KZN-liga: Rovers beloof skouspel op rugbyveld

college roversVrypostige voorspellings wil hy nie waag nie, maar een ding is seker, die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Murraybeker-kampioen is vanjaar verbind tot skouspelagtige rugby.

Só het Your Communications College Rovers van Durban se hoofafrigter, Derek Heiberg, aan Pale Toe! gesê.

Rovers het einde verlede seisoen die KwaZulu-Natalse uitklopreeks gewen, nadat hy in die bond se Premierliga tweede ná Durban Collegians was.

Heiberg sê dis die klub se beleid dat elke speler, ongeag sy posisie, die vlak van vaardigheid en kondisionering moet bemeester wat hom in staat stel om die spel in die hoogste tempo te speel.

“Ons wil die spelstyl wat einde 2015 so suksesvol geblyk het verder verfyn … ons wil vermaak, drieë druk en `n kenmerkende spelstyl vestig waarvoor Rovers bekend is.”

Hy sê daar is dusver, benewens kondisionering, baie groot klem op vaardighede gelê.

Die klub het 11 Januarie begin oefen en hy is ingenome met die vordering wat dusver gemaak is.

Heiberg sê Rovers het `n klompie goeie spelers einde 2015 verloor. Wade Elliott and Matt Jones is Collegians toe. Simba Bwanya emigreer Australië toe, en Dusty Noble het uitgetree en rig nou by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) af.

Die nuwelinge Ian Adendorf, Brandon Bailing, Cameron Dunlop, Mark Richards en Tython Adams het almal provinsiale ervaring op die een of ander vlak en Heiberg sien uit na die bydrae wat hulle tot Rovers kan lewer.

Voorseisoens speel Rovers in wat Heiberg proefwedstryde noem teen Crusaders (19 Februarie) en Amanzamtoti (27 Februarie). Dan volg `n vriendskaplike wedstryd 4 Maart teen Jaguars, een van die drie nuwelinge in die Premierliga, voor die jaarlikse Flya-toernooi 18 tot 24 Maart by Crusaders.

Newcastle Highlanders - logoHighlanders: o.20s lok talle nuwes

♦ André Swanepoel, die hoofafrigter van Boschpick Newcastle Highlanders, is in sy noppies met die sukses wat dié nuwe Premierligaklub se werwing van o.20-spelers opgelewer het.

“Ons het `n grootse poging aangewend om `n o.20-span op die been te kry om vanjaar in die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se B-liga te speel.

“Ná besoeke aan skole, kolleges en `n veldtog in die sosiale media het 25 spelers opgedaag. Heelwat van hulle het die afgelope twee jaar vir hul skole se eerste span gespeel en nou klub toe gekom toe hulle van die o.20-span verneem.”

Highlanders se proewe vind Vrydag 19 Februarie op Arborpark plaas. Die o.20s skop 18:00 af en die seniors 19:00.

Swanepoel sê hy is heel tevrede met die getal spelers (73) wat al die oefeninge bygewoon het.

“Ons het net twee van verlede jaar se eerstespanspelers verloor, maar heelwat nuwe gesigte het by die klub aangesluit.”

Highlanders speel elke naweek van 27 Februarie tot 18 Maart `n vriendskaplike wedstryd voor die Premierliga met `n rugbydag op Kingspark afskop.

Die klub sal behalwe in die Premierliga ook in die Premierliga se Reserwe-afdeling en die bond se o.20B-reeks speel. Die derde span speel in Noord-Natal se Derde Liga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.