter, sê sy span het gesukkel om aan die gang te kom en was 22 punte agter voor hulle begin rugby speel het. Die rustydtelling was 17-0 in die besoekers se guns.

Foute is genadeloos deur die besoekers uitgebuit en het die Warriors duur te staan gekom, sê hy.

Brendon Rademeyer (flank), Juan van den Berg (agsteman en kaptein), Karel van Rooyen (slot), Juandré Koekemoer (haker) en Dylan Rust (plaasvervanger-skrumskakel, twee) het SCW se drieë gedruk. Tienie Viljoen (regtervleuel) het drie doelskoppe behaal.

Henderson sê Mitchell was die tuisspan se beste agterspeler, maar hy is met `n skouerbesering van die veld af. Hy het stewig verdedig, goed met Van den Berg geskakel en die agterlyn seepglad weggekry.

Die voorspelers het oor die algemeen goed gevaar, en veral Van den Berg was uitmuntend met die bal in die hande, gevaarlik op die aanval en sy sterk skrumwerk is onontbeerlik. Hy het `n hand in twee van die drieë gehad.

Theo Nichols het `n sterk impak van die bank af gemaak; die Wildebeeste se uitblinker-stut Ben Oosthuizen, wat terug by die Warriors is, se lopies was indrukwekkend; en Dawie Durrheim het goed vertoon met sy terugkeer na die opdrafspan.

Die Warriors speel Saterdag in Durban teen die Jaguars.

Newcastle Highlanders - logoCrusaders en Highlanders se voorwedstryd vir die Curriebeker-opstelstryd tussen die Sharks-vyftiental en die Pumas is voor `n volgepakte stadion gespeel.

André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, sê sy span het weereens vier goeie drieë gedruk.

“Met die aanval skort daar dus niks nie, dis sy verdediging wat die span in die steek laat weens die foute wat gemaak word.”

Hy sê Anton Pitout is `n baie goeie verdedigingsafrigter en sy vertrek het `n leemte by die klub gelaat.

Swanepoel slaak `n sug van verligting dat daar dié keer geen beserings was nie nadat die span dusver erg daardeur gery is.

“Highlanders het van die afskop af `n goeie vyf minute lank op Crusaders se doellyn geboer, en toe die eerste fout kom, het Crusaders uit sy kwartgebied gaan druk. Powere verdediging, veral teen die buitesenter, Oliver Humphries, het Crusaders rustyd 24-5 laat voorloop.

“Ná die blaaskans het die Highlanders skouspelagtige rugby gespeel en drie mooi drieë gedruk.

“Ferrari Hadebe (linkervleuel) se drie ná `n volle agterlynbeweging sal lank onthou word. Hy het sy man geklop en eenvoudig met sy vaart  50 m onder sy teenstanders uitgenael.”

Swanepoel sê met die telling 31-26 was daar `n paar benoude oomblikke vir Crusaders.

“Was dit nie vir die regtervleuel, Selwin White, nie, was daar perde. Hy het by drie geleenthede teruggeval nadat die Highlanders die bal in niemandsland in geskop het, en elke keer net-net sy neus voor `n Highlanders-speler gekry om die bal uit te skop of dood te druk.”
Tussen die voorspelers het Robert Everson (slot) en die kaptein, Errit Visser (agsteman) die oog gevang. Die Higlanders gaan hom gewis aanstaande seisoen mis wanneer hy na die Verenigde Arabiese Emirate (VAR) emigreer, sê Swanepoel.

Agterlangs was Hadebe en Shimpewe Zulu (skrumskakel) puik.

“Die ander spelers kan by die klein skrumskakel gaan kers opsteek. Hy het die hart van `n leeu en woeker op die aanval en sowel as die verdedeging.”

Swanepoel sê albei spanne het opwindende rugby gespeel, maar Crusaders het sy kanse beter benut. Hy glo baie toeskouers wat nie van die Highlanders se vermoë en speelstyl bewus was nie, sal hierna meer klubrugby gaan kyk.

Visser (agsteman), Wandile Sibiya (slot), Zulu, en Hadebe het die Highlanders se drieë gedruk, en Alex Booysen (losskakel) het drie verdoel.

Highlanders se tweede span vaar ook baie goed en het Saterdag die voorloper in die Onderste 5, Crusaders, 44-40 geklop nadat die tuisspan rustyd 5-19 agter was.

Swanepoel sê die Highlanders het in die tweede helfte skitterend teruggeveg en op die ou end gewen.

“Met sy vyfde sege van die seisoen het die span bewys Highlanders kan wel in dié liga meeding.”

noord-natalPeet van der Merwe, die voorsitter van die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNRSU) is in sy noppies met die subunie se suksesvolle aanbieding van die Curriebekerwedstryd en mik nou na een van die Superugby-oefenwedstryde in 2017.

Benewens die Curriebeker en twee ligawedstryde het die Noord-Natalse hoër skole se o.19-span wat aan die VKB-week op Reitz gaan deelneem teen `n jongspan van die Highlanders gespeel. Skolespanne wat op streekgrondslag gekies word, ding die afgelope 20 jaar op die toernooi in die Vrystaat mee.

Twee o.17-ontwikkelingspanne het die program op Newcastle voltooi.

KZN o.20-rugby

Wat die bond se o.20-uitklopreekse betref, het Durban Collegians die Basil Medwaybeker (A-afdeling) en Varsity College die DW Geddesbeker (B-afdeling) gewen.

Collegians A het Varsity College A 84-3 oorrompel, en Varsity College B het op sy beurt Collegians B 24-3 geklop.

Ander uitslae –

Premierliga Reserwes Top5 (Wyliebeker)

Durban Collegians kry punte van UKZN Impi; Amanzimtoti 36, Varsity College 29.

Eerste Liga (Suid)

Westville Old Boys (WOB) 57, Pietermaritzburg Collegians 5; Hillcrest Villagers 51, Harlequins 19; Ballito Dolphins 31, Durban Mets 10.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

Richardsbaai 49, UKZN Durban 0; Westville 39, Maritzburg Collegians 5; Hillcrest 26, Harlequins 12; Ballito Dolphins 19, Durban Mets 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.