KZN-liga: rooi kaart kelder kampioen teen Toti

amanzimtoti`n Rooi kaart het die KwaZulu-Natalse Moorligakampioen, Durban Collegians, Vrydag duur te staan gekom in die eerste ronde van die Flya-uitkloptoernooi by Crusaders in Northwood, Durban.

Jos Robson, die KZN-rugbyunie (KZNRU) se klubskakelman, berig Collegians was 20-6 voor teen Amanzimtoti toe een van sy spelers se wedstryd met `n rooi kaart kortgeknip is.

Toti het die geleentheid ten volle benut en 20 punte ingeryg om 26-20 te wen.

College Rovers het `n wegholsege oor die gasheer, Crusaders, behaal; Jaguars het Varsity College 13-12 geklop; en Harlequins moes hard spook om Ballito Dolphins 10-0 te klop.

♦ Die eindstryde vind Donderdag op Crusaders se veld plaas.

Rovers pak Toti in die A-eindstryd, met Collegians en Crusaders wat sake om die derde plek uitspook.

In die B-eindstryd speel Jaguars teen Quins, en Varsity College speel teen Dolphins om die derde plek in dié afdeling.

Newcastle Highlanders - logo♦ Twee spanne van Boschpick Newcastle Highlanders het hul rieme Saterdag in Richardsbaai teen die tuisspan styfgeloop, maar André Swanepoel, die hoofafrigter van Highlanders, bekommer hom nie veel daaroor nie.

“Dit was langnaweek en ons het die beskikbare spelers uit die klub se vier spanne gevat en twee spanne gekies. Die verblydende ding is dat 40 spelers bereid was om in die langnaweek 350 km weg van die huis af te gaan speel.

“Om beserings- en ander redes was net vyf van die eerstespanspelers beskikbaar. Dit neem egter niks weg van Richardsbaai se prestasie nie. Hulle het `n paar goeie drieë gedruk.”

Swanepoel sê Highlanders was nooit in die wedstryd nie en die telling was rustyd reeds 25-5. Richardsbaai het in die tweede helfte nog 20 punte aangeteken en Highlanders sewe om die telling 45-12 te maak.

“Daar is twee positiewe aspekte: ons dissipline was goed, en ons het gaan rugby speel al was ons sterkste spanne nie beskikbaar nie.”

♦ Highlanders se liga skop op 2 April af teen Jaguars in Durban, die wenner verlede jaar van die KZNRU se Eerste Liga, wat eweneens vanjaar tot die Premierliga bevorder is.

Newcastle se derde span speel teen Utrecht in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie se liga.

♦ Die klub het Donderdag `n suksesvolle netwerkaand met die plaaslike sakekamer gehad, wat deur 106 mense (sakeondernemings) bygewoon is.

Die gasspreker was Graham Mackenzie, die president van die KZNRU.

Swanepoel sê daar is goeie bande gesmee en die klub vertrou daar sal goeie borgskappe en ondersteuning uit die verrigtinge voortspruit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.