KZN-liga: Richardsbaai, Hillcrest hou sleutel

hillcrestnewDie twee voorste spanne in die KwaZulu-Natalse Eerste Liga (Suid), Richardsbaai en Hillcrest, spring Saterdag in `n sleutelstryd in die aanmekaar nadat albei die afgelope naweek wegholoorwinnings behaal het.

Op die Bluff in Durban het die voorloper, Richardsbaai, vir Harlequins 41-3 oorrompel; en Hillcrest het op Durban Shongweni 47-7 klaargespeel met Ballito Dolphins, wat so erg deur beserings gery word dat hy nie `n tweede span in die veld kon stoot nie.

Nic Tyler, `n woordvoerder van Land Rover Durban Hillcrest Villagers, berig die tuispan het vroeg-vroeg `n doel aangeteken en die besoekers die grootste deel van die eerste helfte in `n blik gedruk.

“Ballito se begeesterde verdediging en goed uitgevoerde aanvalle het Hillcrest se waaksaamheid opgeskerp, maar eersgenoemde kon nie druk in punte omskep nie.

Villagers het op sy beurt nog drie keer die doellyn oorgesteek om `n bonuspunt te verseker en die rustydtelling 26-0 te maak.”

Tyler sê Ballito het in die tweede helfte eerste bloed geruik met `n puik drie wat in Hillcrest se 22-gebied begin is.

“Villagers het egter vinnig met drie drieë teruggeslaan en ondanks die trots en hardnekkigheid waarmee Ballito gespeel het, was Hillcrest op die ou end eenvoudig te sterk.”

Newcastle III - die Noord-Natalse kampioen.

Newcastle III – die Noord-Natalse kampioen.

Newcastle bo in Noord-KZN se Derde

Boschpick Newcastle Highlanders III het Saterdag op Vryheid Derde Liga van die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie se Derde Liga gewen deur Ladysmith United I 43-17 te troef. Hy kom daardeur in aanmerking om met die ander subunies se Derde Liga-wenners aan die uitklopreeks om die Findleybeker deel te neem.

André Swanepoel, die klub se hoofafrigter, laat weet die eerste 20 minute was `n titaniese, puntelose stryd.

“Highlanders het twee keer in die rondomtalie teen United verloor en aanvanklik weer gesukkel, maar het die houvas afgeskud en 17-0 voorgeloop. Nog 24 punte in die tweede helfte het die span maklik 43-17 laat wen.”

Swanepoel sê die oud-Zimbabwiër Percyville Kwenda (buitesenter) het weereens die teenstanders laat bontstaan het, en het sy driekuns in die halfeindstryd met `n verdere driekuns in die eindstryd opgevolg het.

“Wandli Nkosi (losskakel) het sy agterlyn mooi aan die gaan gekry en self `n netjiese drie gaan druk. Sy terugkeer ná twee maande in Kaapstad gaan meer slaankrag aan Highlanders se hoër spanne verleen. Hy het immers voor sy vertrek daar gespeel.

“Zipho Phakathi (regtervleuel) het beïndruk met sy vaart en eweneens `n drie gedruk.

“Voorlangs het Junior Barnard (flank) `n baie goeie wedstryd gehad. Hy is veral in die skrums en puik lynstane goed deur die ander voorspelers ondersteun.”

Barnard, wat die span se ander drie gedruk het, was die voorspeler van die wedstryd en Kwenda die agterspeler.

Morné Hattingh (skrumskakel) het vyf drieë verdoel en met `n strafdoel geslaag.

“Wat die oorwinning vir ons so merkwaardig maak, is dat ons in dié liga teen ander klubs se eerste spanne speel omdat ons eerste, tweede en o.20-span in die bond se Premierliga speel.

“Die wen van die beker bewys dat die klub oor die talent beskik wat volop belofte vir die toekoms van die klub inhou,” het Swanepoel aan Pale Toe! gesê.

Ander uitslae –

Premierliga-Top5 (Moorbeker)

College Rovers 41, UKZN Impi 17.

Premierliga Reserwes-Top5 (Wyliebeker)

College Rovers 111, UKZN Impi 0.

Eerste Liga (Suid)

UKZN Durban gee punte teen Pietermaritzburg Collegians; Westville 52, Durban Mets 6.

Eerste Liga Reserwes (Suid)

UKZN Durban gee punte teen Pietermaritzburg Collegians; Westville 34, Durban Mets 3; Richardsbaai 35, Harlequins 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.